Dis ‘n SUZUKI ding! Modelle waarmee Suzuki Motors SA kopers se harte gaan wen

FB_IMG_1701080655872
Deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive
Suzuki Motors SA het in die afgelope paar jaar soos ‘n wafferse Aspoestertjie uit relatiewe niemansland in die kollig gespring met verstommende verkope van hul jongste reeks modelle.
Op die rug van bekostigbaarheid, mooi ontwerp, bewese betroubaarheid en uitstekende waarde-vir-geld het hierdie Japanese vervaardiger ontpop as een van die gewildste motorververvaardigers in Suid-Afrika met totale maandelikse verkope wat Suzuki die afgelope paar maande onder die top 3 laat boer op Naamsa se maandelikse lys van topverkopers.
Ons het drie van Suzuki se jongste modelle die afgelope tyd onder hande gehad en het eerstehands ervaar waarom Suid Afrikaners so begeesterd is wanneer dit kom jy die volgende Sukuki’s:
Suzuki Grand Vitara GL 1.5L handrat – R347 900
Die nuwe generasie Suzuki Grand Vitara het die kleiner en goedkoper Vitara Brezza plaaslik vervang, met die nuweling seker een van die mooier stoftrappers uit die Suzuki stal. Die nuwe Grand Vitara verras met ‘n ruim kajuit vir sy klas, goeie afwerking en standaard toerusting vir sy prys en is in Suid-Afrika beskikbaar met ‘n modelreeks van vyf(5) weergawes met ‘n keuse van 2 enjins.
Die reeks begin met die intreemodel 1.5 GL. Aangedryf deur ‘n 1.5liter 4-silinder petrolenjin met 77kW/138Nm se piekkragte en beskikbaar met ‘n keuse van ‘n 5-spoed handratkas of 4-gang outomatiese ratkas wat krag na die voorwiele stuur, behaal die GL ‘n topspoed van 183kpu met ‘n 0-100kpu lopie wat 11,3sekondes neem.
Die GL outomaties kos R369 900 terwyl die luukser GLX handrat R407 900 beskikbaar is terwyl die GLX outo teen R427 900 verhandel.
Die topmodel van die reeks is die Grand Vitara 1.5 GLX Hybrid AllGrip wat slegs in outomaties beskikbaar is en krag na al 4 die wiele stuur. Aandrywing is met ‘n ligte hibriede stelsel wat 75,8 kW at 6 000 rpm en 136,8 Nm teen 4 400 rpm lewer. Die stelsel werk ononderbroke terwyl dit die enjin ondersteun vir soortgelyke verrigting van ‘n normale binnebrand enjin maar met laer skadelike uitlaatgasse en brandstofverbruik. Suzuki se amptelike syfer vir die AllGrip Hybrid word aangegee as
6 liter/100km maar kan selfs laer wees tot 5,6 liter/100km, dit ten spyte van die ekstra 125kg gewig van die AllGrip 4-trek stelsel. Topspoed word aangegee as 185kpu en die 0- 100kpu lopie as 11,7 sekondes. Die GLX AllGrip Hybrid kos R542 900.
Stilering van die nuweling vertoon modern met veral die ontwerp van die vooraansig waar die LED hoof en dagryligte asook die prominente sierrooster treffend vertoon.
Binnekant laat die ruim kajuit genoeg spasie vir 5 insiitendes met laairuimte van 328liter. Hoë vlakke van standaard toerusting met goeie ergonomie asook moderne instrumentasie wat die groot kleur raakskerm vir infotainment insluit, het aangenaam verras.
Die goedkoper 1,5 liter GL handrat is ons gunsteling. Die ratkas is ‘n juweel met ratverhoudinge en enjinkrag wat perfek gekombineer is vir uitstekende verrigting. Die Grand Vitara bied goeie paddinamika en ritgehalte, maar ons was veral beïndruk op grondpad. Die GL 1,5 handrat is ons keuse in die nuwe Grand Vitara modelreeks.
Suzuki XL6 GLX Outomaties – R370 900
Die Suzuki XL6 is geheel ‘n nuwe 6-sitplek familievoertuig wat luukser afgewerk en beter toegerus is as die ou Ertiga model wat 7 sitplekke bied. Met ‘n ontwerpfilosofie wat die bakstyl na ‘n SUV laat neig, is die kajuituitleg van 3 rye sitplekke wat in 2 langs mekaar geplaas is ideaal vir ‘n gesin wat ‘n praktiese goed toegeruste en bekostigbare gesinswa benodig.
Die XL6 is tans beskikbaar in SA met 4 modelle wat met dieselfde beproefde Suzuki 1,5liter 4-silinder petrolenjin aangedryf word. Aandrywing by al die modelle is na die voorwiele met die keuse van ‘n 4-gang outokas of ‘n 5-spoed handratkas.Dié enjin lewer 77 kW teen 6 000rpm en 138 Nm wringkrag teen 4 400rpm. Topspoed word aangegee as 170kpu en die 0-100kpu lopie neem 11,6 sekondes.
Suzuki se amptelike brandstofsyfers in ’n gekombineerde toetssiklus, wat stads- en hoofwegritte insluit, word aangegee as slegs 6 liter/100 km vir die handrat en die outomatiese model as 6,1 liter/100 km.
Die XL6 bied na ons mening uitstekende waarde vir geld as gekyk word na die pryse by bekendstelling. Die modelreeks begin by die GL 1,5liter handrat wat R336 900 kos met die GL outomaties wat verhandel vir R355 900. Die luukser afgewerkte GLX handrat beloop R351 900 terwyl die topmodel GLX outo vir ‘n uiters aantreklike R370 900 aangebied word.
Stilerings gewys buite het ons toetsmodel se Opulent-rooi bakleur met baie swart aksente, ‘n swart dak met mooi sierwiele en ‘n forse vooraansig, nogal aandag getrek. Die LED hoofligte, misligte en dagryliggies het die moderne aanslag onderstreep.
Die 180mm grondvryhoogte, 185/65/15″ bande en silwer skermplate voor en agter ondersteun ook die “SUV”- ontwerpfilosofie.
Suzuki se nuwer generasie voertuie is uitstekend toegerus en die XL6 is geen uitsondering.
Elke XL6 is toegerus met ’n 7″-raakskerm-inligting- en vermaakstelsel met ses luidsprekers en Apple CarPlay en Android Auto. Die groot skerm word ook gebruik om die beeld vanaf die ingeboude trukamera te vertoon. Elektriese vensters is standaard, asook kragstuur, klimaatbeheer voor, lugversorging agter, drie 12V-kragsokke en ’n USB-poort, Bluetooth-telefoonverbinding, afstandbeheerde sentrale sluiting, sleutellose toegang met drukknop-aanskakelfunksie en geventileerde bekerhouers in die voorste konsole. Die GLX is toegerus met sintetiese leerbekleedsel op die sitplekke en die stuurwiel. Suzuki het ook outomatiese hoofligte en outomatiese wegvoubare kantspieëls by die spesifikasievlak bygesit.
Verder bied die Suzuki XL6 ’n omvattende reeks aktiewe en passiewe veiligheidstelsels as standaard toerusting by elke model wat ook ondermeer dubbele lSOFIX-kindersitplekmonterings, twee lugsakke, kinderslotte vir die agterdeure, ABS met elektroniese remkragverspreiding (EBD), elektroniese stabiliteitsprogram (ESP) en versterkte impakbalke in die deure insluit.
Die nuwe Suzuki XL6 gaan verseker die verkope van Suzuki modelle in Suid Afrika verder aanhelp.
Suzuki Fronx 1,5L GLX – R344 900
Suzuki Motors Suid Afrika het onlangs ‘n nuwe koepee gestileerde kompakte SUV plaaslik bekendgestel en ons het die topmodel GLX weergawe kort daarna getoets.
Die Fronx neem sy plek in die Suzuki reeks van stoftrappers in net onder die nuwe Grand Vitara en neem eintlik die plek oor van die uitgaande Suzuki Vitara Brezza. Die nuwe Fronx word egter gebasseer op die gewilde Baleno luikrug, maar loop hoër op sy 195/16/R16 sierwiele om ‘n respektabele grondvryhoogte van 170mm te kan bied.
Suzuki se witjasse het dit goed gedink om die Fronx te ontwerp ten einde te ry op die golf van die huidige gewildheid van enigiets wat avontuur in die ontwerpfilosofie uitbeeld. Dis waarvoor motorkopers, wie die grond- en agterpaaie buite die beton-oerwoude wil opsoek om sodoende hul dors na die buitelewe te kan bevredig, ‘n bekostigbare voertuig soek.
Die beeld as stoftrapper word verder beklemtoon met skermplate voor en agter sowel as model spesifieke onderstel en stuurspesifikasies. Van buite vertoon die Fronx baie goed met ‘n prominente sierrooster, laaggemonteerde LED hoofligte en LED dagryliggies asook ‘n dak wat koepee-agtig na agter swiep met ‘n dakgemonteerde drukvin. Die agterkant beïndruk ook met LED ligte en ‘n diep agterbuffer. Ses bakkleure is beskikbaar met die opsie om ‘n swart dakafwerking te kry by sekere modelle.
In grootte is die Fronx, wat in Suzuki se aanleg in Indië gebou word, 3995 mm lank, 1765 mm wyd en 1550 mm hoog met ‘n wielbasis wat 2520 mm span. Die voordeel daarvan is ordentlike beenspasie gemeet aan segment standaarde en ‘n laaispasie wat 304liter kan hanteer
In Suid Afrika het Suzuki Motors SA die Fronx reeks met 4 modelle bekendgestel teen uiters mededingende pryse vanaf R288 900 vir die intreemodel 1,5 liter GL 5-spoed handrat, tot die GLX 4-gang outomaties wat vir R335 900 verkoop.
Al die modelle word aangedryf met dieselfde 1,5liter 4-silinder petrolenjin wat 77kW/138Nm se piekkragte lewer en die krag na die voorwiele stuur. Topspoed word aangegee as 188kpu. Tydens ons toetsperiode wat ooppad en dorpsry gekombineer het, het ons ‘n gemiddelde brandstofverbruik gekry van 6,4l/100km nadat tons meer as 1200km afgelê het.
Binnekant bied die Fronx ‘n netjiese moderne kajuit wat uitsonderlik goed toegrus is gegewe die prys en segment waarmee die Fronx in SA meeding.
Die topmodel GLX weergawe bied uiters hoë vlakke van standaard toerusting in vergeleke met ander modelle in hierdie mededingende segment.
Daar was ondermeer outomatiese LED hoofligtes en ‘n 9” raakskerm vir die klank-, kommunikasie- en inligtingstelsels (7” vir die GL modelle). Die stelsel is geïntegreer met Bluetooth, AppleCarPlay en Android Auto. Daar is ‘n 360grade kamerastelsel wat ‘n tru-kamera insluit, outomatiese klimaatbeheer, spoedbeheer, drie USB koppelpunte waarvan 1 Tipe C is asook ‘n koordlose slimfoon laaiblad.
Verder bied die GLX ‘n 4,2 “ instrumentepaneel met ‘n stelsel wat rit-info op die ruit voor die bestuurder projekteer, sleutelose toegang en aan/afsit, asook ‘n elektro-chromatiese tru-spieël.
Die Fronx kom ook met omvattende aktiewe en passiewe veiligheidstelsels waaronder 6 lugsakke soos met ons toetsmodel.
Die nuwe Suzuki Fronx bied ingesluit in die koopprys ’n 5-jaar/200 000 km promosie- meganiese waarborg en ’n 4-jaar/60 000 km diensplan. ’n Omvattende 5-jaar-padhulpdiens en ’n 6-jaar- onbeperkte kilometer-waarborg teen roes is ook deel van die koopprys.
Die nuwe Suzuki Fronx het ons teen alle verwagting verras en oorrompel met padgedrag, hantering, standaard toerusting. Algeheel is die Suzuki Fronx ons verrassing vir 2023!
Dit is ongetwyfeld seker die beste kopie tans beskikbaar en bied ongeloooflike waarde vir geld aan sy kopers.
Dit is my gunsteling motor tans om as 2024 se Motor van die Jaar te wen en is in alle opsigte ‘n wenner!!