Categories: NuusPublished On: 18th February 2026

Halfmiljoen rand boete vir besit van skurwejantjies en ‘n skilpad

By 4 min read
775 words

Mr David Navarro Roman_

Die 41-jarige David Navarro Roman is skuldig bevind en beboet met R500 000 vir ‘n string oortredings nadat 22 ietermagô-gordelakkedisse en ‘n gespikkelde padloper-skilpad in sy besit gevind is. (Bron: CapeNature)

‘n Spaanse burger wat met ‘n klomp Noord-Kaapse reptiele in sy besit vasgetrek is, is ‘n boete van ‘n halfmiljoen rand opgelê.

Die 41-jarige David Navarro Roman is op 12 Februarie in die Vredendal streekhof skuldig bevind aan die onwettige besit en invoer van 22 ietermagô-gordelakkedisse, oftewel skurwejantjies (Ouroborus cataphractus) en een gespikkelde padloperskilpad (Chersobius signatus) vanaf die Noord-Kaap.

Volgens Navarro het hy glo as toeris in November 2025 in Suid-Afrika aangekom en in Klawer in ‘n hotel gebly. Daar het hy die skurwejantjies en skilpad gekoop van ‘n persoon wie se besonderhede hy glo nie kon onthou nie.

Daarna is hy na die Vredendal-omgewing  waar hy die diere in sy hotelkamer aangehou het tot iemand die polisie daarvan in kennis gestel het, aldus Eric Ntabalazisa van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Die Veediefstal- en Bedreigde Spesies-eenheid en CapeNature het die reptiele op 29 November tydens ‘n klopjag in die kamer gevind.

Hy het op 12 Februarie in die Vredendal-streekshof voor adv Aradhana Heeramun verskyn waar hy skuldig gepleit het. Hy is op al die klagte skuldig bevind, naamlik die twee wat spruit uit die Wes-Kaapse Ordonnansie 19 van 1974 wat met die besit en invoer van beskermde wilde diere sonder die nodige permitte verband hou, en die derde aanklag ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad 121 van 1998.

Hy is skuldig bevind en tot twee jaar gevangenisstraf gevonnis vir die besit van fauna sonder dokumentasie, die invoer en vervoer van wilde diere sonder ‘n permit, asook twee jaar vir geldwassery. Die vonnisse is onder voorwaardes opgeskort vir vyf jaar. Hy is ongeskik verklaar om ‘n vuurwapen te besit. Bowenal is hy beveel om ’n boete van R500 000 te betaal.

Volgens hom was hy bewus daarvan dat hy permitte moet hê om die reptiele te besit, te vervoer of daarmee handel te dryf.

“Navarro het erken dat ‘n konfiskeringsbevel van R500 000 ingevolge Artikel 18 van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (POCA) uitgereik kan word,” het Ntabalazisa bygevoeg. “Hierdie fondse sal verdeel word tussen die Strafbare Bateherwinningsrekening (CARA) en Kaapse Natuurbewaring, wat verdere pogings tot wildbewaring en -afdwinging ondersteun.”

“Onwettige handel in diere en plante is wêreldwyd een van die grootste onwettige aktiwiteite naas dwelmhandel, wapensmokkelary en mensehandel,” sê Ntabalazisa.

Volgens hom  is dit belangrik dat omgewingsmisdaad betyds vasgevat word: Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne is beperk en ‘n gebrek aan tydige optrede  kan permanente skade aanrig. Omgewingsmisdaad is een van die mees skadelike en ekonomies betekenisvolle vorme van kriminele aktiwiteit wêreldwyd.”

Van die gordelakkedisse wat onwettig in die Noord-Kaap gekoop is en na die Wes-Kaap gesmokkel is. (Bron: CapeNature)

CapeNature

CapeNature het beslag gelê op die reptiele en dit oorgeplaas na ‘n fasiliteit waar hulle met die nodige sorg hanteer sal word.

Die ietermagô-gordelakkedis is besonder kwesbaar omdat hulle in groepe saamleef. Wanneer die hele plaaslike bevolking verwyder word, sterf hulle uit. Die oorblywende natuurlike bevolkings is dikwels klein en verspreid, wat dit moeilik maak vir die kolonies om te herstel. Weens hierdie kwesbaarheid is die spesie op Suid-Afrika se Nasionale Lys van Sensitiewe Spesies ingesluit.  (http://nssl.sanbi.org.za/)

Die gespikkelde dwergskilpad is een van die wêreld se kleinste skilpadspesies en kom slegs in sekere dele van Suid-Afrika voor. Soos baie ander endemiese spesies is dit besonder vatbaar vir oorbenutting en habitatverlies.

Troeteldiermark

Die arrestasie volg op volgehoue, verbete pogings deur bewaringsowerhede om die onwettige versameling en handel in bedreigde reptiele hok te slaan. Dr. Ashley Naidoo, uitvoerende hoof van CapeNature, het sy ernstige kommer uitgespreek oor die toename in die onwettige versameling van hierdie reptielspesies.

Volgens Naidoo word die spesie bedreig deur wydverspreide, ongereguleerde en onvolhoubare uitbuiting van natuurlike bevolkings. Hy het beklemtoon dat die habitat van oorblywende bevolkings beskerm moet word om verdere uitbuiting te voorkom omdat die onwettige handeldryf in hierdie spesies vir die troeteldiermark die spesie tot uitwissing kan dryf.

Volgens dr Naidoo is dit moeilik om oë oral in die uitgestrekte natuurlike gebiede van die Wes-Kaap te hê om hierdie tipe onwettige aktiwiteite hok te slaan. Daarom maak CapeNature sterk staat op waaksame burgers en vennootskappe met instellings binne en buite die regering om suksesvolle wetstoepassing te verseker.

Onwettige wildhandel hou nie net ’n bedreiging vir biodiversiteit in nie, maar ondermyn ook bewaringspogings van die land se natuurlike erfenis. Die vraag na eksotiese troeteldiere is dikwels die dryfveer vir stropery en smokkel van skaars en beskermde spesies wat ekosisteme ontwrig en langtermyn skade veroorsaak.

Samewerking tussen owerhede en die publiek bly ’n kernfaktor in die stryd teen wildmisdaad. CapeNature doen ’n beroep op die publiek om enige inligting oor onwettige jag of versameling van wild by die naaste CapeNature-kantoor aan te meld of die noodnommer 087-087-9262 te skakel.

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1