Categories: NewsPublished On: 17th August 2016

Fokus is op die jeug by Agri-Expo Livestock

By 2 min read
369 words

agri livestock 2

Jeug word aangemoedig om betrokke te raak by die veebedryf.

Agri-Expo Livestock vind plaas vanaf Donderdag, 13 Oktober tot Saterdag, 15 Oktober 2016 op Sandringham, Stellenbosch. Die ekspo plaas ’n sterk klem op die bevordering en tentoonstelling van die landbousektor, veral die veebedryf, en mik om ’n platform te skep waar die jeug van Suid-Afrika kan deelneem aan verskillende bedrywighede.

Besoekers kan op Saterdag, 15 Oktober ’n opwindende demonstrasie van vaardighede beleef wanneer ontluikende afslaers teen mekaar meeding in die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie. Deelnemers kan vir drie kategorieë inskryf, naamlik juniors (19 jaar en jonger), jong afslaers (25 jaar en jonger) en aspirant-afslaers (afslaers wat opleiding ontvang het, maar wat nog nie as afslaers aangestel is nie).

Deelnemers so jonk as ses jaar oud sal hul bokke, skape, beeste en pluimvee by die Mutual & Federal Agri Wes-Kaap Streeksjeugskou vertoon, wat ook Saterdag, 15 Oktober in die Biomin-skou-arena plaasvind. Dié geleentheid sal fokus op die ervaring en vertoonkuns van die jeug.

Ongeveer 2 000 leerlinge word verwag tydens die skoleprogram waar hulle oor die bedryf in geheel en ook oor die verskillende beroepskeuses ingelig sal word. Die interaktiewe program bied leerlinge die geleentheid om fisies met plaasdiere in aanraking te kom, maar ook pret te hê deur foto’s te neem met onder andere Percherons en Alpacas. Kinders kan kyk hoe diere gewas en voorberei word voordat hulle in die ring geskou word, en kan ook sien hoe koeie gemelk word.  Dié program vind Donderdag en Vrydag plaas en word moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning van die Wes-Kaapse Departement van Landbou.

Johan Ehlers, hoofuitvoerende beampte van Agri-Expo sê: “Opvoeding rakende die landboubedryf is belangrik vir ons land se jeug. Hulle is die geslag wat ná ons die verantwoordelikheid gaan dra om na die bedryf om te sien en om dit verder te ontwikkel.”

Kaartjies kan van 13 tot 15 Oktober by die hek gekoop word. Die toegangsfooie is R50 vir volwassenes ouer as 18 jaar, R30 vir kinders 13 tot 18 jaar en toegang is gratis vir kinders jonger as 13 jaar. Hekke is oop vanaf 09:00 tot 18:00. Sandringham is gerieflik  langs die N1 geleë, Stellenbosch-afrit 39.

Besoek hulle webblad by www.livestock.org.za vir meer inligting en gaan volg hulle op Facebook, Twitter (@AELivestock)en Instagram vir die jongste nuus.

agri livestock

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0