Categories: Artikels, Vee en Wild, VoedingPublished On: 20th January 2025

Grasse van Suid-Afrika deel 13: Pluime

By 4 min read
815 words

Katsterttaaipol

Katsterttaaipol

Bosluisgras (Eragrostis echinochloidea)

Bosluisgras groei in versteurde grond, dikwels rondom panne. Terwyl die blare vars en groen is, word dit goed benut vir weiding, maar die blaarproduksie is laag en dit het ’n gemiddelde smaaklikheid.

Hoe ken ek dit uit?

• Blompakkies is dig teenmekaar
• Knope is pers
• Blaarskede is saamgedruk en papieragtig

Eenjarige blougras (Poa annua)

Hierdie gras groei in nat grond en koel omgewings, soos naby waterpype en in die skadu. Dit is wêreldwyd ’n onkruid wat bruin kolle in die veld los wanneer dit vrek. Dit is die maklikste om gedurende die winter te probeer beheer.

Hoe ken ek dit uit?

• Blare is sag en blink
• Blaarpunt is stomp
• Ligula is ’n wit membraan

Rooikopergras (Eragrostis eteromera)

Rooikopergras groei in die bosveld en in klam gebiede, soos naby vleie. Dit het ’n gemiddelde weidingswaarde.

Hoe ken ek dit uit?

• Blompakkies is rooibruin tot pers
• Halms onvertak
• Blaarskede is effens platgedruk

Reëngras (Eragrostis rotifer)

Hierdie gras groei gereeld in droë rivierbeddings en langs vleie. Hierdie gras is ’n belangrike weidingsgras, ten spyte van die gemiddelde smaaklikheid en blaarproduksie. Dit bly lank groen in die winter en word weer vinnig groen.

Hoe ken ek dit uit?

• Blompakkies is pers
• Groei in sandgrond
• Onderste skedes is dig behaar

Bastersinjaalgras (Brachiaria deflexa)

Bastersinjaalgras groei goed in die skadu en in klam grond, dikwels in versteurde grond. Hierdie smaaklike gras het ’n gemiddelde blaarproduksie. Dit is wel ’n belangrike pioniergras in subtropiese gebiede.

Hoe ken ek dit uit?

• Plant is heldergroen wanneer jonk
• Blaar het fluweelagtige hare
• Blompakkies kom voor in pare

Breëblaarbuffelsgras (Panicum deustum)

Hierdie gras kom voor in bosveld en in woudgebiede. Dit groei goed in skadu en vogtige plekke. In terme van weiding is dit ’n smaaklike gras met ’n hoë blaarproduksie. Dit word ook veral goed in die winter benut.

Hoe ken ek dit uit?

• ’n Lang, rietagtige gras
• Groei in skadu
• Blompakkies het geel of oranje meeldrade

Kersboomgras (Sporobolus panicoides)

Kersboomgras kom voor in die bosveld. Dit groei in versteurde grond met
skadu. Hierdie is ’n swak weidingsgras as gevolg van die lae blaarproduksie.

Hoe ken ek dit uit?

• Blaarskyf is oop met ’n skurwe rand
• Blompakkies is rond
• Blompakkies is liggroen tot oranje

Pan-fynsaadgras (Sporobolus ioclados)

Pan-fynsaadgras kom voor in panne wat nie in stand gehou word nie en in versteurde grond in die veld. Alhoewel die blaarproduksie laag is, is dit ’n smaaklike gras. Dit is ’n belangrike weidingsgras in droë gebiede.

Hoe ken ek dit uit?

• Bloeiwyse is ’n aantreklike oop pluim
• Blaarskyf het skurwe rande
• Blare is basaal gekonsentreer

Wildesorghum (Sorghum bicolor)

Wildesorghum groei in die bosveld en in die grasveld. Jy sal dit ook soms in die Karoo aantref. Dit is baie lief vir klam grond. Hierdie gras is ’n baie belangrike bron van stapelvoedsel vir mense, veral in Afrika en Indië. Dit word ook aangeplant as voer vir vee.

Hoe ken ek dit uit?

• Blare het ’n wit hoofaar
• Oop pluim met slap vertakkings
• Groei in klam grond

Johnson-gras (Sorghum halepense)

Johnson-gras groei in versteurde, klam grond. Alhoewel hierdie gras aanvanklik as weiding aangeplant was, word dit deesdae nie meer so benut nie, omdat dit ’n ernstige onkruid is wat moeilik is om te beheer.

Hoe ken ek dit uit?

• Lang en sterk risome
• Blompakkies is donker-rooibruin
• Opvallende wit hoofaar

Riffelblaar-setaria (Setaria megaphylla)

Riffelblaar-setaria kom hoofsaaklik in woude en in digte bosveld voor. Dit is lief vir skadu en baie vog. Hierdie is ’n belangrike weidingsgras wat smaaklik is met ’n hoë blaarproduksie. Dit bly nog tot laat in die seisoen groen

Hoe ken ek dit uit?

• Donkergroen polgras
• Blare is breed in die middel
• Blare is oor die lengte geplooi

Katsterttaaipol (Sporobolus pyramidalis)

Katsterttaaipol groei in versteurde grond, soos ou landerye. Dit groei meer algemeen in gebiede met hoë reënval. Omdat dit ’n taai, onsmaaklike gras is, word dit nie as weiding benut nie.

Hoe ken ek dit uit?

• Sterk wortelstelsel
• Blaarskyf is haarloos
• Blompakkies is klein en saamgepak

Swartvoetjie-watergras (Eriochloa meyeriana)

Swartvoetjie-watergras groei naby rivieroewers en ander nat plekke. Dit is ’n goeie weigras wat smaaklik is met hoë blaarproduksie. Dit speel ’n belangrike rol teen verspoeling.

Hoe ken ek dit uit?

• Halms is knievormig
• Groei altyd naby water
• Halms dryf op water

Sekelgras (Pogonarthria squarrosa)

Sekelgras groei in versteurde grond, veral in sandgrond. Hierdie gras is hard en onsmaaklik en word dus nie gebruik vir weiding nie.

Hoe ken ek dit uit?

• Bloeiwyse is kort, bruin trosse
• Blompakkies is rooibruin
• Halms is onvertak

ProAgri sê dankie aan Frits van Oudtshoorn wat sy boek, Grasse van Suider-Afrika, beskikbaar gestel het as ’n handleiding vir die reeks. Frits is ’n weidingskonsultant en kan gekontak word by (+27)78-228-0008 of frits@alut.co.za.

Indien jy belangstel om meer oor die grasse van Suider-Afrika te leer, kan jy Frits se boek koop by Soutpansbergweg 121, Riviera, Pretoria of aanlyn via marketing@briza.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0