Eksterne parasiete in vee deel 3: Die lastige vlieg en sy maters

vlieg-vlieë-eksterne-parasiete-flies-parasites
(Bron: pixabay)
՚n Vloek en ՚n plaag. So beskryf Langenhoven die vlieg, en hy was reg: By vee is vlieë meer as net ՚n vlieg in die salf; dit is die oorsaak van verskeie siektes, selfs sterftes en geldelike verliese vir die boer.
Skape, bokke en beeste gaan almal gebuk onder die vlieënde pes. Hulle byt diere, lê eiers in wonde en dra allerhande siektes oor.
Algemene beheer van vlieë kan gedoen word deur lokaas of lokvalle te stel. Lokaas is gif in korrelvorm wat die insekte eet. Dit moet egter met sorg gebruik word en moenie naby hoender-of varkhokke gebruik word nie omdat die vergiftigde vliegkarkasse deur hierdie diere geëet sal word.
Lokvalle, tuisgemaak of aangekoop, met ՚n aas wat skerp stink, bereik dieselfde resultate, maar vang die vlieë vas. Dit verseker dat die insekte binne die sak of houer vrek en die dooie, vergiftigde vlieë nie deur ander diere gevreet word nie.
Om byte van vlieë op diere af te weer kan opgietmiddels wat piretroïed bevat gebruik word.
Huisvlieë
Daar is twee tipes vlieë wat onder die groep huisvlieë val, naamlik die huisvlieg (Musca Domestica), en die stalvlieg (Musca Calcitrans).
Die huis- en stalvlieg lê graag hulle eiers in warm, vogtige materiaal soos mishope of kompos. Die larwes broei uit en vervel ongeveer drie keer voordat hulle papies word. Die hele lewensiklus neem ongeveer vyftien dae.
՚n Huisvlieg voed op vloeistowwe van mis, of afskeidings van diere se oë, neus, mond of rou wonde. Dit versprei mikro-organismes wat op die vlieg se pote en monddele voorkom, en in die kos wat dit opbring.
՚n Stalvlieg, daarenteen, het monddele wat gemaak is vir bloedsuig. Dit irriteer die dier en onderbreek die weiding- of vreetpatroon. Albei vlieg-soorte pla die diere en veroorsaak ՚n verlies in gewig en melkproduksie wat onaanvaarbaar in ՚n voerkraal of op ՚n melkplaas is. Dit hou ook gevare in vir hoenderboere omdat maaiers in die nesmaakmateriaal van hoenders kan uitbroei as mis ophoop. Varke op varkplase kan ook deurloop omdat die hokke ՚n aanloklike broeiplek vir die vlieë is.

Gesigvlieë
Daar is ook twee soorte gesigvlieë wat in Suidelike Afrika beeste tot raserny dryf. Hulle is die Musca xanthomelas en Musca lusoria.
Hierdie vliegsoorte broei uit in beesmis en paratiseer dan ook hoofsaaklik op beeste. Hulle voed rondom hulle oë en in enige oop wonde.
Wat hierdie vlieë so gevaarlik maak vir beeste, is dat hulle die parafilariawurms oordra wat die oorsaak van “vals kneusing” is. Hierdie wurms ontwikkel in die vlieë. Wanneer die vlieë op die beeste voed, bars die wurms uit die monddele. Hulle kruip dan na die oogslymvlies waar hulle die bees se bloedstroom binnedring. Wyfies migreer onder die vel waar hulle eiers lê wat wonde veroorsaak wat oopbars en weer vlieë lok wat die bloed, tesame met die eiers, inneem.
Die goeie nuus is dat die wurmbesmetting behandel kan word met makrosikliese laktooninspuitings of opgietmiddels. As dit nie behandel word nie, verminder die beeskarkas in waarde omdat groot gedeeltes van die vleis weggesny moet word om ontslae te raak van die beskadigde dele.
Skaapneusvlieg
Oestrus Ovis
Die skaapneusvlieg kom regoor Suid-Afrika voor en bokke en skape is hulle hoofgashere. Wilde diere soos wildsbokke, asook perde, beeste, honde en mense kan geteiken word.
Vlieë lê hulle larwes in die neusholtes van hulle slagoffers. Die maaiers (larwes) kruip dan dieper in die neus in tot in die sinusholtes waar dit baie irritasie veroorsaak. Hulle haak aan die wande en kan tot nege maande daar bly, maar word gewoonlik óf uitgenies wanneer hulle volwasse is óf val self uit wanneer die weer warm is. Hulle vorm dan papies en bereik volwasse vliegstadium.
Die skape of bokke wat hierdie neuswurmbesmetting het, skud gedurig hulle koppe. Daar is ook geel uitskeiding wat verwar kan word met bloutong of pasteurella-longontsteking. Besmette diere verloor dikwels gewig.

Behandeling van kleinvee met makrosikliese laktone verseker dat die larwes sterf. Dit mag dalk ՚n ruk neem voordat die uitskeiding verdwyn. Omdat vlieë in die somermaande op hulle aktiefste is, moet die kleinvee gereeld behandel word. In die winter hoef hulle egter een keer behandel te word om seker te maak die larwes wat in die sinusse probeer oorwinter ook sterf.
Skaap-oogvlieg
Gedoelstia Hassleri en Gedoelstia Cristata
Die gewone gasheer is wildsbokke, maar Angorabokke en skape is ՚n voorkeurgasheer vir dié insekte wanneer dit by vee kom.
Eiers word in die oog gelê waarna hulle in die bloed migreer en stadigaan na die brein reis. Hulle veroorsaak uitpeuloog – ernstige beskadiging van die oë wat eers bloei en dan swel, maar eindelik eindig in blindheid. Karakoel-, Persiese en Afrikanerskape ondervind meestal hierdie probleem.
Inspuitbare insekdoders dood die parasiete, maar die skade bly onherstelbaar.
Skaapbrommers
Lucilia Sercata, Lucilia Cuprina en Chrysomya Albiceps
Die skaapbrommer lyk asof hy gepantser is met ՚n laag groen metaal. Hulle teiken hoofsaaklik skape en selfs bokke, maar ander plaasdiere kan ook daaronder ly.
Skaapbrommers veroorsaak velontsteking waar die larwes op die vleis van hulle slagoffers teer. Met hulle monddele maak hulle klein snyplekkies wat groter en groter word soos wat hulle eet en dan meer en meer vlieë lok.

Hierdie vlieë verkies ՚n warm klimaat en wanneer dit baie reën neem hulle getalle toe. Dis geen verrassing dat hulle ook meestal bekend is as somerpeste nie. Die volwasse vlieë is tussen 7 en 12 mm lank en die voed op die liggaamsvloeistowwe van diere en plante. Omdat die wyfies deur vrot reuke van verskeie siektes soos vagvrot, vrotpootjie en sweerklou gelok word, skep die vliegies ՚n bose kringloop van besmetting.
Vroeë tekens van besmetting sluit optrede in wat wys die skape is ongemaklik en hulle kan binne ՚n week vrek as hulle nie behandel word nie.
Insekdoders met deltametrien, dipmiddels of wondolies kan die brommeraanvalle help beveg. Om dit te voorkom, kan na-skeer-dip gehandhaaf word, of bespuiting met ՚n spuittoestel en ՚n organofosfaat. Bestuursfaktore wat ingespan word is mikskeer, goeie dieet wat laksering voorkom, en die aanteel van gladdelyf-Merino’s wat minder vatbaar is vir aanvalle.
Beesbrommers of spykerwurm
Chromia Bezziana
Beesbrommers kom hoofsaaklik voor in die noordelike en oostelike dele van Suid-Afrika. Dit sluit Limpopo, Mpumalanga, en Kwazulu-Natal in. Gedeeltes van die Oos-Kaap word ook beïnvloed. Hulle val nie net beeste aan nie, maar ook skape en bokke.
Hierdie vliegsoort kan sy hele lewensiklus binne twee weke voltooi. Hy word ongeveer 6 tot 12 mm lank.
Die diere wat deurloop is hoofsaaklik beeste en skape, maar perde, wilde diere en troeteldiere word ook soms beïnvloed.
Wat hierdie vlieg anders maak as die ander, is dat hy slegs die wonde van diere aanval. Die beesbrommer sal nie ՚n gesonde dier teiken nie, maar lê haar eiers op operasiewonde, absesse, kneusings, bosluisbyte, en op die uier. Vlieë se larwes veroorsaak dat wonde groter en erger word wanneer hulle daarop teer. Hulle grawe hulle lyfies ook dieper en dieper in die vleis in.
Insekweerders is ondoeltreffend om die vlieë by perde, vee en troeteldiere af te weer.
Die beste behandeling bly makrosikliese laktone. Spuitstowwe help om die wonde gou te genees en help dat diere vir weke na die aanval beskerm is teen herbesmetting.
Tsetsevlieg (Glossina sp.)
Histories was die tsetsevlieg wyd versprei oor Suid-Afrika, maar kom deesdae hoofsaaklik in dele van Kwazulu-Natal voor.
Hierdie vliegsoort val hoofsaaklik wild, beeste, perde, kamele en varke aan, maar soms loop skape, bokke, honde en katte ook deur.
Die grootste gevaar wat die tsetsevlieg inhou, is dat dit ՚n bloedparasiet genaamd trypanosoma oordra wat nagana of slaapsiekte by vee en mense veroorsaak.
Diere wat hierdie siekte kry toon tekens van vermaering, bloedarmoede en swak asemhaling. Limfknope vergroot ook drasties en die uiteinde is diere wat skielik vrek van hartversaking.
Inheemse beesrasse is minder kwesbaar teen die trypanosoma-parasiet.
Bo en behalwe opgietmiddels kan ՚n voetbad gebruik word om die nodige hoeveelheid middels op die dier te kry. Opgietmiddels beskerm diere net vir ՚n maand.
Tsetsevlieë is die hele jaar aktief, en volwassenes leef vir omtrent drie maande. Die broei binne-in die vroulike vlieg en word na 10 dae uitgeskei waarna dit dadelik begin om ՚n papie te vorm. Tussen drie en dertien weke daarna bereik die vlieg die volwasse lewenstadium.
Bronne:
Junquera, P. 2022. PARASITIPEDIA [WWW Document]. Parasitipedia.net. URL https://parasitipedia.net/.
Oberem, P. 2006. Siektes en parasiete van beeste, skape en bokke in Suid-Afrika. Pretoria: Afrivet Business Management.