Categories: NuusPublished On: 7th March 2019

Hoe mededingend is die Suid-Afrikaanse sojaboonbedryf?

By 3 min read
548 words

SACTA_Soya_Plants_0110

Boere betaal van 1 Maart 2019 af ‘n heffing van R65 per ton vir sojabone wat verhandel word. Hierdie statutêre heffing is deur die ministerie van Landbou, Bosbou en Visserye ingestel, na rolspelers in die bedryf, verteenwoordig deur die sonneblom- en sojaboonforum, daarvoor gevra het.

Die doel van die heffing is om saadmaatskappye aan te moedig om nuwe kultivars met gevorderde saadtegnologie in die plaaslike mark beskikbaar te stel. Suid-Afrikaanse sojaboonboere plant tans hoofsaaklik saad wat hulle van vorige seisoene teruggehou het. Die Suider-Afrikaanse Saad Organisasie (SANSOR) beraam dat die terughouding van saad deur boere so hoog as 80% is in die geval van sojabone.

Dit is wêreldwyd ‘n erkende praktyk om sogenaamde oopbestuifde gewasse se graan as saad vir eie gebruik terug te hou. Die nadeel hiervan is egter dat werklike saadverkope relatief min is en dus is dit nie vir saadmaatskappye lonend om in nuwe kultivar-ontwikkeling te belê nie.

Die hoë saadterughouding veroorsaak dan dat ons sojaboonbedryf agter raak en dat ons baie moeilik in ‘n hoogs kompeterende mark sal kan funksioneer. Dit neem tot ‘n dekade se navorsing en saadteling asook kostes van etlike miljoene rand om een verbeterde kultivar te ontwikkel. Indien saadtelers nie goeie verkope kan verwag nie, sal hulle huiwerig wees om hierdie kostes aan te gaan.  

Volgens die Buro vir Voedsel en Landboubeleid (BFAP) ding plaaslike boere mee met internasionale sojaboonboere soos Amerika, Brasilië en Argentinië, waar opbrengs per hektaar die afgelope dekade met tot 1,5% per jaar verbeter het. In Suid-Afrika het opbrengs oor dieselfde tyd egter met skaars 0,4% per jaar verbeter. Een van die belangrikste redes hiervoor is die behoefte aan nuwe kultivars en bio-tegnologie.

Gemiddelde opbrengs per hektaar in Amerika is byvoorbeeld rondom 3,5t/ha, terwyl dit in Suid-Afrika minder as 2,0 t/ha is (Figuur 1). Die plaaslike gemiddelde sojaboon-opbrengs oor die afgelope 20 jaar is 40% laer as die gemiddelde opbrengs van die drie hoofproduserende lande.

Figuur 1: Internasionale gemiddelde opbrengste van sojabone
Bronne: SAGIS en FAOSTAT

Die vraag na proteïene neem wêreldwyd toe en sojabone is ‘n reuse komponent van dierevoeding, maar ook vir menslike gebruik.

Sojaboon-aanplantings in Suid-Afrika het skerp oor die afgelope 50 jaar gestyg, van minder as 10 000 ha tot 787 000 ha in 2017/2018 (sien Figuur 2). Belegging in perskapasiteit en die bevordering van die voordele van sojabone as wisselbougewas het meer boere oorreed om dit by hulle boerdery in die somersaaigebiede in te sluit.

Figuur 2: SA sojaboon oppervlakte en gemiddelde opbrengs sedert 1970
Bronne: SAGIS en BFAP

In 2017 het sojabone die aanplanting van sonneblomme verbygesteek as die tweede grootste somergewas, in terme van die area wat aangeplant is. BFAP beraam dat Suid-Afrika tot een miljoen hekaar sojabone binne die volgende vyf tot tien jaar sal aanplant.

Die tegnologieheffing wat op 1 Maart in werking tree word deur die Suid-Afrikaanse Teling- en Tegnolgie Agentskap (SACTA) ingevorder en bestuur. Dit is betaalbaar op die eerste verkoop van sojabone wat in Suid-Afrika geproduseer is, ongeag die graad daarvan.

SACTA is ‘n nie-winsgedrewe maatskappy wat die heffing invorder, en aan saadmaatskappye – volgens hulle markaandeel – uitbetaal as gewaarborgde vergoeding vir hulle belegging in gevorderde saadtegnologie.

Die heffing is geldig van 1 Maart 2019 tot 29 Februarie 2020. Daarna verhoog die heffing tot R80 per ton tot en met 28 Februarie 2021.

Vir meer inligting kontak Gert Heyns, uitvoerede hoof van SACTA by 082-388-0211.

Webtuiste: www.sactalevy.co.za

Bron: Brand Republic

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0