Gesoek: SA se beste suiwelprodukte!

SA Dairy Champs judging
Alle suiwelprodusente word genooi om in te skryf vir die 2020 Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe, die grootste, oudste en mees gesogte suiwelgebeurtenis in die land.
Die kampioenskappe, wat sedert 1834 deur Agri-Expo aangebied word, lok jaarliks sowat 900 inskrywings van groot, medium en klein vervaardigers. Hierdie suiwelprodukte kompeteer vir die gerekende titels van SA Kampioen, die Qualité-merk van gehalte en die uiteindelike Produk van die Jaar, wat aangewys word by die glansryke Agri-Expo Qualité-dinee by GrandWest in Kaapstad.
Volgens die hoofbeoordelaar Alan Fourie is die uitsluitlike doel van die kampioenskappe om uitnemendheid in die suiwelbedryf te erken en te bevorder. “Die SA Suiwelkampioenskappe is een van die enigste kompetisies ter wêreld wat vyf beoordelaars per kategorie gebruik en het die maatstaf geword waarvolgens produsente hulself teen mekaar meet,” sê Fourie.
Die kampioenskappe bestaan uit meer as 100 klasse vir kaas, jogurt, melk, room, roomys, botter en ander produkte. Die wenners in die onderskeie klasse word as SA Kampioenebekroon. Produkte van besonderse hoë gehalte ontvang die Qualité-merk van gehalte, wat deur die bedryf erken word as die enigste merk van gehalte vir suiwelprodukte in Suid-Afrika. Ná die eerste rondte beoordeling deur meer as 70 beoordelaars wys ‘n paneel van vyf kundiges die Produk van die Jaar aan.
Enige suiwelprodusent wie se produkte in die handel beskikbaar is, kan inskryf.
Aanlyninskrywings vir die 2020-kampioenskappe open op Maandag 6 Januarie 2020 op die webwerf www.cheesesa.co.za. Die sluitingsdatum vir inskrywings is Donderdag 6 Februarie 2020. Die beoordeling vind op Donderdag 27 Februarie 2020 plaas. Die Agri-Expo Qualité-dinee vind op Vrydag 27 Maart 2020 by GrandWest plaas. Die SA Suiwelkampioenskappe en Qualité-toekennings word moontlik gemaak in samewerking met die platinum vennoot Synercore en ander vennote.
Vir meer inligting, besoek www.cheesesa.co.za of kontak Agri-Expo by 021-975-4440 of cheese@agriexpo.co.za.
Bron: Agri-Expo