Categories: NewsPublished On: 29th June 2016

Hoeveel water is nodig om voedsel te vervaardig?

By 2 min read
401 words

water op groente

Almal in Suid-Afrika weet daar is ‘n groot skaarste aan water as gevolg van die droogte wat almal geraak het en water is ook een van die mens se noodsaaklikste lewensmiddele. Niks kan sonder water lewe nie.

Tot 2-miljard ton voedsel word jaarliks vermors. Dit is volgens ‘n verslag van die Institution of Mechanical Engineers van die Verenigde Koninkryk gelykstaande aan 50% van alle kos wat geproduseer word.

Die IME skat dat 30 tot 50% van alle voedsel wat geproduseer word verlore gaan voordat dit deur ‘n mens geëet word. Die verbruikersakekorrespondent van The Guardian, Rebecca Smithers, sê die IME plaas die blaam vir die verbysterende nuwe syfers in hulle ontleding op onnodig streng verkoopsperdatums (sell-by dates), bemarkingsfoefies soos koop-een-en-kry-een-gratis (buy-one-get-one free) wat mense meer laat koop as wat hulle nodig het en die westerse verbruikersbehoefte aan volmaakte kos, saam met swak landboupraktyke, onvoldoende infrastruktuur en swak bergingsgeriewe.

Groot supermarkte word ook geblameer vir vermorste voedsel deur die verwerping van eetbare vrugte en groente wat nie aan hulle standaarde voldoen nie op grond van blote voorkoms (grootte en kleur), wat geensins die eetbaarheid of voedsaamheid daarvan benadeel nie. Tot 30% van die Verenigde Koninkryk se groentegewasse word nooit geoes nie as gevolg van hierdie kosmetiese oorweging.

Intussen word ‘n baie groot hoeveelheid water benodig om al hierdie voedsel te produseer en as die voedsel nie gebruik word nie, beteken dit dat dié water vermors is.

Die mensdom verbruik ongeveer 3,8-triljoen (3,400 000 000 000 000 000) kubieke meter water per jaar. 70% van hierdie water word deur die landbousektor verbruik. Die hoeveelheid water wat wêreldwyd vermors word as gevolg van gewasse wat nooit deur mense geëet word nie, is ‘n geskatte 550-biljoen kubieke meter.

Teen 2050 kan tot drie keer meer water as nou verbruik word.

Vleisproduksie benodig baie meer water as groente. Volgens die IME verg dit tussen 5 000 en 20 000 liter water om een kilogram vleis te produseer teenoor die tussen 500 en 4 000 liter water wat nodig is om een kilogram koring te produseer.

Hieronder is ‘n tabel wat wys hoeveel water benodig word om algemene voedselsoorte te produseer.

Voedselsoort Hoeveelheid Waterverbruik, liter
Sjokolade 1 kg 17 196
Beesvleis 1 kg 15 415
Skaapvleis 1 kg 10 412
Varkvleis 1 kg 5 988
Botter 1 kg 5 553
Hoendervleis 1 kg 4 325
Kaas 1 kg 3 178
Olywe 1 kg 3 025
Rys 1 kg 2 497
Pasta (droog) 1 kg 1 849
Brood 1 kg 1 608
Pizza Een eenheid 1 239
Appels 1 kg 822
Piesangs 1 kg 790
Aartappels 1 kg 287
Melk 1 x 250 ml glas 255
Kool 1 kg 237
Tamaties 1 kg 214
Eiers 1 196
Wyn 1 x 250 ml glas 109
Bier 1 x 250 ml glas 74
Tee 1 x 250 ml koppie 27

Bron: The guardian en IME

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0