Lusern: hoe twee Limagrain-kultivars Zoutpansdrift se lande laat glimlag

DSC02394
Die lowergroen lusernlande op Zoutpansdrift naby Douglas.
Wanneer jy aan die einde van die winter verby Zoutpansdrift naby Douglas in die Noord-Kaap ry, sal jy lowergroen lusernlande gewaar. Hier boer Hein Mulke onder meer met lusern onder besproeiing.
Lusern is nie net ’n uitmuntende bron van proteïene, vesel en vitamiene vir diere nie, maar is ook baie goed vir jou grondgesondheid.
Die diep wortelstelsel van hierdie meerjarige peulgewas, help om grondgesondheid te verbeter, wat tot voordeel is vir opvolggewasse.
Limagrain se lusern maak die verskil
Zoutpansdrift is een van vele boerderye in Suid-Afrika wat die geheim agter Limagrain Field Seeds se luserngewasse ontdek het. Deur twee van hul gewildste lusernkultivars te meng, verseker Zoutpansdrift en ander boerderye dat hulle ’n goeie opkoms kry, weerstand het teen meeste plantsiektes, en met ’n glimlag aan die einde van die seisoen bank toe kan stap.
- Riaan van Lill toets die grond waarop Zoutpansdrift se lusern geplant is.
- Dirk Coetzee glo dat dit sin maak om die WL 525 HQ- en die WL 458 HQ-lusernkultivars saam te plant.
- Riaan van Lill vertel dat goeie lusern met goeie grond begin.
Goeie lusern begin by goeie grond
Tydens ’n besoek aan Zoutpansdrift het Riaan van Lill, landboukundige vir Limagrain Field Seeds, vertel dat die eerste stap tot goeie lusern goeie grond is.
“Dit is baie belangrik om te verseker dat jy genoeg gronddiepte het voordat jy jou lusern vestig,” sê hy.
Omdat lusern ’n potensiële diep wortelstelsel het, moet jy verseker dat jou grond die wortelgroei kan toelaat.
“Zoutpansdrift het goed gedreineerde apedale-grond wat nie ’n hoë klei-inhoud het nie. Dit is beslis van die beter grond om lusern op te plant,” verduidelik hy.
Riaan meen dat solank jou grond goeie dreinering het en nie keerlae soos klipfraksies, klei of natheid het nie, is jou grond reg vir lusernplant. Chemiese keerlae soos karbonate kan ook jou luserngroei belemmer.

Edrich Mulke van Zoutpansdrift is opgewonde oor hulle lusernopbrengs.
Kies die regte kultivar
Nou dat jy weet jy het die regte grond, is die volgende stap om die beste kultivar te kry en hier kan Limagrain Field Seeds help.
Twee van hul gewildste kultivars is WL 525 HQ en WL 458 HQ en hulle het proewe van die kultivars op die Mulke-plaas geplant. Beide hierdie kultivars kom uit Noord-Amerika en uit dieselfde teelprogram.
WL 458 HQ is ’n dormansie 7-kultivar wat in 2020 in Suid-Afrika bekend gestel is, terwyl WL 525 HQ reeds vir amper 30 jaar in Suid-Afrika beskikbaar is, maar steeds een van die gewildste kultivars is onder kenners en Suid-Afrikaanse boere.
Die agtervoegsel van beide hierdie kultivars, HQ, verwys na ‘high quality’ en beteken dat altwee kultivars met spesifieke kwaliteits-eienskappe geteel word. Om so ’n agtervoegsel te kry, moet die kultivar aan die kwaliteitstandaarde van die teler voldoen.
Beide kultivars word ook geteel vir goeie weerstand teen wortel-, kroon- en blaarsiektes. Die teelproses word so gedoen om die dodelikste swamsiektes te kan weerstaan.

Dirk Coetzee, Wessel van der Merwe, Edrich Mulke en Riaan van Lill in die lusernlande.
Hoekom die twee kultivars meng?
Dirk Coetzee, weidingsportefeuljebestuurder by Limagrain Field Seeds, verduidelik dat albei kultivars in hul eie reg besonders is en dat elkeen ’n spesifieke aanwending het.
In die laaste paar jaar het die WL 525 HQ egter duurder geword as gevolg van kleiner produksies en laer saadopbrengste in die buiteland. Dus word dit al hoe duurder om WL 525 HQ na Suid-Afrika in te voer.
WL 458 HQ is weer ’n nuwer kultivar en daarom is daar groter produksie wêreldwyd en dus ook beter saadopbrengste, wat hierdie kultivar heelwat goedkoper maak.
“Boere wat aanvanklik WL 458 HQ geplant het, het die afgelope vyf jaar begin sien dat die WL 458 HQ by die WL 525 HQ kan hou in terme van opbrengste, gehalte en produksieleeftyd,” verduidelik Dirk.
Omdat die twee kultivars so eenders is, het boere egter begin om die twee te meng.
Hy vertel dat daar boere is wat reeds twee seisoene gelede op hul eie inisiatief die twee kultivars begin meng het en ongelooflike resultate verkry het.
“Vir my wat meer tegnies daarna kyk, maak dit sin. Uit proefdata in die Noord- en Oos-Kaap kan mens sien die twee kultivars se winteraktiwiteit is baie vergelykbaar. ‘n Groot deel van die mengsel se sukses kan toegeskryf word aan die feit dat beide kultivars WL en HQ is. Hulle word baie dieselfde bestuur, en deur hulle te meng kan boere hul saadkostes afbring maar nie inboet op die gehalte of opbrengs nie,” verduidelik Dirk.

Gesonde lusern lewer die beste oeste.
Die resultate spreek vanself
Op Zoutpansdrift spreek die resultate vanself. Onder die eerste spilpunt het hulle op 10 Junie 2025 die kultivars gemeng geplant en kon hulle teen middel September ’n oes van 3,1 ton per hektaar afhaal.
Onder die tweede spilpunt het hulle op 9 Junie 2025 geplant en kon hulle op 17 hektaar nog ’n oes van 3,1 ton per hektaar afhaal.
Onder die derde spilpunt het hulle einde Mei 2025 geplant en kon hulle vroeg in September ’n oes van 3,2 ton per hektaar afhaal.

Dirk Coetzee ondersoek die lusern se wortelstelsel.

Ná die eerste snit is die lusern weer goed aan die groei.
Indien jy belangstel om meer uit te vind oor hierdie twee merkwaardige kultivars of enige van Limagrain Field Seeds se ander produkte, kan jy gerus hul webtuiste besoek by www.lgseeds.co.za


