Drie werkers kry voëlgriep by hoenders

hoender
Hoewel geen mens, sover bekend, nog in Afrika met voëlgriep besmet is nie, is dit belangrik om kennis te neem van voorsorgmaatreëls wat ander lande wêreldwyd tref indien die gevreesde siekte sou muteer om van mens tot mens te versprei.
Nouliks ‘n dag gaan verby sonder dat daar oor voëgriep verslag gedoen word. Die afgelope week is berig dat drie werkers op ‘n pluimveeplaas in Colorado in die VSA waar voëlgriep uitgebreek het, vermoedelik met die H5N1-voëlgriepvirus besmet is terwyl hulle besmette hoenders van kant gemaak het. In 2022 is ‘n persoon wat op ‘n pluimveeplaas gewerk het, ook met die virus besmet.

Dit volg nadat vier werkers op suiwelplase in die VSA ook sedert Februarie vanjaar deur die virus besmet is. Al sewe werkers het pienkoog ontwikkel, terwyl die pluimveewerkers ook simptome van lugweginfeksie ontwikkel het.
Altesaam 145 suiwelkuddes in verskeie state in die VSA is reeds besmet. Alhoewel die koeie minder melk produseer het, is dit nie nodig geag om hulle van kant te maak nie. Gepasteuriseerde melk is ook veilig vir menslike gebruik.

Die kans dat hierdie verspreiding onder beeste gestuit kan word, raak al skraler. Hoewel voëlgriepbesmetting van mense nie tans ‘n risiko vir die breër publiek inhou nie, heers daar tog kommer oor die moontlikheid dat die virus kan muteer om van mens tot mens oorgedra te word hoe langer dit onder soogdiere, veral melkbeeste waar mense in noue kontak werk, voorkom.
“Op die oomblik lyk dit nie of die virus die eienskappe vertoon wat ‘n pandemie kan veroorsaak nie,” sê Scott Hensley, ‘n immunoloog by die Universiteit Pennsilvanië in Philadelphia.” Maar met griepvirusse kan die situasie met ‘n enkele mutasie verander.”
Melktoerusting
Navorsing toon dat die virus deur middel van besmette melktoerusting eerder as deur druppels in die lug tussen koeie versprei. Die grootste risiko is dat die siekte kan muteer om soogdiere (mense ingesluit) deur die respiratoriese stelsel te besmet, wat moeiliker sal wees om te bekamp. Gegewe die nabye kontak tussen koeie en mense kan besmetting deur die lug ‘n pandemie ontketen. Die besmette pluimveewerkers wat naas pienkoog ook simptome van lugweginfeksie toon is dus kommerwekkend.

Voorsorg wêreldwyd
“Daar word internasionaal op groot skaal beplan en voorberei vir ‘n pandemie,” sê Michelle Wille, ‘n virus-ekoloog aan die Universiteit Melbourne in Australië, die jongste vasteland wat besmet is en waar die H5-virus reeds in drie state voorkom.
Nicole Lurie, wat sorg dat voorbereidings in plek is by die Oslo-gebaseerde Koalisie vir Epidemiese Gereedheid-innovasies (CEPI), sê die organisasie se benadering is een van “kalm dringendheid – dis soos om skoene aan te trek indien ons moet begin hardloop”.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) in Geneva, Switserland, het in Mei vanjaar ‘n opname gemaak van beskikbare entstowwe wat geskik is en bevestig dat hulle op die voëlgriepvirus wat by beeste voorkom sal fokus. “Hoewel die huidige risiko vir gemeenskappe laag is, is die WGO in ‘n staat van gereedheid vir ‘n potensiële griepvirus,” sê Maria van Kerkhove, hoof van Epidemiese en Pandemiese Gereedheid en Voorkoming by die WGO.
In Junie het die Europese Kommissie sowat 700 000 dosisse voëlgriep-entstof by CSLK Seqirus in Maidenhead in die Verenigde Koninkryk aangekoop, met die opsie om nog 40 miljoen dosisse te koop. Die entstof beskerm teen H5-stamme van voëlgriep. Finland het ook in Junie begin om mense wat op pluimveeplase werk teen voëlgriep in te ent.

Finland was ook die eerste land wat reeds in 2023 entstof verskaf het aan mense wat aan voëlgriep wat van voëls na soogdiere oorgedra kan word blootgestel word. Die entstof sal beskikbaar gestel word aan pluimveeboere, veeartse, wetenskaplikes wat die virus bestudeer en mense wat met wesels en vosse op pelsplase waar uitbrekings voorgekom het.
Angela Rasmussen, ‘n Amerikaanse viroloog by die Entstof- en Aansteeklike Siekte Organisasie aan die Universiteit van Saskatchewan in Kanada, meen ander lande en veral die VSA behoort ook werkers wat aan hoë risiko’s blootgestel word in te ent.
Die entstof wat tans beskikbaar is, word in hoendereiers gekweek, wat ‘n goedkoop, maar stadige proses is. Navorsers is besig om entstof te vervaardig met behulp van mRNA-tegnologie, ‘n duurder, maar vinniger proses met die voordeel dat die formulering opdateer kan word vir stamme wat voorkom. mRNA aktiveer selle om volgens die DNA-kode die nodige proteïene te bou.
Hensley, wat die H5 mRNA-entstof ontwikkel en dit in frette (ferrets) getoets het, meen in die geval van ‘n pandemie sal hierdie entstof wyd gebruik word.
‘n Week gelede het die HHS aangekondig dat hulle VSA$176 miljoen vir die farmaseutiese maatskappy Moderna, in Cambridge Massachusetts, gegee het om ‘n mRNA-gebaseerde entstof teen die H5-virus te ontwikkel.

Enstof vir koeie
Verskeie lande, insluitend die VSA, ondersoek die moontlikheid dat koeie ingeënt kan word om oordrag van die virus te verminder. “Dit kan ‘n fenomenale mitigerende poging wees en dit sal prakties wees om te implementeer as deel van die bestaande pogings om vee in te ent,” sê Jenna Guthmiler, immunoloog by die Universiteit van Colorado se Anschutz Mediese Kampus in Aurora.
Verskeie navorsingspanne is besig om entstof vir beeste te ontwikkel, maar daar is uitdagings. Die virus skuil in die spene en epiteelselle van die uier, wat moeilik maak om ‘n immuunrespons te bewerkstellig, sê Diego Diel, ‘n viroloog aan die Cornell Universiteit in Ithaca, New York, wat besig is om kandidaat-entstof teen die HPAI te ontwikkel deur skadelose DNA-virusse vir genetiese materiaal te gebruik. Hensley toets tans dié mRNA-entstof op beeste en varke.

Kommer heers egter daaroor dat die entstof die simptome in diere wat steeds aansteeklik is kan verdoesel, wat die risiko vir mense vergroot, sê Thomas Peacock, ‘n viroloog by Imperial Kollege in Londen.
Martin Beer, ‘n viroloog by die Federale Navorsingsinstituut vir Dieregesondheid in Greifswald, Duitsland, sê entstof moet in elk geval die laaste uitweg wees en net gebruik word as beskerming teen die “ergste moontlike scenario”.
Isabella Monne, wat die molekulêre epidemiologie van diere-virusse by die Eksperimentele Soöprofilaktiese Instituut van Venesië in Legnaro, Italië bestudeer, ontwikkel en evalueer tans toerusting wat laboratoriums oral in Europa sal help om virale partikels en teenliggaampies wat ‘n vorige infeksie aandui, in die bloed en melk van koeie te identifiseer. Groepe in Europa, Kanada en die VSA het reeds begin met die toetse.
Navorsers moniteer ook die sekwensies van die virusse se genome vir veranderinge wat sal aandui dat die vermoë om die boonste lugweë aan te tas ontwikkel. Hierdie mutasies kan die risiko vir mense verhoog.
Een van die navorsingsgroepe het ‘n biblioteek van elke moontlike aminosuur-mutasie op die hamagglutinien-proteïen, wat die virus gebruik om selle binne te dring, geskep. Die navorsers het in menslike selle getoets hoe goed die muteerde proteïene in reseptore in die boonste lugweë verbind en hoe stabiel hulle in suur-omstandighede is. “Hierdie kenmerke hou verband met virusse wat van voëls na soogdiere oorspring en pandemies kan veroorsaak en dit kan die risiko beter voorspel,” sê Peacock.
Voorsorg
Hierdie intense maatreëls beklemtoon die erns waarmee ander lande die potensiële risiko beskou. In Suid-Afrika, hou dr Mark Chimes, konsulterende veearts vir Melk SA, ‘n noukeurige oog op alle verwikkelinge in die verband.
Kontakbesonderhede
Kontak dr Mark Chimes by 074-510-7316 of mark@milksa.co.za
Bronverwysings
Broom, F. (2024) Australian Centre for Disease Preparedness warns of potential arrival of H5N1 bird flu strain. ABC Rural
Edwards, E. (2024) A bird flu vaccine from Moderna is in early stages of development. NBC News
Joseph, A. (2023) Bird flu researchers turn to Finland’s mink farms, tracking a virus with pandemic potential. Stat
https://www.statnews.com/2023/08/11/bird-flu-researchers-finland-mink-farms/
Karlis, N. (2024) As bird flu outbreaks worsen, experts say the situation threatens to spiral out of control. msn.com
Mallapaty, S. (2024) Bird flu could become a human pandemic. How are countries preparing? Nature.com
doi: https://doi.org/10.1038/d41586-024-02237-4
Reuters (2024) Three presumptive bird flu cases reported in poultry workers in Colorado https://www.nbcnews.com/health/health-news/three-presumptive-bird-flu-cases-reported-poultry-workers-colorado-rcna161686
Steyn, T. (2024) Voëlgriep onder koeie, mense wek kommer. ProAgri.co.za
https://proagri.co.za/voelgriep-onder-koeie-mense-wek-kommer/