Droom volhoubaar met Agrico

DJI_0011
Hierdie dam en Agrico se goeie besproeiingsbeplanning het ՚n droom in werklikheid omskep.
“Ons droom was om water op Groenvlei-plaas te kry, geleë 5 km vanaf die naaste waterbron,” vertel WG Treurnicht wat net buite Porterville, aan die voet van die Olifantsrivierberge, boer met wyndruiwe.
Om die droom te verwesenlik het die boerdery hande gevat met Agrico Piketberg. Hulle het in 2004 die eerste tree in die besproeiingsbedryf gegee met die aanplanting van onderstok. Vroeër was hulle droëlandgraanboere.
“Dit was die logiese besluit om vir Agrico te nader, want ek was immers saam met Walter Andrag op universiteit,” spot WG. Tog is vriendskap met die besturende direkteur van die maatskappy net een van die redes vir die suksesvolle langtermynverhouding. Agrico is al vir dekades die leiers in waterbestuur in die Wes-Kaap en hulle kundigheid trap ՚n voetspoor deur die hele Suidelike Afrika.

“Ons het begin besproei sonder enige ondervinding. Daarom het ons besproeiingskenners benodig wat gewaarborgde produkte en diens lewer om die pad saam met ons te loop,”
sê WG.
Geseënd met ՚n waterbron in die Olifantsrivierberge het die boerdery ՚n groot opvangdam op die plaas Soverby gebou. Die groot uitdaging was om die water van die dam af 5 km verder op die plaas Groenvlei te kry en die onhanteerbare druk te hanteer!
Waar daar op die boonste plaas pompe gebruik word, maak Groenvlei staat op swaartekrag en natuurlike vloei. Met ՚n daling van meer as 70 meter is daar tot 8 bar druk in die pype. ՚n Pyp wat bars is niemand se vriend nie.
WG vertel dat dit weens die hoë druk uiters belangrik is om sy verskaffer en produkte te kan vertrou. “Omtrent 90% van alles wat Agrico aan ons verskaf word 1,5 meter onder die grond begrawe. Daar is net een kans om dit reg te doen!”

Vandag is daar 75 hektaar wyndruiwe en 10 hektaar onderstok wat deur drupbesproeiing water kry.
Die kwekery word elke seisoen verskuif vir beskerming teen siektes. Dus moet die blok elke seisoen opgemeet en die besproeiing van nuuts af beplan word.
Die pype word uitgehaal en opgerol om dit na die nuwe blok te skuif. Saam met deeglike beplanning en netjiese installasie, is skedulering net so noodsaaklik. Daar is dit belangrik dat die stelsel kommunikeer en presteer soos beplan.

WG pas reeds jare lank bewaringsboerdery toe en die keuse vir drupbesproeiing teenoor die meer algemene mikrobesproeiing in die omgewing is gemaak met die oog op die volhoubare gebruik van water.
Niël Carstens, takbestuurder van Agrico Piketberg, sê dat een van die groot voordele van die plaas die skoon bergwater is. Hierdie waterbron is nie vol minerale soos yster of ander onsuiwerhede wat neig om die druppers te verstop nie. Dit verbeter die konsekwentheid van die watertoediening en verminder onderhoud.
Om die korrekte aanbeveling vir besproeiing te maak word faktore soos die gewas, grondsoort, helling en watergehalte in ag geneem. “Ons probeer om die maksimum waarde vir ons klante uit hulle beskikbare water te kry — ons glo nie in vermorsing nie.”
Die grootste deel van die waterbestuur vind plaas in die filtrasiehuis waar die druk en die verspreiding van die water beheer word.

Omdat Porterville ՚n winterreënvalstreek is met warm en droë somers, moet hulle proaktief optree. Met klimaatsverandering is die seisoene ook nie altyd voorspelbaar nie, en hulle ondervind vanaf 2015 baie uitdagings met ondergemiddelde reënval.
WG sluit af: “Ons hele boerdery is toekomsgerig. Boere moet verstaan dat water ՚n groot uitdaging gaan raak in die wêreld. Daarom is dit belangrik om ՚n pad te stap saam met ՚n organisasie soos Agrico wat aan die voorpunt van ontwikkeling staan met betrekking tot waterbesparing en doeltreffendheid.”
Droom volhoubaar met Agrico. Skakel +27(0)83-455-5423 of +27(0)21-950-4111, stuur ՚n e-pos aan sales@agrico.co.za, of besoek www.agrico.co.za.