Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 7th December 2023

Karoolam kry nuwe status

By 7 min read
1267 words

Karoolam 2

Karoolam sal voortaan beskermde status geniet nadat dit deur die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling as geografiese indikator (GI) geregistreer is. In Suid-Afrika geniet rooibos reeds hierdie status.

Dit beteken dat boere wat hulle skaap- of lamsvleis as Karoolam wil bemark aan ՚n stel reëls moet voldoen en dat die skaap- of lamsvleis in ՚n spesifieke gebied geproduseer moet wees. Dit beteken ook dat die Karoolam as produk beskerm word teen die lukrake gebruik van die handelsnaam vir skaap- of lamsvleis wat nie in hierdie goedgekeurde gebiede geproduseer is nie, of wanneer die beskrywing, Karoolam, in bemarking en op spyskaarte gebruik word.

Die Karoolam-konsortium werk sedert 2011 aan die proses om die naam’ Karoolam, te beskerm. Dit was ՚n lang proses om die regulasies in Suid-Afrika vir die beskerming en registrasie van ՚n GI te vestig en af te handel.

Volgens Charles Erasmus, uitvoerende bestuurder van die Karoo-lam Konsortium, is die GI-konsep nog baie nuut in Suid-Afrika en dit het “baie bloed en sweet” gekos om die proses af te handel en by die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling te registreer. Dié GIsertifikasie geld tans net in Suid-Afrika.

Volgens Charles is die volgende stap om dit internasionaal by die Europese Unie te registreer, maar in hierdie stadium voldoen Suid-Afrika nie aan veeartsenykundige standaarde, soos die suksesvolle bekamping of voorkoming van die verspreiding van bek-en-klouseer nie.

Die GI-sertifisering van Rooibos in die EU was makliker omdat daar reeds markte in die buiteland gevestig was. Dit was reeds in die breër internasionale mark bekend en uitgevoer. Volgens Charles is die registrasie van die lam heelwat moeiliker omdat die meeste lande streng gesondheidsgerigte invoerregulasies het.

Hierdie regulasies was nodig as deel van die Suid-Afrika-Europese Unie se vryehandelsooreenkoms om Europese name van oorsprong, soos onder meer Parmaham en sjampanje, namens die Europese Unie hier te beskerm.

Die regulasies beteken iemand wat die handelsnaam Karoolam wil gebruik se produk moet voldoen aan die vereistes van die definisie van ՚n Karoolam. Dit sluit in dat die produsent moet kan bewys sy lam is in die Karoo geproduseer en nie uit ՚n voerkraal bemark nie. Die vleis se oorsprong moet naspeurbaar wees en goeie higiëne moet in die produksie- en verwerkingsproses gehandhaaf word om die produk se eienskappe en goeie naam te beskerm.

Die unieke maniere waarop Karoolam geproduseer word dra by tot die hoë gehalte en standaarde waaraan dit gemeet word.

Voerproewe

Die proses om die naam geregistreer te kry het onder meer voerproewe, ontledings deur die Landbounavorsingsraad (LNR) en gas- en sensoriese profiele deur ՚n chemikus ingesluit, asook die identifisering van sekere plantegroei en die afbakening van sekere distrikte waar dit voorkom deur ՚n botanikus.

Die weiding bepaal die eienskappe van die vleis: Karoolam ruik en smaak na tipiese Karoobossies en dit is eienskappe wat nie uit ՚n voerkraal kom nie.

Geografiese gebied

Karoolam as produk het ՚n noue skakel met die gebiede van die Nama-Karoo en ՚n deel van die Sukkulente-Karoo waar die skape sekere plante vreet wat die kenmerkende smaak daaraan verleen.

Die Karoo beslaan ՚n droë, halfwoestyngebied van sowat 400 000 km2 (19,33 miljoen hektaar) met ՚n lae reënval en baie min oppervlakwater.

Die A-sone sluit streke soos onder meer Carnarvon, Williston en BeaufortWes in, terwyl die B-sone die streke van onder meer Calvinia, Kenhardt en Colesberg insluit. Volgens Charles sal skaapboere wat in die B-sone val bykomende oudits nodig hê.

As boere hulle skaap- en lamsvleis as Karoolam wil bemark moet die vee in ՚n spesifieke goedgekeurde gebied aangehou word.

Karoobossies is die sleutel

”Om erken te word, moet die tipiese natuurlike plantegroei van die NamaKaroo- en Sukkulente Karoo-biome van die Groot Karoo op die plaas waaruit die Karoolam verkry word teenwoordig wees,” sê dr Dirk Troskie, direkteur van Besigheidsbeplanning en Strategie by die Wes-Kaapse Departement van Landbou in ՚n verklaring wat deur die Wes-Kaapse minister van Landbou uitgereik is.

Die plante sluit tipiese karoobossies soos silwerkaroo, skaapbossie, blesbokkaroo, kapokbossie en perdebos in. Dirk beklemtoon dat die kombinasie van die Karoo se reënvalpatrone, strawwe klimaat en unieke plantegroei ՚n invloed op lam- en skaapvleis het en maklik onderskeibare sensoriese eienskappe daaraan verleen.

“Skape wat op plase in die Karoostreek op natuurlike weiding grootgemaak word kwalifiseer as Karoolam. Bewys van oorsprong van die diere moet deur die naspeurbaarheidstelsel van die kwalifiserende abattoirs verskaf word. Dit sal bevestig dat alle diere wat deur die geregistreerde en genoteerde eienaars gelewer word wel afkomstig is van plase in die gedefinieerde Karoostreek.”

Volgens Charles kan enige skaapras wat in die Karooveld wei as Karoolam kwalifiseer. Vleisrasse soos dorpers is ideaal, maar baie van Karoolamkonsortium se lede boer met merino’s, wat nie aan al die vereistes, soos voldoende vetinhoud, voldoen nie.

“Hierdie boere kan onder ons sambreel hulle Karoolam laat sertifiseer. Diegene wat nou verkeerdelik Karoolam bemark sal eerder die naam moet verander na ‘vrylopende lam’, want hulle gaan beslis nie meer wegkom met die benaming Karoolam nie.”

Die weiding bepaal die eienskappe van die vleis: Karoolam ruik en smaak na tipiese Karoobossies en dit is eienskappe wat nie uit ՚n voerkraal kom nie.

Hoër pryse

Streke soos Beaufort-Wes, Laingsburg en Prins Albert wat binne die gebied val sal dus baat vind by die registrasie.

Joseph Steyn, ՚n boer van Laingsburg, hoop die sertifiserings sal boere ՚n paar rand ekstra in die sak bring. “Ek dink ons gaan dalk ՚n rand meer per kg kry, maar ons weet nog glad nie hoe dit gaan werk nie.”

Lukas Botes van die Koup in die Laingsburg-distrik sê hy sal sy skape laat sertifiseer, mits daar geakkrediteerde abattoirs op die dorpe naaste aan die plaas is. Volgens Lukas is dit tans nie die geval nie.

“Die idee is fantasties en ons is opgewonde dat Karoolam nou geregistreer is en ons sal die opsie om ons lam te sertifiseer oorweeg,” sê Francois van Wyk van Calvinia in die HantamKaroo. Francois het reeds in 2016 die gedagte uitgespreek dat skape wat in die Hantam se unieke bossiesveld geproduseer word as Hantamlam bemark behoort te word.

“Die Hantamlam is spesiaal omdat dit ՚n eiesoortige geur het weens die bossieveld van die winterreënvalstreek,” sê Francois. Dit is ՚n eksotiese produk en behoort eintlik die snobkurwe te volg.” Die streek se vleis, wol en toerisme word tydens die jaarlikse Hantam-vleisfees op Calvinia bekend gestel.

Die A-sone sluit streke soos onder meer Carnarvon, Williston en BeaufortWes in, terwyl die B-sone die streke van onder meer Calvinia, Kenhardt en Colesberg insluit.

Werkskepping

Dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van Landbou, sê in die verklaring: “Ons vier die feit dat Karoolam die eerste Suid-Afrikaanse produk is wat ingevolge die Wet op Landbouproduktestandaarde as ‘n GI geregistreer is.

“As gevolg hiervan word die afgebakende gebied, interaksie tussen produk en geografie, aanvaarbare produksiepraktyke en sertifiseringsprosesse beskerm. In wese word die unieke maniere waarop Karoolam geproduseer word erken vir sy hoë gehalte en standaarde en die sertifisering sal dit beskerm.”

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, verwelkom die skuif om Karoolam as geografiese indikasie te erken. “Die unieke aard van Karoolam is reeds wêreldbekend en hierdie benaming sal die streek se landbousektor ՚n verdere hupstoot gee en werkskepping help bevorder.”

Die unieke aard van Karoolam is reeds wêreldbekend en hierdie benaming sal die streek se landbousektor ՚n verdere hupstoot gee en werkskepping help dryf.

Boere wat hulle lamsvleis wil sertifiseer kan dit deur die Karoolam-konsortium doen by 066-317-6593 of info@ karoomeatoforigin.com of besoek die webtuiste by https://www.Karoo-lamb.org/

Van Zyl, P., Steyn, T. (2016) Meesterboere: Denkers en Doeners. Turksvy
Van Niekerk, R. (2023) Kry nou jou amptelike Karoo-lam. RSG Geldsake met Moneyweb https://www.moneyweb.co.za/moneywebradio/rsg-geldsake/kry-nou-jou-amptelike-karoolam/

0
Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0