Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 7th May 2024

Groentetuin vir beginners deel 11: Bestuiwing

By 4 min read
711 words

bestuiwing 9

Wat is bestuiwing?

’n Blom se belangrikste taak is om saad te produseer sodat die plant kan voorplant. Om voort te plant het ’n blom ’n meeldraad wat stuifmeel produseer (die manlike deel) en ’n stamper met styl en vrugbeginsel met saadknoppies (die vroulike deel) nodig.

Wanneer die stuifmeel vanaf die helmknop van die meeldraad na die stamper van dieselfde of ’n ander plant van dieselfde soort oorgedra word, vind bevrugting plaas. Die stuifmeel beweeg langs die styl af tot by die vrugbeginsel waar die saadknoppies ontwikkel en die plant se saad ontwikkel. Bedeksadiges (angiosperme) dra blomme met ingeslote saadknoppe, terwyl naaksadiges (gimnosperme) naakte sade in keëls of aan oop strukture dra.

Bye is van die belangrikste bestuiwers in ՚n groentetuin en hulle teenwoordigheid moet aangehelp word deur nie van skadelike chemiese insekdoder gebruik te maak nie. (Bron: Pixabay)

Biotiese en abiotiese bestuiwing

Daar is verskeie maniere hoe die manlike stuifmeel by vroulike gamete uitkom. Slegs sowat 10% van die plante maak van abiotiese bestuiwing deur water en wind gebruik. Biotiese bestuiwing maak gebruik van diere as bestuiwers, waarvan daar sowat 200 000 soorte bestaan.

Die meeste van hulle is insekte, maar daar is ook gewerweldes soos voëls en vlermuise wat blomme bestuif. Die plante se kleurryke, geurige blomme lok onder meer insekte soos heuning- en hommelbye, perdebye, skoenlappers, kewers en selfs miere wat agter die nektar aan op die blom kom voed. Die stuifmeel sit aan die lyfie vas en versprei so na die blom se stamper. Blomme wat deur voëls bestuif word het dikwels rooi kroonblare en nie ’n skerp reuk nie, want hulle maak nie op reuk staat om nektar te vind nie.

Blomme wat vlermuise en motte lok het dikwels ’n skerp reuk en is wit, wat makliker in die nag sigbaar is. Laaggroeiende plante lok kewers en selfs slakke wat die bestuiwing doen. Sommige plante se blomme ruik glad nie lekker nie en lok vlieë wat ook help met bestuiwing. Tuiniers sit soms self handjie by om met bestuiwing te help, veral as daar min bestuiwers in ’n tuin is. ’n Tuinier kan help deur byvoorbeeld die manlike blomme van ’n pampoenplant te pluk en die vroulike blomme daarmee bestuif sodat hy van ’n oes verseker is.

Metgeselplante met helderkleurige blomme wat tussen die groente geplant word hou groot voordeel in. Blomplante soos onder meer kappertjies, afrikaners en jakobregops lok voordelige insekte soos bye en skoenlappers wat help met bestuiwing. Die metgeselplante kan ook ongewenste insekte wat die groente benadeel afweer.

Self- en kruisbestuiwing

Selfbestuiwing vind plaas wanneer die stuifmeel van ’n blom na dieselfde blom of ’n ander blom op dieselfde plant oorgedra word. Dit kom veral voor by eenjarige plante waarvan die meeldrade en vrugblare ewe lank is. Kruisbestuiwing vind plaas wanneer die stuifmeel van een blom na ’n ander blom van dieselfde soort aan ’n ander plant oorgedra word. Die blomme het gewoonlik langer meeldrade as vrugblare.

Wanneer daar nie genoeg bye in ՚n groentetuin is nie, help die tuinier soms om die vroulike blomme se stampers met die manlike blomme se stuifmeel
te bestuif. (Bron: Pixabay)

Saadjie tot saailing

Die plant se nuwe lewensiklus begin sodra bestuiwing plaasgevind het. Binne-in die saad is die embrio wat beskerm word deur ’n buitenste dop wat die saadlaag genoem word. Saad wat in ’n groeimedium, hetsy ’n saailingmengsel, ’n voorbereide bedding of waar dit ook al op ’n geskikte plek geval het, het suurstof, water, lig en hitte nodig om te ontkiem.

Die eerste fase van die plant se lewensiklus vind plaas wanneer die embrio binne die saadlaag ’n worteltjie maak wat in kiemwortels ontwikkel. Die kiemwortels neem voedingstowwe, suurstof en water uit die groeimedium en indien dit warm genoeg is ontwikkel daar gou ’n lootjie wat bokant grond verskyn en twee kiemblaartjies ontwikkel. Met verloop van tyd ontwikkel die wortels ondergronds net soos wat die stam en blare bo die grond ontwikkel. Die volwasse plant dra blomme wat opnuut ná bestuiwing bevrug word, groei en saad ontwikkel.

Bronverwysings

Anthony, D. (2014) Enigeen kan groente kweek. Metz Press ISBN 978-1-928201-12-0

Bales, K. (2020) The plant life cycle for kids. Thoughtco https://www.thoughtco.com/plant-life-cycle-for-kids-4174447

Bestuiwing. (2021) Wikipedia https://af.wikipedia.org/wiki/Bestuiwing

Brand, D. (2023) Lewensiklus van plante. Weet https://weet.co.za/skoolwerk/lewensiklus-van-plante/

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0