Categories: NuusPublished On: 18th July 2019

Dit lyk positief vir reën

By 4 min read
878 words
rain

reen reg 4

Deur Johan van den Berg, Santam Landbou

El Nino is steeds teenwoordig maar daar is sterker aanduidings dat dit na meer neutrale see oppervlaktemperature kan verander as ‘n ruk gelede. Dit is positief vir reënval in die mid- tot laatsomer van die Somerreënvalgebied.

Gunstige reënvaltoestande vir die Winterreënvalgebied kan moontlik aanhou tot September, veral vir die westelike en suidwestelike dele. 

1. Huidige toestande

Redelike matige toestande kom steeds voor oor die Somerreënvalgebied vir hierdie tyd van die jaar met ‘n ondergemiddelde aantal ryp- en koue dae. Baie min of geen reën het voorgekom nie maar dit is normaal vir hierdie tyd van die jaar in hierdie gebied.  Meer koring is aangeplant in beide die besproeings- en droëlandgebiede as gevolg van goeie beskikbaarheid van oppervlakwater asook opgegaarde water in die wortelprofiel van droëlandgebiede na die goeie reën voor die winter. Die oesproses van mielies in die wes Vrystaat asook Noordwes-provinsie is vertraag in vergelyking met ander jare. Die verwagting is dat die oesproses eers teen die tweede deel van Augustus klaar gaan wees wat ongeveer 2 tot 4 weke later as normaal is. Die meeste sonneblom, sorghum en sojabone is klaar geoes.

Weidingstoestande in die westelike dele van die Noordwes Provinsie, die grootste deel van die Noord-Kaap (met die uitsondering van die oostelike dele), gedeeltes van die Ooskaap en kleiner dele van die aangrensende Wes-Kaap sowel as gedeeltes van Limpopo, ervaar steeds rampdroogtetoestande. In sommige gedeeltes heers die droogte alreeds sedert 2012.

Toestande het oor groot gedeeltes van die Winterreënvalgebied verbeter met gereelde reën sedert die laaste deel van Mei 2019. Die Weskusgedeeltes tot naby die Namibië grens het al reën gehad maar die binneland bly steeds droog. Die produksietoestande vir wintergewasse in die belangrike gebiede van die Swartland en Suidkaap lyk gunstig. Damvlakke verbeter steeds en dit is veral die Clanwilliamdam waar daar groot bekommernis was, wat ook begin opvul het.  

 2. El Nino en Indiese Oseaan

See-oppervlaktemperature in die Nino-gebiede bereik nou meer gereeld die neutrale fase van die ENSO (weg van El Nino). Drie van die vier Nino-gebiede was op 15 Julie 2019 in die band van +0.5˚C en -0.5˚C wat as neutraal geklassifiseer kan word. Koeler water van dieperliggende lae begin ook die warmer oppervlakwater vervang. Alhoewel daar nog steeds nie konsensus is by die meeste globale voorspellings rondom die El Nino status vir komende maande nie, is die verandering wat tans begin voorkom in oppervlaktemperature betekenisvol. Dit lyk of die kanse vir neutrale toestande groter begin word as vir El Nino-toestande om voort te duur.

Die Suidelike Ossilasie Indeks (SOI) wat ‘n maatstaf is van die koppeling tussen oppervlaktoestande en weerstelsels, is tans nog in ‘n sterk El Nino-patroon. Daar is gewoonlik ‘n vertraging in die reaksie tussen oppervlaktemperature en die SOI se reaksie en kan die huidige El Nino se uitwerking nog vir die volgende paar maande teenwoordig wees.     

Verwarming in die westelike Indiese Oseaan het ‘n positiewe Indiese Oseaan Dipool (IOD) Indeks laat ontwikkel. Dit is nie goeie nuus vir die volgende paar maande vir die Somerreënvalgebied nie, veral nie vir die lente en vroeë somerreënval nie maar voorspellings dui op verswakking teen ongeveer November.

3. Verwagte reënval en temperatuur

3.1 Somerreënvalgebiede

3.1.1 Reënval

Die winter is tradisioneel baie droog en huidige vooruitsigte toon ook ‘n baie lae waarskynlikheid vir winterreënval, veral vir die sentrale tot noordelike dele. Met die ontwikkeling van die positiewe IOD (Indiese Oseaan Dipool) Indeks vir die volgende maande kan dit ook negatief wees vir reënvalwaarskynlikhede in die lente en vroeë somer. Die voorspellings wat meer neig na ‘n neutrale ENSO (weg van El Nino) kan gunstig wees vir mid- tot laatseisoenreënval maar verlaag die waarskynlikheid vir lente en vroeë somerreënval. Daar is egter ‘n kans vir lentereën oor die suidelike dele as gevolg van die verlengde effek van El Nino soos ervaar met die SOI wat steeds El Nino neigings toon.   

3.1.2 Winterreënvalgebied

Koue fronte veroorsaak nou gereeld reën oor die westelike en suidwestelike dele van die Weskaap en selfs die Weskusgebiede van die Noord-Kaap. Dit sal waarskynlik aanhou vir die volgende klompie weke tot September. Redelike goeie neerslae word verwag in die laaste week van Julie en eerste deel van Augustus. Die El Nino neiging soos ervaar met die SOI kan positief inwerk op reënval vir die volgende paar maande.     

3.2 Namibië

Reënvaltoestande bly negatief vir die komende maande met waarskynlik ‘n laat begin van die somerreënvalseisoen van 2019/20.

4.  Opsomming en gevolgtrekking

Alhoewel dit nog baie vroeg in die seisoen is, is daar positiewe aanduidings dat die huidige El Nino-gebeurtenis kan oorgaan in meer neutrale toestande in die laatwinter en lentemaande. Dit is positief vir mid- tot laatseisoen somerreënval. 

Die winterreënvalgebied ervaar oor die grootste gedeelte ‘n goeie reënvalseisoen en verdere reën word ook verwag wat positief is vir goeie wintergraanoeste, veral in die Swartland en omgewing.

Die inligting vervat in hierdie verslag word op eie risiko gebruik en die opsteller/Santam of enige ander persoon/instansie genoem in hierdie verslag neem geen verantwoordelikheid vir die akkuraatheid of toepaslikheid/interpretasie van inligting vervat in hierdie verslag nie.  

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0