Innovasie en vooruitgang in kollig by 5de AmberMacs-ekspo

Die AmberMacs-ekspo in sy pragtige Laeveldse ligging. (Bron: AmberMacs)
Soos oudergewoonte is die gewilde AmberMacs-ekspo weer vanjaar in Witrivier net noord van Mbombela in Mpumalanga, aangebied. Duisende besoekers van regoor die land woon jaarliks hierdie geleentheid by wat begin is deur Philip Moufarrige, eienaar en besturende direkteur van AmberMacs, om bewustheid te skep oor makadamianeut-boerdery in Suid-Afrika en vir die bevordering van hierdie veelsydige landbouproduk.
ProAgri het die geleentheid bygewoon waar indrukwekkende produkte uitgestal is, insiggewende praatjies deur kenners aangebied is en boere lekker saam gekuier en staaltjies uitgeruil het. Die bekende ekonoom Dawie Roodt het ’n makro-oorsig van die Suid-Afrikaanse ekonomie gegee terwyl Philip ’n interessante praatjie aangebied het oor die stand van sake in die plaaslike makadamia-bedryf.
Vanjaar het die opkoms Philip en sy ekspo-span beïndruk met die groeiende getal besoekers. “Op alle vlakke is die ekspo baie goed ontvang. Die terugvoer van die besoekers sowel as die sprekers was positief,” sê Andri van den Bergh, organiseerder. “Hierdie jaar het ons ’n toename in besoekers gehad wat ons baie opgewonde maak. Die network-kuier is goed bygewoon en almal het lekker saam gekuier.”

Philip Moufarrige, eienaar en besturende direkteur van AmberMacs, tydens sy praatjie by die ekspo. (Bron: Verskaf)
Boere sukkel met gewasbeskerming
Dr. Schalk Schoeman, wat ’n praatjie gelewer het oor die praktiese aspekte van biologiese insektebestuur in makadamia-boorde in die Laeveld, sê omdat Mpumalanga die grootste makadamia-produksiestreek in die wêreld is, regverdig dit die voortbestaan van hierdie ekspo.
“Gewasbeskerming is my spesialiteit en dit is tans vir die boere ’n baie groot probleem. Dit sal waarde toevoeg tot die ekspo as mens ’n informele werksgroep-sessie kan aanbied om direk met die boere te kan kommunikeer in plaas van noodwendig ’n formele lesing.”
Buiten die biologiese uitstallings wat hom beïndruk het, sê Schalk “ek het veral die lesing oor die makro-ekonomie van Dawie baie geniet. Philip en Allan Duncan (’n drie- tot vyfjaar-blik op die makadamia-bedryf) se praatjies het ook vir my uitgestaan. Iets waaraan ons in die toekoms kan aandag gee is waardetoevoeging”.

Willie Bester, Mbombela-verkoopsverteenwoordiger vir Hitachi-konstruksiemasjinerie, by die Hitachi BX100 TLB op die ekspo.
Hitachi-BX 100 TLB beïndruk talle besoekers
Willie Bester, Mbombela-verkoopsverteenwoordiger vir Hitachi-konstruksiemasjinerie, het die interaksie met potensiële kliënte geniet. Willie is entoesiasties oor die produk wat Hitachi op die ekspo uitgestal het. “Ons het ’n Hitachi BX100 TLB (Translation Lookaside Buffer) uitgestal. Baie van die besoekers het nie geweet dat ons ’n TLB in ons reeks het nie. Dit doen regtig goed omdat die masjien goeie kwaliteit bied en teen ’n prys van net onder R1 miljoen veel goedkoper is as dié van ons mededingers,” sê Willie. Hy sê Hitachi se ZX480U Mini Excavator, wat pas bekend gestel is, verkoop uitstekend, veral in die Kaap.
Die goed beplande uiteensetting van die ekspo, vermaak deur sangers soos Barto en Coenie Naudé, en die interessante lesings het vir Willie uitgestaan. “Ons het baie navrae oor ons produkte gekry van nuwe kliënte en ook goeie blootstelling op beide dae van die ekspo.”

’n Heerlike gees heers onder besoekers en uitstallers. (Bron: AmberMacs)
‘Mark is gereed vir doeltreffende en volhoubare oplossings’
Dean Mouton, bemarker vir Etec, gesels lekker oor die ten volle elektriese voertuie wat hulle uitgestal het, naamlik die Bike Bakkie, Blitz Cruiser, Apex en Rugon 2. “Ons Rugon 2 het die meeste aandag getrek. Ons elektriese voertuie is ideaal vir plase, landgoedere en besighede omdat dit stil, betroubaar en kostedoeltreffend is met geen brandstof-uitgawes het nie. Omdat ons voertuie nie brandstof gebruik nie, bekostigbaar is en minimale onderhoud verg, spaar jy geld.”
Hy het dit veral geniet om “met soveel mense te gesels wat in ons produkte belangstel en ook om eerstehands terugvoer oor ons produkte te kry. Daar was definitief belangstelling. Ons het kwotasies gegee aan potensiële kopers en het geskakel met ander besighede wat geïnteresseerd is om ook Etec-handelaars te word”.
Tegnologiese vooruitgang en hoe vinnig die bedryf ontwikkel, was vir hom ekspo-hoogtepunte. “Die innovasie wat uitgestal is, bevestig dat die mark gereed is vir meer doeltreffende en volhoubare oplossings.
“Ek sal die ekspo aanbeveel omdat dit ’n uitstekende netwerk- en leergeleentheid is waar besoekers nuwe produkte kan ontdek, tendense kan verken en waardevolle kontakte kan maak,” sê Dean.

Boere van regoor Suid-Afrika luister aandagtig na een van die lesings. (Bron: AmberMacs)
Want boere is plesierig …
Benewens die lesings, uitstallings, sappige kos en drankies, was die gees byna tasbaar en het talle mense vriendelike geselsies aangeknoop en keel natgemaak met yskoue bier – en kort daarna het niemand meer opgelet net hoe warm die Laeveld kan raak nie!
- Die sesde AmberMacs-ekspo word van 4 tot 5 Februarie 2027 in Witrivier, Mpumalanga aangebied.
Vir meer inligting oor die AmberMacs-ekspo, skakel Andri van den Bergh, ekspo-koördineerder, by 082 3755 109 or stuur ’n e-pos na andri@ambermacs.com
I like agriculture it’s a great job