Groei groot met Scania

scania 1
“Enigeen wat lewendehawe in ’n ander trok as ’n Scania vervoer, moet sy kop laat lees,” sê Alvin Steenkamp van die Cavalier-groep buite Cullinan. Sowat 7 500 skape en 800 beeste word elke week na dié houkrale en slagpale aangery vanaf boere en veilingskrale regoor die land.
“Ons het sewe Scanias, maar hulle doen omtrent dertig gewone trokke se werk,” vertel Alvin.
Hy sê daar loop byvoorbeeld elke nag ’n trok van Upington af met skaap. Alvin is self van daardie wêreld af, waar mense nog reguit praat en sê wat hulle dink. Oor Scania se vragmotors en dienslewering is hy veral uitgesproke.
“Jy kan nie met diere agterop langs die pad gaan staan nie, dit is waarom jy ’n betroubare voertuig soos Scania nodig het. En ás iets sou breek, moet jy die gemoedsrus hê dat die probleem baie gou opgelos sal wees,” sê hy.
Alvin het in 2010 deel van die Scania-familie geword. Hy het toe in Upington die lewendehawe-onderneming gekoop en moes ’n manier vind om sonder enige beskikbare kapitaal drie vragmotors aan te koop.
Hy vertel dat hy met Scania gaan praat het oor sy sakeplan en vir hulle gevra het om hom en sy onderneming te vertrou. “Ek het met drie trokke daar uitgestap en nog nooit weer omgekyk nie.”
Die drie het ondertussen tot sewe aangegroei en hulle word elke drie jaar, op so 700 000 tot 800 000 km, op nuwe Scanias ingeruil.
Alvin sê in al die jare met al die derduisende kilometers kan hy op die vingers van een hand tel hoeveel keer daar probleme was met ’n trok.
Die een keer het ’n vragmotor skuins na middernag van Carnarvon af tussen Prieska en Groblershoop gaan staan op pad na ’n veiling in Upington. Alvin het die Scania-noodnommer geskakel. Hulle het die bestuurder se nommer gevra en uitgevind presies waar is die trok en wat is die probleem.

Alvin Steenkamp glo daaraan dat diere so rustig as moontlik moet wees terwyl hulle aangery en aangehou word, vir hulle eie welsyn en ook om uiteindelik as ’n goeie, sagte vleisproduk op die verbruiker se bord te beland.
“Die man in die dienssentrum het vir my gesê ek moet gaan slaap, dit is nou verder hulle probleem. Die volgende oggend sewe-uur kry ek ’n oproep om te sê my trok is in Upington reg om te laai.”
Die vragmotor kon nie dadelik langs die pad herstel word nie, maar Scania het ’n ander voorhaker gestuur om die leunwaens te haak en die stukkende trok op hulle koste Bloemfontein toe gesleep vir herstelwerk.
’n Ander keer was daar ’n trok met ’n gebarste waterpyp naby Parys. Die ondersteuningspan praat eers rustig met die bestuurder dat hy sy mening kan gee oor wat fout is en dan vat hulle wat nodig is vir die herstelwerk saam trok toe. Drie uur later was die vrag weer aan die beweeg en Alvin is die hele tyd op hoogte gehou van die vordering.
Hy sê dit help ook baie dat Scania die bestuurders behoorlik oplei om nie net die vragmotor op die pad te hanteer nie, maar ook om die basiese werking te verstaan. As daar enige tegnologie aan die vragmotor verander, kom verduidelik hulle dit ook aan almal.
Alvin se diensplan behels dat hy ’n vaste bedrag per kilometer betaal en dit dek al die nasienwerk en enige moontlike herstelwerk. Dit is dus maklik om daarvoor te begroot en daar is nooit enige skielike groot, onverwagte uitgawes nie.
Die beste deel is egter die goeie verhouding met Scania se mense. Hy sê hy het seker die kleinste vloot Scanias in die land, maar Scania Suid-Afrika se besturende direkteur en ander topverteenwoordigers het al die pad Upington toe gery om by Alvin in te loer en sy mening oor die trokke te vra!
Hy sê die een ding wat hy hulle kon verseker is dat hulle trokke die grondpaaie in die Kalahari kan hanteer en as ’n trok daar hou, sal hy oral in Afrika hou.
Kies ’n vragmotor van ’n maatskappy wat wil help dat jou onderneming groei. Skakel Scania se hoofkantoor by 011-661-9600 om uit te vind waar is jou naaste handelaar. Besoek gerus ook www.scania.co.za.

Humphrey Mojaki is een van Alvin Steenkamp van Cavalier-groep se vragmotorbestuurders. Hy het nou so 1,8 miljoen kilometer agter die stuur van Scania-trokke deurgebring en kan van net een keer onthou dat hy langs die pad hulp moes kry.