Hittespanning deel 2 – Veebestuur in die somer: Melkkuddes

Cow-eating-feed-in-a-barn-e1569973402994-1200×540
Somermaande in Suid-Afrika word gekenmerk deur uitermatige hoë temperature wat ՚n groot invloed op dieregesondheid het. Hoë temperature het nie net ՚n invloed op vleis- en melkproduksie nie, maar ook op reproduksie en dieresiektes.
Veeboere, hetsy bees-, skaap-, vark en hoenderboere, moet die nodige maatreëls tref om hittespanning én kouespanning tot die minimum te beperk deur koelte, genoeg water en selfs aangepaste voeding te gee. Tree ook voorkomend op deur diere teen siektes wat met hitte verband hou te beskerm.
In die volgende artikels kyk ons na die invloed van hittespanning op melk- en vleisbeeste se produksie en reproduksie, die invloed van hitte en koue op skaapboerdery, en die beste omstandighede vir varke en hoenders onder hoë temperature.
Faktore wat hittespanning verhoog
Volgens dr Heinri Spangenberg, dierevoedingkundige, word alle warmbloedige spesies negatief beïnvloed deur uiterste weersomstandighede en temperature.
Hitte of koue kan albei tot verhoogde spanningsvlakke lei. Dit sluit in:
• Erge hitte met hoë humiditeit, koue met reën en wind, en stofstorms;
• Die afstande en die omstandighede waaronder die vee na en van weiding moet stap;
• Diere wat in kleiner oppervlaktes onderdak in intensiewe toestande soos melkstalle en voerkrale aangehou word.
Dit geld ook vir beeste in ekstensiewe toestande, maar meer daaroor in die volgende hoofstuk.
Afname in melkproduksie
Volgens dr Spangenberg kan melkkoeie se produksie in lang tydperke van hoë temperature en/of ՚n hoë temperatuurhumiditeitsindeks (THI) met tot ses liter per dag afneem.
Tekens van hittespanning
• afname in melkproduksie;
• afname in diere se liggaamskondisie;
• akute gesondheidsprobleme;
• duidelike afname in dragtigheid;
• hoë voorkoms van aborsies
• hoë vrektesyfer.; en
• subkliniese en kliniese rumenasidose of suurpens.

Genoeg koel, skoon drinkwater moet te alle tye vir vee beskikbaar wees.
Suurpens
Suurpens kan ՚n probleem wees as ՚n kudde se voeding tydens die somermaande nie korrek bestuur word nie. Elke voerkomponent het ’n inherente hitte-indeks; ruvoer veroorsaak byvoorbeeld meer hitte in die gistingsproses as kragvoer. Gewoonlik word die dieetmengsel digter gemaak deur minder ruvoer en meer konsentraat of vette te voer,
maar dit kan tot suurpens of rumenasidose lei. Volgens dr Spangenberg moet voorkom word dat die rumen-pH te
laag daal en suurpens veroorsaak. Dit kan gedoen word deur die neutraalbestande vesel (NDF)-vlak in die dieet konstant te hou deur meer hoë-vesel vullers soos koringsemels te gebruik, met slegs ’n effense verlaging in laagverteerbare ruvoer.
Die afname van droëmateriaalinname (DMI) van koeie onder hittespanning herstel, maar dit neem langer om die afname in melkproduksie te herstel. Dit kan toegeskryf word daaraan dat uier- en spierweefsel meer energie
tydens hittespanning vereis en die herstel in DMI word grootliks ten koste van melkproduksie hiervoor gebruik.
Ten einde melkproduksie tydens hittespanning normaal te hou het die koeie meer energie, en spesifiek glukose, nodig.
Voorkom suurpens so:
• balanseer voeding vir aminosure en veral voldoende metionien;
• gebruik ՚n ionofoor soos monesien, wat die propioonsuur verhoog en meebring dat laasgenoemde in die lewer na glukose omgeskakel word;
• gebruik voedingstowwe wat die are wyer maak en afkoeling aanhelp;
• middels soos koeksoda, kan die pH stabiel hou om suurpens te voorkom;
• genoeg kalium in die dieet help die verlies in sweet aanvul;
• gebruik rumenbeskermde vette en rumenspesifieke gis.
Bekamping van hittespanning
Volgens dr Spangenberg kan hittespanning op verskillende maniere bekamp word. Dit sluit in:
Water
Water word nie net gebruik om die beeste af te koel nie, maar vars, skoon, koel water is ook die belangrikste deel van voeding. Koeie se waterinname verhoog met tot 20% tydens hittespanning. Hou in gedagte dat ՚n koei in normale temperatuur vier keer haar melkproduksie aan water moet inneem, en nog meer in die warm somermaande. Stof kan die dier se lugweg aantas en tot ontsteking lei, maar dit lei ook tot ՚n afname in die inname van droë materiaal. Beperk stof in die melkery en voerkrale tot die minimum.
Modder
Modder by die vreetgbied verhoog hittespanning, wat lei tot ՚n afname in DMI en dus ՚n afname in produksie. Waar modder is, is die humiditeit hoër, wat die hittespanning verhoog. Hou modder uit die krale en hougebiede.
Beligting
Navorsing het getoon dat die korrekte beligting diere se metabolisme verhoog, wat lei tot ՚n verhoogde DMI wat deur hittespanning verlaag word.
Algemene beginsels by melkerye en voerkrale
Hittespanning moenie net in melkerye en voerkrale bestuur word nie, maar in alle omstandighede.
Beperk hittespanning tot die minimum deur:
• te sorg vir koelte by suipplekke;
• die diere koel te hou met genoeg water, voldoende skadu en waaiers, ook waar koeie in oop kampe aangehou word;
• die loopafstande so kort as moontlik te hou;
• staantyd in die hougebied voor melking so kort as moontlik te hou;
• voer vroegoggend (40%) en laatmiddag (60%) te verdeel;
• ou voer wat warm geword het te verwyder;
• te sorg vir skadu vir diere wat nie behuising het nie;
• nie op die warmste tyd van die dag met die diere werk nie;
• binne behuisingstelsels kan koeie makliker koel gehou word deur waaiers aan te bring wat ventilasie kan verbeter; en
• die koeie in die voergang nat te spuit om af te koel.
Bronverwysings
Du Pisanie, K. (2019) Beheer hittestres in die warm somermaande.
Veeplaas https://agriorbit.com/beheerhittestres-in-die-warmsomermaande/