Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 30th October 2023

Jong boer soek sy heil in herlewingslandbou

By 7 min read

Gerrit 9

Gerrit van der Merwe boer saam met sy ouers, Thinus en Etta, met sagtevrugte en steenvrugte op die plaas, Fonteintjie, by Ceres in die Koue Bokkeveld. (Foto: Anna Mouton van Hortgro)

Gerrit van der Merwe boer saam met sy ouers, Thinus en Etta, op die plaas, Fonteintjie, by Ceres. Die eerste grond is in 1951 gekoop en Gerrit is die vierde geslag op die plaas.

Vandat hy in 2014 by die boerdery aangesluit het, takel hy die uitdagings in die Wes-Kaapse vrugtebedryf met omsigtigheid een vir een.

Ceres Fonteintjie Boerdery bestaan uit twee produksie-eenhede in die Koue Bokkeveld waarop 170 ha appels, pere, perskes en pruime verbou word. Hulle boer ook met uie, skape en beeste, en het ՚n aandeel in ՚n kwekery waar hulle hulle eie vrugtebome kweek, asook in ՚n private pakhuis waar die meeste van die vrugte verpak word.

Gerrit se komvandaan

Nadat Gerrit aan Hoërskool Charlie Hofmeyr op Ceres gematrikuleer het, is hy Stellenbosch Universiteit toe om ingenieurswese te studeer, maar het gou agtergekom dit is nie waaruit hy ՚n bestaan wil maak nie. Hy het al in sy eerste jaar oorgeskakel na BSc Agric met Tuinboukunde en Landbou-ekonomie as hoofvakke. “Ek was nie van plan om nagraads te studeer nie, maar het aangebly om ՚n MSc Agric onder leiding van prof Wiehann Steyn van Hortgro te doen oor meganisasie in die vrugtebedryf.”

Die studie het behels dat hy meganiese platforms en oesmasjiene wat hoofsaaklik uit Europa ingevoer is vir Suid-Afrikaanse omstandighede evalueer het. “Ons het gevind dat die sukses van platforms baie geval-spesifiek is en nie in alle omstandighede ՚n kitsoplossing bied nie: dit is eerder nog ՚n stuk toerusting wat in die boord gebruik kan word, veral vir aksies waar daar baie tyd bestee word aan die dra, klim en skuif van traplere in verhouding tot die tyd wat op die trapleer bestee word om die fisiese boord-aksie te doen.”

Die groot fokus van die projek was om te bepaal watter veranderinge aan bome en boorde gemaak moet word om platforms beter te gebruik. “Ons het egter gevind die oomblik wat jy dit makliker maak vir die persoon op die platform, maak jy dit makliker vir die persoon op die trapleer. Ons het gesien dat groot verbeterings in produktiwiteit en doeltreffendheid met konvensionele spanne verkry word in meer mensvriendelike boorde met kleiner boomprofiele en ՚n boordoppervlak sonder hindernisse.

“Daar is plek vir eenvoudige en bekostigbare platforms wat vir aksies soos leier-manipulering van jong bome, somersnoei, die oop- en toemaak van nette en dies meer gebruik kan word,” is Gerrit se slotsom.

Water

Gedurende die eerste paar jaar nadat Gerrit in 2014 plaas toe is, het hy die bestaande besproeiingstelsel opgegradeer en geoutomatiseer om skedulering van besproeiing te vergemaklik, wat nou met beurtkrag ook van groot waarde is.

Al is dit ՚n gebied met relatiewe hoë reënval van tussen 400 mm en 450 mm per jaar, wissel die reënval op die plase weens die invloed van die berge. Die eenhede is ook uitgelewer aan watertekorte in laereënvaljare soos tussen 2014 en 2018.

In die droogtesiklus was daar hoofsaaklik twee benaderings in die gebied, naamlik om die drag aan die bome te verminder en die bome met so min water as moontlik aan die lewe te hou vir die seisoen, of om die mins winsgewende boorde uit te haal en die wat oorbly optimaal te versorg. “Ons het gekies om eerder die swakker boorde uit te haal en die res so goed as moontlik te versorg. Ons het al voor die droogte drupbesproeiing in sommige blokke begin installeer en die droogte het bevestig dat dit die regte besluit was.

“Ek het ervaar dat drupbesproeiing meer bestuursintensief is en daar dus minder ruimte vir skeduleringsfoute is. Ons kry dit reg om met minder wateropbrengste te behaal wat goed vergelyk met die mikrobesproeiingblokke.”

Tegnologie

“Met ons grootte boerdery het ons nie baie waagkapitaal waarmee ons kan werk nie, so ons moet maar eers ՚n ding goed deurkyk voor ons in duur tegnologie kan belê”.

Tegnologie soos loonprogramme en elektroniese klokstelsels help om meer akkuraat rekord te hou van ure en toewysings, wat baie man-ure bespaar. “Daar is ՚n groot verskeidenheid programme beskikbaar en ՚n mens moet reg kies sodat die belegging jou sak pas en help om goeie rekords op te bou in geval van navrae, inspeksies en moontlike geskille.”

Produksiesagteware is ook nuttig om rekord te hou van toewysings vir blokke en om winsgewendheid te meet sodat ingeligte besluite geneem kan word oor hoe jy ՚n spesifieke blok wil bestuur, en die rekords help om sentiment opsy te sit wanneer moeilike besluite geneem moet word.

“Wisselendetoediening-kunsmisstrooiers en -spuitpompe is belowende tegnologie, net soos die gebruik van hommeltuie om ՚n groot verskeidenheid boordinligting in te samel, veral in terme van oeslading en gehaltebepalings wat groot waarde vir die bedryf kan inhou.”

Arbeid

Die vrugtekomponent van Ceres Fonteintjie Boerdery het sowat 100 tot 120 voltydse poste wat in die plukseisoen tot 180 aangroei. “Ons het met verskeie kultivars van sagte- en steenvrugte asook uie probeer om die seisoen te rek om vir werkers ՚n langer kontrak te gee, maar met hoë kostes en kultivars wat nie noodwendig in die mark werk nie, moet ons ekstra poste tot die seisoen beperk.”

Terwyl Gerrit besig was met navorsing, het hy besef wanneer meganisasie ter sprake kom, dit gewoonlik gepaard gaan met ՚n verlies aan werksgeleenthede. Die platforms wat hy ondersoek het is nie soos wingerdoesmasjiene of stropers wat die arbeider ten volle vervang nie – dit is eerder ՚n hulpmiddel wat aangewend kan word om werkers meer doeltreffend te maak en veral aangewend kan word vir take wat soms oorgesien word omdat dit nie lonend is om met ՚n konvensionele span te doen nie.”

Herlewingslandbou Gerrit se pad met herlewingslandbou het begin toe hy na afloop van sy studie terug plaas toe is. Hy het ՚n kort opleidingskursus in herlewingslandbou, wat eintlik op bestaansboere gerig was, bygewoon en dit het sy belangstelling in die konsep sodanig geprikkel dat hy daarmee in die boorde begin eksperimenteer het. “Ek is bevoorreg om deel van ՚n bestuurspan op die plaas te wees wat oop is daarvoor om nuwe praktyke te toets; ander boere in die omgewing pas ook herlewingslandbou op verskeie maniere toe.”

Na twee seisoene se kleinskaalse proewe is die chemiese onkruidbeheer op een van die produksie-eenhede onttrek en onkruid word nou met draagbare meganiese randsnyers beheer. Hulle eksperimenteer ook op klein skaal met modelle vir drukbeweiding met beeste en hoenders as ՚n manier om onkruid in die boorde te beheer, en om biologiese biodiversiteit in die grond te bevorder.

Met oortollige voersaad uit die veevertakking het hy dekgewasse tussen die bome begin vestig. “Ons gebruik die saadmengsels veral op klipperige gedeeltes wat nie ՚n natuurlike plantbedekking het nie. In die meeste boorde het ons die natuurlike plantegroei as groen deklaag gebruik en binne een seisoen gesien hoe die diversiteit van die plantegroei op die bankies toeneem. Ons benadering is om eerder te gebruik wat ons het en die proses so eenvoudig en geïntegreerd as moontlik te hou,” verduidelik hy.

“Daar is nog baie praktyke wat ons wil toepas, maar ons sal dit op ‘n verantwoordelike manier doen. Ons leer by medeboere en konsultante wat al verder as ons gevorder het, maar daar is steeds risiko’s as jy dit by jou eie omstandighede en met jou metodes toepas. Dit is belangrik om die uitwerking van die praktyke op die grond se voeding- en grondvogstatus en pes- en plaagsiklusse te verstaan sodat die eindproduk (vrugte) aan die boom nie nadelig beïnvloed word nie.”

Die deklaag is in ՚n jong peerblok waar drupbesproeiing toegepas word. (Foto: Niël Lategan)

Positiewe resultate

Hulle sien reeds positiewe resultate. Die diversiteit van plante in die boord neem toe, die grondtekstuur verbeter, wat sorg vir beter waterindringing en -houvermoë. Daar is ook beter fynwortelontwikkeling by die bome en erdwurmgetalle neem toe. “Tot dusver was ons fokus om die beginsels in die praktyk toe te pas, maar ons sal die veranderinge moet kwantifiseer om dit sinvol in ons bestuursplanne te integreer.

Veral vanuit ՚n plantvoedingsoogpunt is dit belangrik om te bepaal hoe die beskikbare voedingstatus van die grond verander word deur dekgewasse en drukbeweiding en om dit in ag te neem met ons konvensionele bemestingsprogram.”

Hy meen herlewingslandbou kan ՚n rol speel om insetkoste te beperk. “As ons met herlewingslandboupraktyke kan regkry om met minder ingevoerde insette te boer en opbrengs en gehalte te verbeter, sal dit ons in ՚n sekere mate teen kostespronge soos wat ons die afgelope paar seisoene beleef het verskans.”

Kontak Gerrit van der Merwe vir meer inligting by 079-728-2442 of gmjmerwe@gmail.com.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment