Categories: Artikels, SA295-hulpbronbestuurPublished On: 13th August 2024

Doen dit sommer self! KragDag 2024 in ’n neutedop

By 2 min read
365 words

IMG_5472

Kyk net al die uitstallers!

“Doen jou eie ding!” Dít is waarna KragDag streef!

Sakeliga KragDag is ’n ekspo wat jaarliks net oos van Pretoria aangebied word. Die  ekspo gaan oor volhoubare oplossings wat lei na selfstandigheid, waarvan die grootste rolspeler natuurlik alternatiewe energie is. Daar is ’n wye verskeidenheid temas wat strek vanaf kragplanne, watersuiwering, landbou, tuinbou, veiligheid, voertuie en die vervoerbedryf, tot opvoeding, jong ondernemers en vermaak.

Knittex maak materiaal wat gebruik kan word vir alles van skadunet, groentesakke en inkopiesakke tot kussings!

Die landbou-afdeling, ondersteun deur TLU-SA, is besig om met rasse skrede te groei. Van die 660 uitstallers by die skou het 108 iets met landbou te doen. Daar was ook 25 veeras-uitstallers.

Die terrein het amper verdubbel van verlede jaar af om ruimte te skep vir die groeiende belangstelling onder uitstallers wat iets het om te wys aan die derduisende besoekers. 34 200 besoekers het vanjaar KragDag bygewoon!

Een van die groot hoogtepunte is die helikopterritte wat vir besoekers aangebied word.

Wat KragDag anders maak, is die belangrike rol wat die deel van inligting speel. Die hele ekspo is gefokus daarop om besoekers in te lig oor nuwe opsies en idees. Dit is ook waarom daar verskeie inligtingspraatjies, debatte en demonstrasies plaasvind. Van die demonstrasies sluit byvoorbeeld in hoe ’n hond opgelei word om ’n dief agterna te sit, hoe hommeltuie ingespan kan word en boogskiet – selfs van ‘n perd se rug af!

In die skouring was daar praatjies oor die lekker van landbou, hoe om ‘n bees te verstaan, weidingsbestuur, stoetkuddebemarking en die keuse van bulle. Die Toyota Junior Afslaerskompetisie het ook daar plaasgevind.

Die veetent was ’n groot trekpleister. Hier kon jy interessante hoenders, ganse, kalkoene, kuikens, skape en lammers van alle rasse, beeste en selfs miniatuurperde aanskou.

Dít alles gebeur in ‘n heerlike karnavalatmosfeer met wedstryde, kunstenaars, hope kosstalletjies en karnavalritte.

KragDag gee aan uitstallers ‘n uitstekende geleentheid om te wys wat alles met die nuutste tegnologie en oorspronklike produkte uitgerig kan word om ‘n selfstandige bestaan moontlik te maak.

Besoek Sakeliga KragDag se webwerf vir meer inligting by www.kragdag.co.za. Kyk uit vir KragDag Wes-Kaap en KragDag Sentraal in 2025!

Die pragtige miniatuurperde lyk of hulle in ’n kind se speelkamer hoort.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0