Gesonde kalwers groei in M.A.R.S.

mars 1
Jou kalwers kan net so gelukkig, tevrede en gesond lyk in hulle eie M.A.R.S.-kraaltjie in jou veld op jou plaas.
Gesonde diere sorg vir ‛n gesonde boerdery, daarom het kundiges in die landboubedryf die M.A.R.S.-kalwerkraaltjie ontwerp. M.A.R.S staan vir Mobile Animal Rearing System of Mobiele Dieregrootmaakstelsel. Dit is ‛n oop, verskuifbare kraaltjie of kampie waarin kalwers vanaf twee dae oud vir 60 dae of totdat hulle gespeen is versorg word.
Veeboere kon hierdie kraaltjie vir die eerste keer by NAMPO bekyk by Tal-Tec se standplaas. Tal-Tec is bekend vir gehalte, bekostigbare, doeltreffende en geharde veehanteringstoerusting en hulle is ook die verspreiders van die M.A.R.S.-kraaltjie in Suid-Afrika.
Hoe werk en lyk die kraaltjie?
Die M.A.R.S.-kraaltjie is 310 cm wyd, 610 cm lank, 200 cm hoog en het ‛n staalraam. Die kraaltjie word in panele verskaf en dit is spotmaklik om hom aanmekaar te sit, te verstel en vervoer. Die boer kry ‛n gebruikershandleiding wat dit nog makliker maak.
Die kraaltjie kan tot tien kalwers huisves. Die helfte van die kraaltjie het ‛n sinkdak op en drie kante onder die dak is met seile bespan. Verder het die M.A.R.S. drie halwe plastiekdromme vir meel, hooi en water, en ‛n bykomende waterstelsel is ook beskikbaar. Daar is ook ‛n “MilkBar” in die kraaltjie sodat melk maklik, vinnig en skoon aan die kalwers opgedis kan word.
Die M.A.R.S.-kraaltjie word gewoonlik twee keer per dag verskuif sodat die kalwers op skoon gras kan loop en sodat die bemestingstowwe wat hulle neerlaat oor die hele kamp versprei kan word. Dit is spotmaklik om die kraaltjie op sy vier metaalwiele te verskuif.
Red Dane Agri Solutions het die kraaltjie in Zimbabwe ontwerp en dit is al suksesvol op ‛n melkplaas met 600 melkkoeie getoets. Talle boere in Zimbabwe en Zambiё het M.A.R.S.-kraaltjies aangeskaf en ‛n merkbare verbetering in hulle kalwers se gesondheid en oorlewingsyfers gesien. Red Dane Agri Solutions werk tans aan ‛n ontwerp om dit te toets vir lammers en varke.
Voor die koms van die M.A.R.S.-kraaltjie was die kalwersterftes in Zimbabwe tussen 12 en 15%, maar na die bekendstelling daarvan het die sterftepersentasie gedaal na 1 tot 5% in sowel deurlopende as seisoenale kalfstelsels.

Kalwers word maklik, vinnig, skoon en sonder vermorsing melk gegee in die “MilkBar” van die M.A.R.S.- kalwerkraaltjie.
Voordele van die M.A.R.S.-kalwerkraaltjie:
- Die verskuifbare stelsel beteken dat kalwers deur die dag verskuif kan word na plekke waar daar vars gras is sodra die plek waar hulle tans wei se gras opgeёet word en dit is baie goed vir higiёne. Die verskuiwing van die kraaltjie verminder die groei en verspreiding van bakterieё en voorkom agteruitgang van die gras. Die kalfmis bied natuurlike kunsmis wat outomaties die veld die nodige aanvulling sal gee.
- Die M.A.R.S.-kraaltjie het nie ‛n betonvloer wat skoongemaak moet word nie. Die sagte grond/gras is ook beter vir die ontwikkeling van die kalwers se ledemate. Die groter ruimte van die kraaltjie is ook beter omdat dit hulle toelaat om meer rond te loop en te oefen. Kalwers kan so ook vroeёr gras begin eet.
- Die “MilkBar” maak dit baie makliker om kalwers melk te gee. Dit is meer doeltreffend en bespaar tyd en koste. Twee mense kan 120 kalwers binne ‛n halfuur voer.
- Die dak en seile hou onaangename weer en siektes uit en veroorsaak lekker koelte op warm dae. Die kantseile moet permanent toe wees en die agterste een kan maklik op- of afgerol word, afhangend van die weer.
- Die opsionele waterstelsel is eenvoudig en doeltreffend om kalwers van skoon en vars water te voorsien. Die voerkonkas is doeltreffend en goedkoop.
Vir meer inligting of om ‛n M.A.R.S.-kraaltjie aan te koop vir jou kalwers, kontak Tal-Tec by 012-250-2188 of stuur ‛n e-pos na greg@taltec.co.za

Kyk hoe snoesig en gesellig is dit onder die dak van die M.A.R.S.-kalwerkraaltjie
met kos, melk en water byderhand. Geen wonder kalwers wat so gehuisves
word groei sterk en gesond nie.