Duur wol ‘n ‘spanpoging’

wool-g3ff704af7_1280
deur Tisha Steyn
Waardevolle wol het vir Jacobus le Roux ՚n rekordprys van R303/kg vir 15,80-mikron wol, merinolam Styl2 MWF4E.70RW-tipe met ՚n lengte van 70 mm behaal gedurende die afgelope wolseisoen. Die prys is betaal deur Vitale Barberis Canonico South African (Edms) BPK (VBC Wool SA).
Die Suid-Afrikaanse wol- en bokhaarkopersvereniging (Sawamba) het die besondere prestasie tydens die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) se algemene jaarvergadering bekend gemaak.
Jacobus het op Fort Beaufort grootgeword waar hy aan die Hoërskool Winterberg gematrikuleer het en daarna het hy aan die Universiteit van die Vrystaat Landbou gaan studeer. Hy het in 1992 plaas toe gekom om in vennootskap met sy pa, Pierre, te boer.

Die angorakapaters word in die Carthcart-omgewing aangehou.
Gemengde veeboerdery
Hulle bedryf ՚n gemengde veeboerdery met hoofsaaklik kleinvee by Fort Beaufort en Cathcart in die Oos-Kaap. Die grootste vertakking is Agorabokke, terwyl hy ook met boerbokke, merino’s en bonsmaras boer. Die suiwer merino-kudde word op Cathcart aangehou vir wolproduksie en die tweede kudde merino’s wat met ՚n dormerram vir slaglammers gekruisteel word, loop op Fort Beaufort.
By Fort Beaufort boer Jacobus op die plase Sewefontein en Koedoeskloof. Die veld hier bestaan hoofsaaklik uit valleibosveld en die reënval is sowat 450 tot 500 mm per jaar. Die drakrag is sowat 8 tot 12 ha per grootvee-eenheid. Hier loop die angoras, tweede kudde merino’s en die bonsmaras, wat, soos die boerbokke, goed in die boswêreld aard.
By Carthcart boer hy op die plase The Plains en Angledale waar die reënval tussen 550 mm en 650 mm per jaar en die drakrag is sowat 4 tot 6 ha per grootvee-eenheid is. Hier word hoofsaaklik met merino’s, bonsmaras en angorakapaters in die soeter doringveld geboer.
Die Cathcart-kudde bestaan uit suiwer merino’s. “Ons boer met ooie en lammers, wat ons laat uitgroei tot volbekhamels, wat verkoop word. Ons probeer soveel wol as moontlik produseer,” verduidelik hy. Dis hier waar die duur wol geproduseer is.

Die skeersels word gebaal en aan BKB gelewer wat die wol bemark en verkoop.
Groter prentjie
Volgens Jacobus is die besondere prys wat die wol behaal het, nie net aan sy doenigheid as boer te danke nie. Dit berus ook op die bekwame bemarkingspan van BKB, wat die vesel bemark, en BKB se veldbeamptes wat help verseker dat die wol wat gelewer word, deur die klas van die kudde en die seleksie van geskikte ramme van die hoogste gehalte is.
“Bemarking is ՚n uitdaging. Ons produseer net die produk (wol), maar mense soos Isak Staats en Basie Claassen bemark en verkoop die wol. Ons ontwikkel die produk en probeer die gehalte daarstel wat die mark wil hê, maar hulle doen baie werk waarvoor ons baie dankbaar is.”
BKB se veldbeamptes speel ook ՚n enorme rol in die boerdery se uiteindelike sukses. Gary Trethewey van BKB Queenstown help met die klas van
die Cathcart-kudde en die ramseleksie. Ramme word gekoop by die Stormberg Merino’s in Molteno, Winston Merino’s op Cathcart en Freddie du Plessis van Tarkastad. Ben Joubert van BKB Adelaide help met die seleksie van ramme by Smaldeel Merino’s op Adelaide/Bedford.
“Dit is ՚n kombinasie van faktore wat bydra tot sy sukses en ՚n mens kan nie op jou eie sukses bereik nie,” meen Jacobus.

Op die plase by Cathcart word met suiwer merino’s vir wolproduksie geboer, terwyl die merinokudde op die Fort Beaufort-plase met ՚n dormerram gekruisteel word vir vleisproduksie.
Uitdagings
Vir Jacobus is die grootste uitdaging die onbeskikbaarheid van doeltreffende biologiese produkte. Daar is nie meer tegniese ondersteuning nie en geen navorsing word gedoen om nuwe middels te ontwikkel nie. Die bestaande doseermiddels is ou chemiese groepe waarteen weerstand opgebou is. Die doeltreffende middels word ingevoer, kom in klein hoeveelhede en ongereeld die land binne en beskikbaarheid is ՚n probleem.
“Ons sukkel om ՚n volhoubare inen-tingsprogram te handhaaf, want daar word geen nuwe dipmiddels ontwikkel nie. Ons produseer ՚n uitvoerproduk en daar is weerstand teen sekere van die middels wat nog doeltreffend is. Met arbeid en ongediertes kan ՚n plan gemaak word, die droogte is ՚n gegewe, maar die gebrek aan nuwe, doeltreffende bio-logiese produkte is ՚n groot probleem.”

Die grootste uitdaging met die boerdery is die gebrek aan entstof en
dipmiddels omdat die navorsing daaroor en vervaardiging daarvan nie meer by Onderstepoort Biologiese Produkte gedoen word nie.
Veranderende tye
“My pa het altyd geglo ՚n mens moet diversifiseer, ՚n mens kan nie met net een kommoditeit boer nie, daar moet altyd iets wees wat jou sal deurtrek,” sê Jacobus.
Volgens hom is dit die eerste keer ooit dat al die kommoditeite onder druk is. Wol- en bokhaaraankope is onder druk weens die wêreldekonomie en die gevolge van die Covid-19- pandemie. Swak ekonomie knou ook plaaslike vleispryse.
Die boer kan niks doen aan die veranderende verbruik van vesel of die bemarkingskanale wat verander het nie. “Ons wolboere moet maar vasbyt en doen wat ons goed doen. Ons moet aanpas en planne maak. Boerdery is ՚n langtermynsaak; ՚n mens kan dit nie vinnig verander nie, so ons moet maar klein aanpassings maak wat op die korttermyn ՚n verskil sal maak. “Die beste wat ons kan doen is om ՚n produk (wol) van ՚n hoë standaard te lewer.

Jacobus le Roux boer in vennootskap met sy pa, Pierre, op vier plase in die Oos-Kaap. Sy seun, JW, boer saam met hulle.
Isak Staats van BKB stem hiermee saam. “Wolpryse het die afgelope tien jaar nie by inflasie gehou nie en veeboere oor die algemeen sukkel om hulle somme te laat klop,” sê Isak. “Die Covid-19-pandemie se gevolge gaan nog ՚n ruk met ons wees. “Ek glo ons gaan eers verligting begin sien as inflasie en die gevolglike rentekoerse weer binne beheer kom. Die enigste manier om hierdie krisis te oorleef, is om na geleenthede te soek om binne jou bestaande onderneming meer produktief te wees en elke moontlike markvoordeel te benut.
Volgens hom is Jacobus-hulle ’n goeie voorbeeld van hoe dit werk: “Maak soveel as moontlik geld met elke produk wat geproduseer word. Die hefboomvoordeel van kleinvee is dat ons met getalle werk en klein aanpassings groot verskille kan maak.”

Jacobus le Roux saam met Ken Reed van VBC Wool SA in die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) se kantoor in Port Elizabeth na afloop van die vereniging se algemene jaarvergadering waar dit bekend gemaak is dat Jacobus se wol die rekordprys van R303/kg behaal het. (Foto: NWKV)