Geskatte mielie-oes 7% groter as verlede jaar

corn-field-440338_1920
Foto: Pixabay
Die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes is op 16,316 milj. ton gestel, wat 0,70% of 114 850 ton meer is as die vorige skatting van 16,431 milj. ton. Die skatting van die oppervlakte onder mielies is 2,755 milj. ha, terwyl die verwagte opbrengs 5,92 t/ha is.
Die geskatte mielie-oes is 7% groter as die 2020-oes. Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede, nl. die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes provinsies, gaan na verwagting 84% van die 2021-oes produseer. Die oppervlak onder witmielies is 1,692 milj. ha en vir geelmielies is die oppervlak 1,064 milj. ha.
Die produksieskatting van witmielies het met 172 250 ton afgeneem teenoor die vorige skatting, van 8,937 milj. ton tot 8,765 milj. ton. Die opbrengs van witmielies is 5,18 t/ha. In die geval van geelmielies is die produksieskatting 7,552 milj. ton, wat 0,77% of 57 400 ton meer is as die 7,494 milj. ton van die vorige skatting. Die opbrengs van geelmielies is 7,10 t/ha.
Sonneblomsaad: Die produksieskatting vir sonneblomsaad is onveranderd gelaat op 677 240 ton. Die oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 477 800 ha, terwyl die verwagte opbrengs 1,42 t/ha is.
Ander gewasse: Die produksieskatting van sojabone het afgeneem met 27 700 ton (1,44%), van 1,918 milj. ton tot 1,890 milj. ton. Die geskatte oppervlakte beplant van sojabone is 827 100 ha en die verwagte opbrengs is 2,29 t/ha.
Die verwagte grondbone-oes is 58 900 ton, ook onveranderd teenoor die vorige skatting. Vir grondbone is die oppervlakteskatting 38 550 ha, terwyl die verwagte opbrengs 1,53 t/ha is.
Die produksieskatting van sorghum het onveranderd gebly op 203 980 ton. Die oppervlakteskatting vir sorghum is 49 200 ha, en die verwagte opbrengs is 4,15 t/ha.
In die geval van droëbone is die produksieskatting ook onveranderd gelaat op 56 577 ton. Die oppervlakte beplant met droëbone is 47 390 ha, en die verwagte opbrengs is 1,19 t/ha.
Nie-kommersiële mielies
Die voorlopige oppervlakte beplant met mielies in die nie-kommersiële landbou-sektor word geskat op 362 900 ha, wat ’n toename van 22,00% verteenwoordig in vergelyking met die 297 460 ha van die vorige seisoen. Die verwagte mielie-oes van dié sektor is 636 440 ton, wat 17,09% meer is as die 543 545 ton van die vorige seisoen. Dit is belangrik om daarop te let dat ongeveer 53% van die mielies wat geproduseer word in die nie-kommersiële sektor, in die Oos-Kaap geplant word, gevolg deur KwaZulu-Natal met 23%.
Wintergewasse – 2021 produksieseisoen
Die verwagte produksie vir koring is 2,086 milj. ton, wat 1,60% of 33 865 ton minder is as die vorige seisoen se oes van 2,120 milj. ton, terwyl die verwagte opbrengs 4,00 t/ha is.
Die verwagte produksie in die Wes-Kaap is 1,134 milj. ton (54%), wat 31 000 ton meer is as die 1,103 milj. ton geproduseer in die vorige seisoen. In die Vrystaat is die verwagte produksie 333 200 ton (16%), wat 80 400 ton minder is as die vorige seisoen se oes van 413 600 ton. In die Noord-Kaap is die beraamde produksie 259 150 ton (12%) – 12 800 ton minder as die 271 950 ton geproduseer in die vorige seisoen.
Die oppervlakteskatting vir koring is hersien na 521 500 ha, wat 5 500 ha meer is as die 516 000 ha teenoor die vorige skatting. Die beraamde oppervlakte geplant in die Wes-Kaap is 360 000 ha of 69 %, die Vrystaat is 68 000 ha of 13 % en 35 500 ha of 7 % is in die Noord-Kaap.
Ander gewasse: Die produksieskatting vir moutgars is 356 700 ton, wat 39,34% of 231 300 ton minder is as die vorige seisoen se oes van 588 000 ton. Die oppervlakte beplant word beraam op 94 730 ha, terwyl die verwagte opbrengs 3,77 t/ha beloop.
Die verwagte kanola-oes is 195 000 ton, wat 18,04% of 29 800 ton meer is as die vorige seisoen se oes van 165 200 ton. Die oppervlakteskatting vir kanola is 100 000 ha, met ʼn verwagte opbrengs van 1,95 t/ha.
Die verwagte oes vir hawer (ontbytgraan) vir die 2021-seisoen is 79 253 ton en die hersiene oppervlakteskatting is 35 150 ton. Die verwagte opbrengs is 2,25 t/ha.
In die geval van soetlupine is die produksieskatting 30 800 ton. Die oppervlakte beplant met soetlupine is 22 000 ha, en die verwagte opbrengs is 1,40 t/ha.
Die volgende produksieskatting sal op 29 September 2021 vrygestel word.
Bron: Oesskattingskomitee