Categories: Artikels, Gewasproduksie, SA295-gewasproduksiePublished On: 22nd August 2024

Grasse van Suid-Afrika deel 8: Pluime

By 5 min read
913 words

Ehrharta calycina

Gewone ehrharta (bron: jkirkhart35)

Ngongoni-steekgras (Aristida junciformis)

Baie reënval en klam grond, dít is waar jy die ngongoni-steekgras sal aantref. Hierdie indringergras is baie hard en swak vir weiding. Diere sal veel eerder eers ander grasse oorbewei voordat hulle na hierdie gras sal draai. In so ՚n geval sal hierdie gras baie toeneem in hoeveelheid.

Hoe ken ek dit uit?

  • Baie dun halms
  • Blare is smal en gerol
  • Halms het donker knope

Eenjarige steekgras (Aristida adscensionis)

Eenjarige steekgras groei in alle grondsoorte, maar is lief vir versteurde grond. Dit is ook gereeld die eerste gras om in versteurde grond te begin groei. Hierdie gras kan nadelig wees vir die wolgehalte van skape en angorabokke, aangesien die sade daarvan die haarkleed kan binnedring.

Hoe ken ek dit uit?

  • Min blare
  • Knope is pers
  • Halms is vertak

Kwasgras (Pentaschistis curvifolia)

Hierdie tipe gras sal jy aantref in ՚n hele verskeidenheid habitatte, hoewel dit gewoonlik in fynbos groei. Dit is ook lief vir sanderige grond.

Kwasgras het maar ՚n gemiddelde weidingswaarde.

Hoe ken ek dit uit?

  • Blare wat droog is, krul
  • Bloeiwyse is ՚n ovaal, bruin pluim
  • Halms is pienk

Steekwiet (Stipagrostis namaquensis)

Steekwiet is lief vir droë rivierlope en ander versteurde gebiede. Jy sal dit elke nou en dan op sandduine aantref. Dit is baie lief vir sand- en gruiserige grond. Die jong gras is lekker vir weiding, hoewel die blaartjies vinnig hard word. Steekwiet is ՚n baie goeie gras wat die grond in rivierlope stabiliseer en opdrifsels vang.

Hoe ken ek dit uit?

  • Struikagtig
  • Naaldagtige blare
  • Litte van halms is donkerpers tot bruin

Kalkgras (Enneapogon scoparius)

Kyk uit vir hierdie gras in droë bosveld en grasveld. Dit sal gewoonlik in bome se skadu groei. Kalkgras is lief vir klipperige grond en groei goed teen klipperige skuinstes. Die blare is hard en onsmaaklik, maar word geëet as daar nie ander weiding beskikbaar is nie.

Hoe ken ek dit uit?

  • Blare is draadvormig gerol
  • Groei in skadu
  • Bloeiwyse is ՚n aarvormige pluim

Swartsaadsorghum (Sorghum versicolor)

Swartsaadsorghum groei in die bosveld, in swart kleigrond. Dit hou van gebiede waar water versamel. Hierdie gras bevat blousuur wat gevare vir vergiftiging inhou. Dit bevat ook ՚n waardevolle palmrosa-olie. Hoe ken ek dit uit?

  • Slap halms
  • Blompakkies is swart en blink
  • Blaarskede is pers

Fluitjiesriet (Phragmites australis)

Hierdie gras is ՚n ware waterliefhebber en groei naby waterbronne, waar dit dig kan groei. Fluitjiesriet is belangrik vir vleie waar dit help teen verspoeling en water filtreer. Voëls vind gereeld skuiling in die gras. Dit kan ook help met erosiebeheer.

Hoe ken ek dit uit?

  • Riet wat regop staan
  • Blompakkies het syagtige hare
  • Blaarskyf het ՚n slap punt

Negenaaldgras (Enneapogon cenchroides)

Hierdie tipe gras groei in subtropiese gebiede, in versteurde veld. Dit hou van sanderige en klipperige grond. Negenaaldgras is baie gehard en is waardevol in gebiede waar daar lae reënval is. Dit kan vinnig versprei en ՚n veld bedek.

Hoe ken ek dit uit?

  • Blare is bedek met fluweelagtige hare
  • Onderste knope is knievormig
  • Knope is bedek met digte hare

Berg-setaria (Setaria lindenbergiana)

Hierdie gras kom gewoonlik voor in die bosveld, maar ook partykeer in die grasveld en fynbos. Die gras is smaaklik en word gebruik om hooi mee te maak.

Die saad is gewild by voëls. Hoe ken ek dit uit?

  • Blare is blougroen
  • Blare is geplooi
  • Onderste blaarskedes is platgedruk

Munnik-swenkgras (Festuca scabra)

Munnik-swenkgras groei in onversteurde sandgrond. Dit is goed vir weiding, maar kom gewoonlik yl versprei voor.

Hoe ken ek dit uit?

  • Basis van halm is bolvormig
  • Onderste blaarskede het fluweelagtige hare
  • Blaarskedes breek op in vesels

Gewone ehrharta (Ehrharta calycina)

Dié gras groei in ՚n hele reeks verskillende habitatte. Dit blom gewoonlik tussen September en November. Gewone ehrharta is baie smaaklik en goed vir weiding.

Hoe ken ek dit uit?

  • Bloeiwyse is ՚n oop pluim
  • Bloeiwyse en halms is pers
  • Blare is meestal aan die onderkant van die plant

Kortbeen-boesmangras (Stipagrostis obtusa)

Kortbeen-boesmangras hou daarvan om in sandgrond te groei. Dit is ՚n baie smaaklike gras, en dit is daarom geen verrassing dat dit een van die beste weidingsgrasse in suidelike Afrika is nie! Hoe ken ek dit uit?

  • Knope is donkerkleurig
  • Wortels is met ՚n laag sand bedek
  • Blare is kort, gerol en gekrul

Langbeen-boesmangras (Stipagrostis ciliata)

Hierdie gras groei in droë gebiede. Dit groei ook dikwels in sandgrond. Dié smaaklike weidingsgras het goeie blaarproduksie en hoë voedingswaarde.

Hoe ken ek dit uit?

  • Daar is ՚n kring lang, wit hare om die knoop
  • Droë blare is gekrul
  • Halms is geel

Skadu-ehrharta (Ehrharta erecta)

Skadu-ehrharta groei in gebiede wat klam is met skadu. Alhoewel hierdie gras smaaklik is, het dit lae blaarproduksie en is daarom net ՚n gemiddelde weidingsgras.

Hoe ken ek dit uit?

  • Slap halms
  • Blompakkies is liggroen
  • Blaarskede is dun en rond

Hawersaadgras (Ehrharta longiflora)

Hawersaadgras kom dikwels in winterreëngebiede voor. Dit is gereelde onkruid in tuine en landerye. Hierdie gras is in teorie ideaal vir weiding, smaaklik met goeie blaarproduksie, maar kom nie in weivelde voor nie.

Hoe ken ek dit uit?

  • Hangende blompakkies
  • Blompakkies is liggroen met pers kafnaalde
  • Lemmas is geriffel

ProAgri sê dankie aan Frits van Oudtshoorn wat sy boek, Grasse van Suider-Afrika, beskikbaar gestel het as ՚n handleiding vir die reeks. Frits is ՚n weidingskonsultant en kan gekontak word by (+27)78-228-0008 of frits@alut.co.za.

Indien jy belangstel om meer oor die grasse van Suider-Afrika te leer, kan jy Frits se boek koop by Soutpansbergweg 121, Riviera, Pretoria of aanlyn via marketing@briza.co.za

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0