Groet, Grietjie van Gat: Hier kom Hercules van Heidelberg

pampoen 4reg
Die grootste pampoen in die land én in die Suidelike Halfrond het die afgelope naweek die skaal op ‘n hele 1, 120 TON getrek.
Piet Lotz van Blombos in die Riversdaldistrik in die Suid-Kaap het die pampoen gekweek van die 2560-Gienger wat hy al drie jaar terug van die huidige rekordhouer Travis Gienger in Noord-Amerika gekry het, maar hy kon die pit eers in Oktober laasjaar in die grond kry.
Piet, wat in 2013 vir die eerste keer vir die Heidelberg Groot Pampoen-kompetisie wat elke jaar in Maart gehou word, ingeskryf het , glo vanjaar se pampoen kon dalk die wêreldrekord van 1,246 ton oortref het.
Maar die noodlot het ‘n stokkie daarvoor gesteek. Die stronk van die bielie van ‘n pampoen het ‘n maand voor die kompetisie die gees gegee en toe het die pampoen net stadiger gegroei. .
Dis nie maklik om so ‘n groot pampoen te kweek nie, maar van die vier pitte wat hy geplant het, het twee monsterpampoene gelewer: dit ou grote en ‘n tweede een wat 1,062 kg geweeg het, maar ‘n deelnemer mag net een pampoen inskryf. Nog ‘n groot pampoen het op sowat 50 dae gebars.
Die verstommende grootte van albei die pampoene verdwerg ast’ware die ander twee wenpampoene: Naaswenner André du Plessis van Riversdal s’n van 954 kg in tweede plek, en Pieter Conradie van Worcester se pampoen van 737,5 kg, in derde plek.

Resep vir sukses
Piet boer by Blombos met dekriet ek vleisbeeste. Sy groentetuin is 20 x 20 m, wat beteken elke pampoen het 10 x 10 m spasie. En al wat hy plant is pampoene.
Piet volg al die jare dieselfde resep vir sukses. “Ek stuur elke jaar grondmonsters weg om te sien van watter elemente daar te min of te veel is, want dit is baie belangrik om die balans perfek reg te kry.” Hy gebruik Kynoch se bemesting.
Verder het hy sy pampoene drie maal ‘n dag met drupbesproeiing bietjie water gegee, want die grond moet altyd egalig nat bly.
Die tydsberekening moet ook goed wees. Hy het die befaamde pit op 6 Oktober 2024 geplant en vertroetel totdat hy hulle tussen 60 en 65 dae later kon bestuif.
“Twee weke voor en twee weke na bestuiwing is ‘n kritieke tyd, want dan vind seldeling plaas.”
Bestuiwing word met die hand gedoen. “Ek besluit of ek die blom met die pampoen se eie stuifmeel wil bestuif om gene vas te teel, of met die van ‘n ander plant om daardie kenmerke in te bring. Die manlike en vroulike blomme word die aand net voordat die blomme oopgaan met ‘n lappie bedek. Die volgende oggend word die lappie op die manlike blom op die vroulike blom geplaas. Die lappie voorkom lukrake en ongewenste bestuiwing deur bestuiwers soos bye: hier word met ‘n plan gewerk!
Op dag 107 was die pampoen gereed vir die fees. Ek hou daarvan om die pampoen tussen 110 en 114 dae te laat lê. Dan begin jou moeilikheid en dan moet jy hom soos ‘n babatjie oppas. En dan weet jy hy is ryp en reg vir die skou.”
Maar dis harde werk om die pampoene groot te kry. “Mens moet elke dag die pampoene inspekteer. Jy moet op die uitkyk wees vir luise en witroes, want jy moet die peste dadelik behandel om dit in toom te hou.”
As dit nodig is, moet jy ‘n chemiese middel vir een strategiese bespuiting gebruik. “Chemie op die blare laat die pampoene stadiger groei, maar as witroes uitbreek, groei die pampoene ook stadiger.”
Hy het elke dag vir ses maande lank ten minste twee ure saam met sy pampoene deurgebring. “Dit vat so ‘n halfuur per pampoen. Jy moet net kophou: kyk vir slegte plekkies, maak die wond skoon; jy moet kyk dat die pampoen reg groei na die einde toe. Maar dis lekker werk: om tussen die pampoene te wees maak jou kop skoon aan die einde van ‘n lang dag en sit jou sommer in ‘n beter bui…”
Prysgeld
Dit is die derde jaar wat Piet se pampoen wen. Hy weet nog nie wat hy met die prysgeld van altesaam R70 000 gaan doen nie: R20 000 as wenner van die Heidelberg-kompetisie, en nog R50 000 omdat dit ‘n Suid-Afrikaanse rekord is. Hy het ook ‘n 5000 liter watertenk by Buffalo Tenks gekry.
“Ek sit elke jaar maar weer die geld terug in die tuin of huis, maar ek weet nie wat ek vanjaar gaan doen nie.” Dalk die familie bederf?
Sy vrou Elizna het voor die tweeling se geboorte self pampoene gekweek, so sy weet van. “Die tweeling, Willem en Albert, is sestien maande oud, hulle kan nog nie in die tuin help nie, hulle gaan meer breek as help! Maar dit sal goed wees as hulle later kan saamwerk.”
Wat maak hy met al die pampoen? “Ons het te veel pampoen! Ek het die ouetehuis op die dorp gevra om vir hulle te kom haal, maar hulle sê ook al dis nou genoeg!”
Die wenpampoen se pitte word verkoop aan aspirant-pampoenkwekers. “In 2023 het oom Pinkie Swart, toe die kampioen, ‘n pampoenplantjie by my huis kom aflaai, en dis waar my belangstelling begin het. My doelwitte hou aan skuif, volgende jaar gaan ek weer probeer, dalk vir die wêreldrekord?
“Maar die pampoene hou ‘n mens nederig: daar is altyd uitdagings. Een jaar doen jy goed, die volgende jaar bring daai pampoen jou weer aarde toe.
Kontakbesonderhede
Kontak Piet Lotz of sy Facebook-blad by https://www.facebook.com/piet.lotz of by admin@pumpkinfestival.co.za

