Kaapse Grasveld Nasionale Park: Bewaring van ’n ander kleur

Scenic shot Angus Burns WWF South Africa
Foto deur Angus Burns, WWF SA
Die nuwe Grasveld Nasionale Park is in die proses om verklaar en gevestig te word. Dit val binne die grasveldbioom van die Oos-Kaap se Joe Gqabi-munisipaliteit. Voortaan sal die bedreigde grasvelde ook die beskerming kry wat dit benodig.
SANParke, in samewerking met Wêreld Natuurfonds Suid-Afrika (WWF SA), het hande gevat met verskeie regerings- en nie-regeringsvennote om hierdie gebied tot bewaringsgebied te verklaar.
Die besluit om die grasvelde te be-skerm is veelvoudig. ՚n Nasionale Biodiversiteitsassessering gedurende 2019 het bevind dat die grasveldbioom dring-end bewaring benodig om behoue te bly. Volgens die Nasionale Bewaringsgebiediutbreidingstrategie sal die park dit ook moontlik maak om bedreigde en-demiese fauna en flora te beskerm. Die Wêrelderfenisgebiede, kenmerkende grasvelde, asook berge en vleilande, val binne die grasveldbioom.
Wat hierdie park uniek maak is nie net die eiesoortige bioom wat dit beoog om te bewaar nie, maar ook die vennootskap wat dit met die werkende landbougemeenskap sal bou. Die inwoners sal steeds ekonomiese voordeel uit die park trek terwyl hulle daar bly.
Volgens Thembanani Nsibande, programbestuurder van WWF SA, sal die park jare van swak omgewingsbestuur, substandaard-bewaring en die verlies van natuurlike habitat teëwerk deur ook die belangrike waterbronne beter te bestuur.
Die pad na die Kaapse Grasveld Nasionale Park
Om ՚n park te vestig gebeur nie oornag nie. Eerstens moet daar met grondeienaars onderhandel word om uit te vind wie bereid is om hulle grond deel van die park te maak. Dit is alles vrywillig en niemand word gedwing om deel van die park te word nie. Die grond wat in die park ingesluit word moet wel aan die standaarde van biodiversiteit voldoen.
Tans is die Biodiversiteitterreinassessering en Veldtoestandassessering nog aan die gang.
“SANParke en hulle vennote beoog om vrywillige ooreenkomste met private en gemeenskaplike grondeienaars te bereik om ՚n biodiversiteitrentmeesterskapbenadering aan te neem,” sê Thembanani.
Elke grondeienaar neem hom- of haarself voor om by die beginsels en vereistes van die bestuursplanne te hou. In sommige gevalle sluit dit in om formeel die grondgebruikspraktyke uiteen te sit om biodiversiteit te verseker.
Die mikpunt is om 10 000 hektaar vir die aanvangsgebied te bekom.
“Daar is ՚n deurlopende proses van boereverenigings- en gemeenskapsvergaderings saamroep asook om indiwiduele gesprekke te voer. Meer formele skakeling en werksessies word gehou om die boere wat binne die bewaringsgebied sal boer met opleiding en raad te ondersteun. Buiten hierdie groep, bied dit ook ondersteuning aan betrokke organisasies, lede van die publiek en ander belangstellende partye,” verduidelik hy.
Tans is daar twee staatsbestuurstrukture geloods wat die bestuur van die park sal handhaaf. Dit is die Nasionale Bestuurskomitee en Tegniese Taakspan.
Die Nasionale Bestuurskomitee is verantwoordelik vir die algehele strategiese oorsig, besluitneming, en inwerkingstelling van die projek. Dit word deur die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake gedoen, in samewerking met verteenwoordigers van die Departement van Ekonomiese, Ontwikkeling, Omgewingsake en Toerisme, SANParke, Oos-Kaapse Parkeen Toerisme-agentskap, Joe Gqabimunisipaliteit en WWF SA.

Die Tegniese Taakspan verskaf tegniese ondersteuning, leiding en hulp met die projek op die grond. Dit bestaan uit ՚n breë verskeidenheid verteenwoordigers van alle betrokke organisasies, munisipaliteite en staatdepartemente.
Sodra die assesserings wat tans plaasvind voltooi is, sal daar saam met die eienaars ՚n Beskermdegebiedbestuursplan bepaal word, en die nodige ooreenkomste wat opgestel moet word sal afgerond word. Openbarebetrokkenheidprosesse moet ook geformaliseer word.
Die Kaapse Grasveld Nasionale park balanseer bewaring en landbou
“Die hoofdoel met die stigting van die park is om bewaring te balanseer met sosio-ekonomiese faktore deur vernuwende benaderings tot ontwikkeling te gebruik,” sê Thembanani.
Die ekonomiese voordele van die park sluit in werkskepping deur die onderhoud en bestuur van die bewaringsarea, die generering van inkomste deur geselekteerde en fynbestuurde grond, asook laastens ՚n toeristebestemming en toerismebedrywighede.
Landbou bly steeds die kernpunt om ՚n inkomste in te bring. Toerisme bly dus sekondêr teenoor inkomste deur verbeterde volhoubare landbou.
Landboupraktyke in die gebied sal hoofsaaklik bestaan uit weiding vir vee. Daar sal egter streng bestuursmaatreëls wees om te volg. Buiten bewaring sal hierdie maatreëls die toestand van die veld, diere se gesondheid en die volhoubaarheid van die omgewing verbeter.
“Die park se fokus om voort te gaan met volhoubare landbou binne die bewaringsgebied sal marktoevoer vergemaklik vir sowel gemeenskaps- asopkomende boere. Ons sal ook saam met kommersiële boere werk om geleenthede te skep vir gesertifiseerde produkte met toegevoegde waarde,” vertel Thembanani.
“As deel hiervan word die gemeenskap bemagtig met bestuurspraktyke wat hulle sal help om volhoubaar te boer.”
Daar word werksessies en opleidingsessies gehou waartydens:
- Die bestaansrede en doel van die Grasveld Nasionale Park geïdentifiseer word.
- Die waardes en belangrike kenmerke van die landskap geïdentifiseer word.
- Kern-strategiese doelwitte vir die Grasveld Nasionale Park geïdentifiseer word.
- Kern-bestuursingrypings wat binne die gebied moet plaasvind geïdentifiseer word.
- Riglyne vir kommunikasie oor betrokkenheid uiteengesit word.
- Samewerking bly die kern van die park se stigting.
“Dit is belangrik dat ՚n volhoubare weidingsmodel gebruik word, want die bewaring van biodiversiteit is moeilik wanneer vee op die grasveld wei,” sê hy. “Met die ekologie van grasvelde is dit nodig om die veld te laat rus, drakapasiteit in ag te neem, aantal vee aan te pas en bewus te wees van vuur binne die gebied.
“Boere binne die bewaringgebied kan die nodige leiding en ondersteuning verwag. Waar nodig sal boere en grondeienaars vaardighede leer van werksessies en opleidingskurssuse.”
Die nuwe nasionale park beskerm veelvoudige natuurlike hulpbronne
Thembanani verduidelik dat die park sal verseker dat een van Suid-Afrika se belangrikste waterbronne beskerm word.
“Dit is noodsaaklik dat die Oos-Kaap se Drakensberge se watertoevoer mooi opgepas word. Hierdie area is geneig tot droogtes, maar dit is ook ՚n Strategiese Waterbrongebied (Strategic Water Source Area),” vertel hy. “Hierdie is gebiede wat noodsaaklik is vir die voorsiening van vars water aan die land.”
Riviere, vleilande en wateropvangsgebiede is net so noodsaaklik soos die infrastruktuur wat daarmee saamgaan om watersekerheid moontlik te maak. Die ekosisteme is egter tans in gedrang weens die swak toestand waarin hierdie bronne verkeer.
“Die bewaringsgebied sal die bronne van die Tina- en Bellrivier bewaar,” brei hy uit. “Die Tinarivier vloei in die uMzimvubu-rivier en bevoordeel die inwoners van Mount Fletcher, Qumbu en die Wildekus. Die Bellrivier word die Kraairivier wat na die Oranjerivier vloei en in die Noord-Kaap by die Atlantiese Oseaan uitmond.
Om meer uit te vind oor hierdie park of om daarby betrokke te raak, gaan na www.wwf.org.za of www.sanparks.org.