Categories: WheelsPublished On: 22nd October 2014

Firestone: Die wiel se waarde sit in die band

By 5 min read

Die wiel was een van die mens se nuttigste uitvindsels, maar sonder bande wat ‘n trap kan trap en ’n vrag kan dra, is die wiel se waarde vandag bra na aan ’n ronde nul.

Maak nie saak hoe kragtig jou trekker se enjin brom nie – as jy daardie krag nie deur doeltreffende bande na die grond kan oordra nie, help dit jou niks. Maak ook nie saak dat jou sleepwa of vragmotor ’n veerstelsel so stewig soos Bloksomberg het nie – as jy nie bande het wat die vrag kan dra nie, gaan jy nie ver kom nie.

Dis hoekom Firestone ’n band het spesiaal vir elke werktuig, voertuig en taak waaraan enige boer maar kan dink. Daar is jare en jare se wetenskap en vervaardigingsvernuf agter elke band om net die beste doeltreffendheid, betroubaarheid, veiligheid en duursaamheid te verseker.

Max T solutionsDie tegnologie van bande vir landbougebruik het net soveel ontwikkel soos die masjiene wat hulle laat rol.

Sommige bande is ontwerp vir vastrap en trek, ander om getrek te word en van die grond af krag op te tel om werktuie soos planters se meganismes aan te dryf, ander om vragte te dra, om in modder of sand te loop, om vinnig oor die teerpad te draf of om oor die land te loop sonder om die grond te verdig, en nog letterlik honderde ander.

Firestone het nie net die regte band vir die boer nie, maar ook die kundigheid om presies die beste aanbeveling vir elke toepassing te maak en die handelaarsnetwerk om elke boer in die land vinnige, flink diens te bied. Maar die boer kan ook sy deel doen om die beste diens uit sy bande te put deur sy bande beter te verstaan en goed op te pas. Van die dinge waarop gelet kan word, is:

Banddruk

Die eerste, belangrikste behoefte van enige band is die regte banddruk. Banddruk moet minstens weekliks nagegaan word om te verseker dat dit met die vervaardiger se voorskrif strook. Daarvoor is ’n betroubare banddrukmeter nodig.

As ’n band te styf gepomp is, loop die loopvlak ongelyk af, padhouvermoë verminder, die voertuig ry stamperig en die band se lewe word verkort.

Word die band nie styf genoeg gepomp nie, het dit dieselfde uitwerking as oorlaai: Die band se romp buig te veel en sy loopvlak verminder gou en ongelyk, veral op die band se skouer. Die buitekant van die band se wand kan ook krakies kry.

Die hoë wringkrag wat vandag se trekkers lewer, kan selfs ’n band wat nie styf genoeg gepomp is nie se wand verwring en skeur.

Meer bande gaan as gevolg van te lae druk verlore as om enige ander rede, veral wanneer die band van ’n tweewielaandrywingtrekker wat tydens rysterploegwerk in die ploegvoor loop reeds as gevolg van die oneweredige gewigsverspreiding verwring en onder spanning geplaas word. Daarom moet die wiel in die ploegvoor 30 kPa meer as sy aanbevole druk gepomp word. As daar heen en weer teen ’n helling gewerk word, moet altwee agterwiele 30 kPa meer gepomp word. ’n Pap trekkerband kry ook maklik krakies rondom sy balke.

Firestone is ’n vertroude landbouvennoot wat ook gereeld by landbouskoue en -geleenthede uitstal om boere van goeie raad te voorsien.

Stampe en stote
Die tweede bedreiging wat bande in die gesig staar, is stampe en stote teen klippe of stompe. Die beste raad daarvoor is om mooi te kyk waar jy ry, en bande wat tot die regte druk gepomp is, is ook meer bestand daarteen as te stywe of te pap bande.

Skerp voorwerpe kan ook bande sny, veral aan die wande. Bande moet dus gereeld nagegaan word en sodra skade opgemerk word, moet die band verwyder en na ’n herstelwinkel geneem word vir vulkaniseer-herstelwerk.

Stoppels
In sekere omstandighede word die stoppels van oesreste so hard dat dit ’n band oormatig laat verweer en selfs kan stukkend steek. Die maniere om dit te verhoed is om mooi te ry sodat jou wiele nie op die stoppels trap nie, om selfs die wielwydte te verander as dit nodig sou wees om die stoppels te vermy en om te verhoed dat die wiele tol.

Sommige boere bring spesiale stoppelknakkers voor hulle stropers se wiele aan, en dit skakel stoppelskade aan bande heeltemal uit.

Hardepad
As ’n trekker ver op ’n harde pad moet ry, is sy wielbalke geneig om teen die padoppervlakte te vryf en dus vinnig af te loop, veral as jy vinnig ry. Pomp die wiele so styf as wat die vervaardiger toelaat om hierdie vryfaksie te verminder.

Wieltol
Wielglip van tussen 9 en 12% is normaal tydens take soos grondvoorbereiding, maar wieltol, wat die jong seuns “spin” noem, is glad nie goed vir bande nie. Dit beskadig die band se loopvlak en breek selfs happies uit die wielbalke. Wieltol kan verhoed word deur verantwoordelike bestuur, die aanbring van wielgewigte en water in kruislaag AG-bande (dit word nie aanbeveel dat water in straallaag AG-bande gebruik word om wielglip te beheer nie), die regte banddruk en die vermindering van die treklas.

Klepskade
Trekkers en plaaswerktuie se wielkleppe is gewoonlik goed weggesteek of beskerm teen skade, maar tog skeur ’n klep soms uit. Dit is gewoonlik die gevolg van lae banddruk, foutiewe installasie van die klep of die gebruik van te veel seepoplossing aan die band toe dit op die velling gepas is, wat maak dat die velling nou binne-in die band glip en die kleppie afruk. Wanneer jy Firestone-bande koop, kry jy nie net die voordeel van die mees gevorderde bandtegnologie vir die boer nie, maar ook van volle begrip vir die uitdagings van landboubande, die beste raad oor watter band om vir watter taak te kies en hoe om die beste uit jou bande te haal.
 

0
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0
0