Categories: WheelsPublished On: 5th October 2015

Isuzu Trokke lewer nou nog beter diens aan boere

By 3 min read
670 words

Die ware staal van enige mens, onderneming of produk word getoets wanneer dinge moeilik gaan. Moeilike makro-marktoestande het ’n baie sterk invloed op enige maatskappy en Isuzu Trokke Suid-Afrika (ITSA) moet ook bontstaan onder arbeidsonrus, die e-tolstelsel, hoë brandstofpryse, swak politieke besluite en die rand wat al hoe minder werd word. Hierdie faktore het noodwendig ’n invloed op die land se ekonomiese groei en dit beïnvloed die vragmotorvervaardigingbedryf regstreeks.

“Maar, soos ons almal weet, is ons as Suid-Afrikaners baie aanpasbaar met baie dryfkrag en ons almal moet tot aan die einde van die jaar vasbyt en die nuwe jaar tegemoetgaan,” was Craig Uren, HUB van ITSA, se opbeurende boodskap tydens ’n onlangse mediavrystelling in Johannesburg.

Craig Uren het tydens ITSA se onlangse media-ontbyt ’n oorsig oor die maatskappy se toekomsplanne gegee en verduidelik hoekom hulle die Kanu-bakboumaatskappy oorgekoop het.

Ten spyte van die talle uitdagings is Isuzu-trokke nie in Suid-Afrika vir tyd en wyl nie –  hulle is hier om te bly. “ITSA het in 2007 afgeskop met ons eerste vyfjaarfase waarin ons daarop gekonsentreer het om ons basis te vestig deur in strukture, produkontwikkeling, handelaars en mense te belê. Ons is tans in jaar agt van ons tweede vyfjaarfase, wat ons die volwasse fase noem, waarin ons reeds ’n klomp suksesse kan opnoem, onder meer ons stewige markaandeel en gevestigde bedryfstrukture. Om voor te bly, moet ons deurlopend ons denke verander en daarom beplan ons reeds aan ons derde vyfjaarsiklus,” sê hy.

ITSA moet elke jaar sowat 4 000 eenhede die lig laat sien om hulle Suid-Afrikaanse operasie mooi aan die gang hou, maar met ’n terugsakking van 5% in die trokmark oor die afgelope jaar, is dit opmerklik dat Isuzu se markaandeel steeds stadig maar seker groei. In Junie verlede jaar kon hulle 12,9% van die land se totale trokverkope in hulle eie boeke opskryf. Tot vandag het daardie syfer tot 17,7% gegroei.

’n Opwindende nuwe rigting wat ITSA ingeslaan het, is om die bakboumaatskappy, Kanu in Port Elizabeth, asook Automotive Chassis Technology (ACT), wat onderstelle verander en aanpas, in ’n vreedsame oorname te bekom. “Omdat Kanu in Port Elizabeth reeds 80% van ons bakke bou, was dit noodwendig die volgende stap in ons strategie,” het Craig gesê. Hierdie belangrike transaksie sal nog vandeesmaand in werking tree.

Boere kan ook bly wees oor hierdie transaksie, want dit beteken dat Isuzu nou vinniger en makliker ’n volledige trok kan aflewer.

Wat is ’n trok sonder ’n geskikte bak? ’n Beestraliebak is ’n gewilde keuse onder boere, so ook Isuzu Vragmoters se FVR 900. Hier is ’n FVR 900 met ’n beestraliebak wat deur Kanu-bakbouers gebou is.

“Ons oogmerk was nie om net nog ’n onderneming te besit nie, maar om die geleentheid te gebruik om hierdie ondernemings in bemagtigers te verander. ’n Onderstel-kajuit wat uit ons fabriek kom, is ’n nuttelose kommoditeit en het geen waarde in die hande van die kliënt nie. In ons speelveld is logistiek ’n duur en tydrowende oefening. Dit gaan daaroor om die proses en die voorsieningsketting te verbeter om die produk vinniger in die mark te kry,” sê Craig. “Om nou ’n standaard bak te vervaardig wat op al Isuzu se trokke dieselfde lyk, is ook net baie meer sinvol.”

Gewoonlik kry die kliënt die trok eers negentig dae na bestelling, wat ’n reuse invloed op sy inkomste het. ’n Vragmotor is ’n inkomsteverdiener en daarom is dit pynlik en duur vir enige boer of vervoerder as hy drie maande sonder ’n vragmotor te sit terwyl hy op aflewering wag. Talle trokke val die swak Suid-Afrikaanse paaie ten prooi en in so ’n geval wil die eienaar sy sake so gou as moontlik voortsit. “Ons gaan hierdie wagtyd drasties verkort,” sê Craig.
ITSA het ook ’n ander rede om hulleself op die skouer te klop. As alles volgens plan verloop, sal hulle in die derde kwartaal van 2015 die 30 000ste trok wat hulle sedert die begin van produksie in 2007 in die Port Elizabethse aanleg vervaardig het, vier.

Vir verdere navrae kan 08600 ISUZU (47898) geskakel word, of www.isuzutrucks.co.za besoek word.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0