INFLAMMASIE: Die stille voedingstofdief

adm 1
Deur Gisela Bisschoff, herkouer-voedingkundige, ADM Nutrition SA (SACNASP: 400356/13)
Dieetaanpassings speel ’n sleutelrol in verkorte langslewendheid by vee. Hoewel herkouers aangepas is by veselryke diëte, beteken hedendaagse meer intensiewe boerderypraktyke dat hoogproduserende herkouers oor die algemeen graangebaseerde (hoë stysel) diëte ontvang om hul inname en produktiwiteit te verhoog.
Hierdie diëte kan egter ’n negatiewe uitwerking op dieregesondheid hê. Kroniese inflammasie is ‘n bekende aspek
van diereproduksie en kan tot aansienlike verliese in produksie, doeltreffendheid en gesondheid lei. Die klassieke inflammasie-viertal wat twee millennia gelede die eerste keer deur celsus beskryf is, bestaan uit hitte, rooiheid,
swelling en pyn. In die negentiende eeu het Rudolf Virchow hierdie konsep verder aangevul toe hy ‘n verlies aan funksionaliteit ingesluit het. Laasgenoemde beklemtoon die diepgaande gevolge wat inflammasie op diereproduksie en gesondheid het.
‘n Paar van die moontlike oorsake van dermontsteking, andersins bekend as gastroïntestinale inflammasie, by groot en klein herkouers is dieetfaktore, rumenasidose en stres. Die produksiesiklus self kan ook ’n bron van kroniese
ontsteking wees en omvat stadiums soos kalwing, lam, laktasie, speen en teling. Gastroïntestinale inflammasie kom voor wanneer die spysverteringskanaal se voering ontsteek raak.
Verlies aan funksionaliteit
Fisiologiese veranderinge weens inflammasie in die spysverteringskanaal behels:
• Verhoogde deurlaatbaarheid: Kroniese inflammasie lei tot ‘n verlies aan integriteit in die enterosietlaag, beskadig knap verbindings en kompromitteer die dermslymvlies se vermoë om mikroörganismes te isoleer. Dit stel bakterieë, patogene en toksiene in staat om tussen die epiteelselle in te beweeg, wat tot dermontsteking of selskade lei.
• Immuunreaksie: Sodra die bakterieë, patogene en toksiene tussen die selle inbeweeg, word pro-inflammatoriese sitokiene vrygestel, en immuunselle word geaktiveer.
• Inflammasie en oksidatiewe stres: Die produksie van reaktiewe suurstof-spesies en pro-inflammatoriese mediators lei tot ontsteking en weefselskade.
• Verandering in dermbeweging: Lei tot diarree of hardlywigheid.
• Hormoonveranderings: Verhoogde vrylating van streshormone soos kortisol.
Hierdie belangrike funksionele verlies in die spysverteringskanaal veroorsaak ’n bose inflammasie-kringloop wat die verlies aan produksie en gesondheid by produktiewe diere vererger. Die dier se inname kan met tot 15% afneem, wat gewigstoename verlaag en die algemene onderhoudsbehoeftes verhoog weens die swak gesondheidstatus. In hierdie tydperk verander die dier se metabolisme en voedingstofopname word ontwrig.
Beveg inflammasie
Voedingstowwe en tot sowat 30% van die energie wat ingeneem word, word na die bron van kroniese ontsteking herlei of gebruik om die kroniese inflammasieproses te bestuur, pleks daarvan dat dit tot groei, reproduksie, en melk en vleisproduksie bydra. Dit beteken groot winsverliese. Inflammasie kan beveg word deur bestuurspraktyke op die plaas te verbeter.
Dit sluit in aspekte soos biosekuriteit en medikasie, wat ook deur middel van voeding bestuur kan word. Presisievoeding fokus op die voedingsbehoeftes van die dier in ‘n betrokke stadium, terwyl funksionele voeding fokus op produkte of samestellings wat die probleem direk affekteer.
Sommige plante het bio-funksionele samestellings wat die dier se anti-inflammatoriese status kan bevorder deur dermontsteking en oksidatiewe stres te reguleer. Die sangwinarien-ekstrak van die Macleayaplant, en die magnolool- en honokioolekstrakte van die magnolia-blom word wyd erken en as ’n funksionele voedingstrategie om inflammasie te bestry.
Hierdie plantekstrakte is alkaloïed- en neolignien-samestellings wat, wanneer dit in kombinasie gebruik word, die integriteit van die ingewande aansienlik kan verhoog. Dit verseker dus die behoorlike opname van voedingstowwe gedurende stresvolle tydperke.
Navorsing oor hierdie samestellings het getoon dat hulle nie net die noue verbindings op dermselle beskerm nie, maar ook die aantal teenwoordige pro-inflammatoriese merkers beperk, en sodoende inflammasie verminder. Op hierdie manier sal meer energie gebruik word vir produksieprestasie as om die inflammasieproses aan te help. Beide plantekstrakte het ’n sinergistiese uitwerking op die dier en voorkom ingewande wat lek.
Vir meer inligting, kontak Gisela Bisschoff van ADM Nutrition SA by 066 485 6747 of Gisela.Bisschoff@adm.com.