Categories: Insurance, Resource managementPublished On: 10th October 2016

Kan multi-risiko oesversekering die droogte oorleef?

By 4 min read
781 words
droogte

oesversekering-droogte-okt

deur Johan van den Berg, Santam Landbou

Alhoewel die benaming “multi-risiko versekering” aandui dat meer as een gevaar gedek word, is verreweg die meeste multi-risiko versekeringseise in Suid-Afrika as gevolg van droogte. Multi-risiko versekering is presies wat dit sê, naamlik dat dit ’n omvattende dekking verskaf mits goeie boerderypraktyke toegepas word.

Die kliënt word teen sy eie geskiedkundige opbrengs gemeet en die verskil tussen die waarborgopbrengs en die gestroopte opbrengs word as ’n eis uitbetaal.

Wat is die stand van multi-risiko oesversekering in Suid-Afrika?

Multi-risiko oesversekering moet in ’n langer tydskonteks gesien word as enkele jare. Die geskiedenis het gewys dat produksietoestande en reënval dikwels groepeer in reekse van natter of droër jare. Neem byvoorbeeld die droogtes van 1964 tot 1967, vanaf 1982 tot 1987, weer vanaf 1991 tot 1996 en dan ook die droër jare vanaf 2001 tot 2007.

Korttermynresultate is dikwels baie “skeef” as gevolg van hierdie agtereenvolgende droë of nat jare. Die probleem is egter dat die jare waarin daar wel eise voorkom, groot bedrae ter sprake is. Droogte kom oor groot gebiede voor met gevolglike baie groot eisbedrae en nie kol-kol soos met die voorkoms van byvoorbeeld hael nie.

Uit ’n versekeraar se oogpunt is dit ook problematies, want genoeg geld moet elke jaar toegewys word om seker te maak eise kan uitbetaal word in hierdie “katastrofiese” jare indien dit voorkom. Die koste om hierdie kapitaal beskikbaar te hou is hoog, want dit kan nie vir iets anders gebruik word nie. Met groot multi-risiko eise as gevolg van droogteskade die afgelope drie jaar, het die langtermynresultate van multi-risiko versekering baie verswak.

Alhoewel Multi-risiko as produk nog deur Santam aangebied word, is daar egter beperkings op hierdie tipe van versekering ingestel in die afgelope seisoene. So, byvoorbeeld, het bestaande kliënte voorkeur gekry om weer te verseker indien die risiko aanvaarbaar was. Dit is dus belangrik dat daar ’n langtermyn versekeringsgeskiedenis opgebou moet word tussen die versekerde en die versekeraar, want dit stel die versekeraar in staat om na indiwiduele onderskrywing vir kliënte te kyk wat goeie risikobestuur doen.

Koste van multi-risiko oesversekering

Daar is min versekeringsprodukte wat die uitgebreide dekking gee wat multi-risiko versekering gee. Dit is een van die redes waarom dit relatief duur is. Alhoewel dit vanaf ’n versekeringsmaatskappy se kant arbeidsintensief is, is die koste om dit te bestuur relatief laag teenoor die versekeringskoste om die risiko’s te dek. Daar moet egter onthou word dat, indien ’n versekeringsproduk duur is, dit gewoonlik ook ’n aanduiding is van die risiko van die gewas in ’n spesifieke omgewing.

Neem ’n voorbeeld: Die multi-risiko versekeringstarief as persentasie van die versekerde waarde is meer as drie keer hoër in Lichtenburg in die westelike produksiestreek as in Middelburg in die oostelike produksiestreek. Hoekom?

In ’n ontleding is gevind dat daar oor die langtermyn ’n ongeveer 30% waarskynlikheid is om nie insetkoste te verhaal in Lichtenburg nie, dit wil sê in drie uit tien jaar sal ’n boer in Lichtenburg ’n verlies maak. Hierdie syfer hang natuurlik af van die kommoditeitsprys en die berekening is gedoen op ’n mielieprys van ongeveer R2 500/ton.

Daarenteen sal ’n goeie boer in Middelburg in minder jare nie gelykbreek nie. Hierdie verskil in risiko word in die prys van versekering weerspieël. Met laer kommoditeitspryse en/of hoër insetkoste kan die aantal jare waarin verliese gemaak word of nie gelykgebreek word nie, vermeerder.

Hoe versekerbaar is die graanproduksiegebiede van Suid-Afrika?

Hierdie vraag kan ook anders gestel word, naamlik: Hoe lewensvatbaar en volhoubaar is graanproduksie soos dit tans bedryf word? Dit is nie net droogte en swak opbrengste wat verliese tot gevolg kan hê nie, dit is ook geldig as laer kommoditeitspryse voorkom.

Stygende insetkoste maak die risiko vir verliese ook baie groter indien die prys nie daarmee tred hou nie. Die kwessie van agtereenvolgende swak jare maak dat volhoubaarheid baie moeilik is, want om twee of drie misoeste “in te haal” is nie maklik nie. Elke boer sal strategies moet dink of sy produksiestelsel volhoubaar is oor die langtermyn. Dit kan dalk raadsaam wees om in goeie jare ’n verandering aan die tipe boerdery of boerderystelsel te doen, want tydens droogtes kan eintlik niks gedoen word behalwe om te probeer oorleef nie.

Gevolgtrekking

Die kwessie rondom multi-risiko oesversekering is eintlik maar net ’n simptoom van die riskantheid van graanproduksie in groot dele van Suid-Afrika. Daar is nie werklik goedkoper en meer akkurate alternatiewe vir multi- risiko oesversekering in die huidige vorm nie, want maak nie saak watter metode of produk gebruik word nie, die inherente risiko (en prys) bly dieselfde. Alhoewel multi-risiko oesversekering in sy huidige vorm arbeidsintensief is, is dit steeds die enigste versekeringsproduk wat die indiwiduele risiko vir ’n kliënt volledig dek.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0