Doolhof-ervaring by NAMPO verken geïntegreerde landbou-oplossings – in die grond, by die wortel én op die plant

Foto 1
Gerrie Ludick, tegniese bemarkingspesialis en rygewaskenner by InteliGro, woon vanjaar sy 46ste NAMPO by – ’n bewys van langtermynverhoudings en -kennisdeling wat steeds die landboubedryf vorm.
“Die genetika moet kan presteer wanneer toestande goed is, maar ook wanneer die seisoen moeiliker raak,” sê Gerrie Ludick, tegniese bemarkingspesialis en rygewaskenner by InteliGro, wat vanjaar sy 46ste NAMPO bywoon.
Met produsente wat reeds vir nóg ’n onsekere seisoen beplan – te midde van wisselvallige weerpatrone, klimaatsdruk, stygende insetkoste en volgehoue markdruk – skuif die klem toenemend na opbrengsstabiliteit en praktiese risikobestuur.
Dié benadering vorm die kern van InteliGro se teenwoordigheid by NAMPO 2026 van 12 tot 15 Mei in Bothaville, waar die maatskappy ’n interaktiewe doolhof-ervaring aanbied wat produsente stap vir stap deur ’n geïntegreerde benadering tot gewasproduksie neem – in die grond, by die wortel én op die plant.
Veerkragtigheid begin in die grond
“Veerkragtigheid deur Innovasie”, vanjaar se NAMPO-tema, sluit volgens Janet Lawless, bemarkingsbestuurder van InteliGro, direk aan by die werklikhede waarmee produsente tans worstel.
“Ons fokus vanjaar is om ons genetika uit te lig,” sê Lawless. “Ons stel twee Avanta-sorghumkultivars, Croplan-witmielies en Insun-sonneblom ten toon. NAMPO bied ons die ideale geleentheid om produsente prakties aan hierdie materiaal bloot te stel – om self te kom kyk, vrae te vra en die verskil in die veld te ervaar.”
’n Sleutelontwikkeling hierdie seisoen is die plaaslike bekendstelling van die Croplan® witmielie-hibried, ná verskeie seisoene van evaluering onder Suid-Afrikaanse produksietoestande. Die kultivar is oor proefpersele én kommersiële plase getoets om prestasie onder wisselende omgewingstoestande te bepaal, en vorm deel van ’n breër strategie om internasionale genetika met plaaslike agronomiese insig en veldgegenereerde data te kombineer.
Die storie eindig nie by genetika nie, beklemtoon Lawless. “Ons bring nie net nuwe kultivars na die mark nie; ons stap die hele groeiseisoen saam met die produsent. Die doolhof-ervaring wys prakties hoe ’n geïntegreerde benadering lyk – van grondvrugbaarheid en wortelontwikkeling tot plantprestasie en opbrengsstabiliteit.”
Volgens haar begin veerkragtigheid letterlik onder die oppervlak. “Wanneer grondvrugbaarheid reg bestuur word – chemies, fisies én biologies – lê dit die fondament vir sterk wortelontwikkeling, beter voedingstofopname en uiteindelik beter plantprestasie. Dit is waar volhoubare produksie begin.”
Risikobestuur vir ’n onseker 2026-seisoen
Ludick sê Suid-Afrikaanse produsente bevind hulle tans in ’n unieke posisie: goeie oeste in baie dele van die land, maar terselfdertyd groot onsekerheid oor die volgende produksieseisoen.
“Ons kan dankbaar wees vir goeie opbrengste, maar uitdagings soos klimaatswisselvalligheid, onreëlmatige reënval, insetkoste en markdruk bly groot bekommernisse,” sê hy. “Veerkragtigheid beteken dat ons terugkyk na die afgelope seisoen en vra: Wat het gewerk? Wat het nie gewerk nie? En hoe bestuur ons dit beter vorentoe? Innovasie moet uiteindelik meer stabiliteit en beter besluitneming vir die produsent bring.”
Volgens Ludick moet produsente toenemend geïntegreerd dink. “Ons moet al drie pilare in ag neem – die grond, die wortel en die plant – wanneer ons oplossings ontwikkel en aanbevelings maak.” Hy verduidelik dat genetika ’n sleutelrol speel in opbrengsstabiliteit.
“Met ons Croplan-witmielies kyk ons nie net na top-opbrengste nie, maar ook na stabiele prestasie wanneer toestande verander.”
InteliGro fokus verder sterk op praktiese aanpassings by veranderende weerpatrone soos El Niño. “In ’n seisoen soos vanjaar beveel ons byvoorbeeld biologiese produkte en biostimulante aan om wortelontwikkeling en plantweerbaarheid te ondersteun. Grond bly een van die grootste stabiliteitsfaktore waaroor ’n produsent beskik.”
Ludick verwys na die waarskuwing van landbou-ekonoom prof. Johan Willemse dat produsente versigtig moet wees vir oorhaastige aanplantingsbesluite wanneer markte onder druk verkeer. “Dis juis in sulke tye waar goeie data, goeie advies en geïntegreerde besluitneming krities raak.”

InteliGro se interaktiewe doolhof-ervaring by NAMPO neem produsente stap vir stap deur ’n geïntegreerde benadering tot gewasbestuur.
NAMPO bly ’n platform vir verhoudings en innovasie
Vir beide Lawless en Ludick lê een van NAMPO se grootste waardes steeds in die verhoudings wat daar gebou word.Lawless sê: “NAMPO gaan nie net oor tegnologie en produkte nie – dit gaan oor mense. Daarom is ons ook betrokke by die Steakhouse waar ons help om ’n ruimte vir gesprekke, netwerkvorming en samekoms te skep.”
“Ek woon NAMPO nou al 46 jaar by – ek het net een gemis,” sê Ludick. “Daardie persoonlike kontak en verhoudingbou bly onmisbaar. Dis dikwels waar gesprekke begin wat later tot samewerking en nuwe oplossings lei.”