Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 3rd October 2022

LEMKEN: Diep gewortel in Greenway Boerdery se grondvoorbereiding

By 5 min read
956 words

DSC_0972

Waar hierdie blouspan geloop het is ՚n land gereed vir plant.

LEMKEN is welbekend vir hulle veeldoelige grondbewerkingtoerusting soos die Karat, Rubin en Heliodor wat jou verseker van ’n ferm saadbed vir die plantseisoen. Wanneer daar geploeg moet word, staan LEMKEN ook gereed met sy Juwel-reeks.

Greenway Boerdery het 34 jaar gelede ontstaan – in 1988. Hulle is geleë in die Tarlton-omgewing, en het ook uitbreidings in Christiana en Naboomspruit. Die hoofgewas wat Greenway Boerdery verbou is wortels (800 ha) en kontantgewasse wat insluit koring (350 ha), suikerbone (300 ha) en sojabone (300 ha).

Greenway Boerdery is ՚n familieboerdery wat uit twee families bestaan,  onder leiding van Vincent Sequeira (Senior) en Vito Rugani.

“Ek het op die plaas grootgeword en het nog altyd ՚n liefde en passie gehad vir dit wat ons doen. Vandat ek vyf jaar oud was, het ek oor naweke en vakansies op die plaas gehelp waar ek kon. Die afgelope vier jaar is ek voltyds op die plaas, waar ek begin het as hoofplaasbestuurder vir ons Tarlton-aanleg en na twee-en-՚n-half jaar is ek aangestel as senior produksiebestuur­der, waar ek nou verantwoordelik is vir die bestuur van al drie plase,” vertel Vincent Sequeira junior.

Die LEMKEN Juwel 8 in aksie met die herkonsolidasie-
roller wat agterna sorg vir ՚n egalige en perfekte saadbed.

Daar is nie in die wêreld ՚n stel werk­tuie wat kan vergelyk met LEMKEN nie. Dit is ook juis waarom Greenway Boerdery LEMKEN gekies het. Hulle het gebruik al die afgelope drie-en-՚n-half jaar LEMKEN-werktuie. Hulle het vier LEMKEN werktuie op die plaas, onder meer twee 3,5 meter Karat 9’s, ՚n 5 meter Rubin 12 en het onlangs die LEMKEN Juwel 8-ploeg aangeskaf.

“Die afgelope vyf jaar het boere regoor die land ՚n kopskuif gemaak en die belangrikheid van goeie grondstruktuur meer en meer besef. Ons behoefte op die plaas was om ons grondstruk­tuur en grondvog te verbeter,” vertel Vincent.

Marco Tijssen, mede-direkteur van Genius Landbou en LEMKEN-verkoops-verteenwoordiger vir die Tarlton-omgewing, beaam dat LEMKEN die regte oplossing is om Greenway Boerdery se grondstruktuur te verbeter. “Hulle was op soek na ՚n betroubare werktuig en onderdele wat maklik beskikbaar is. Ek het die LEMKEN Juwel 8-ploeg saam met die herkonsolidasieroller aanbeveel, wat ideaal is vir die herkonsolida­sie van grond en die beste resultate tot gevolg het,” sê hy.

Marco Tijssen van Genius Landbou, Vincent Sequeira (Junior) van Greenway Boerdery en Christo Prinsloo van LEMKEN by die Juwel 8-omslagploeg en herkonsolidasie roller.

Die LEMKEN Juwel 8-ploeg is ՚n gemonteerde ploeg wat aan die 3-punt koppeling van die trekker haak. Die herkonsolidasieroller word met ՚n aanhegting aan die ploeg gekoppel en sleep agterna. Aan die begin en einde van die land word die roller af- en aangehaak nadat die ploeg hidroulies in die lug omgedraai word om ՚n nuwe vak te ploeg.

“Nadat ek deeglike navorsing ge­doen het, het Marco die Juwel 8 aan my voorgestel,” sê Vincent.

“Ek het sewe vereistes gehad: duursaamheid, gebruikersvriendelikheid, lae onder­houdskoste, goeie dieptebewerking, veilige en vinnige hidrouliese omslaan, beskikbaarheid van onderdele en laastens een grondbewerking wat die kluite breek en ՚n gelyke grondopper­vlak skep. Die Juwel 8 het aan al die vereistes voldoen en my keuse baie maklik gemaak .”

Goeie grondstruktuur is van uiterste belang om lug en water deur die grond te laat beweeg en gesonde plantegroei te verseker.

Vincent voeg by: “Omdat wortels ‘n wortelgewas is, is ons grondstruktuur vir ons uiters belangrik om te verseker dat ons die beste gehalte wortels kan produseer en ook siektes van die ge­was te verminder deur te verseker dat jy die beste moontlike dreinering in jou land het.

“Ons het oor die jare heen nog altyd ons lande met ploeë bewerk, alhoewel ons altyd ՚n ekstra bewerking moes doen vir die saadbedvoorbereiding. Met die Juwel se roller wat agterna sleep, is dit ՚n twee-in-een bewerking. Ons bespaar op brandstof, arbeid, slytasie en ՚n bykomende trekker en werktuig se gebruik. Met al hierdie faktore in ag geneem, is ons meer doeltreffend in wat ons doen.

“Een van my gunsteling kenmerke uniek aan die Juwel 8 is die Optiquick-verstellingstelsel. Die Optiquick-verstellingstelsel maak voorsiening vir maklike en doeltreffende verstel­ling van voorwydte en trekker- of ploegtreklyn, onafhanklik van mekaar. Hierdie presiese en spesifieke verstel­ling het vir ons groot verbeterings in ons brandstofverbruik bewerkstellig. Die trekkers trek die ploeg makliker, wat beter doeltreffendheid en kostebe­sparing tot gevolg het.

“Die LEMKEN Juwel 8-ploeg kan tot 350 mm diep werk en die skare sny vanaf 33 to 50 cm wyd. Die ploeg beno­dig ՚n trekkerkrag wat wissel van 80 tot 150 kW afhangend van die aantal ploeg­skare. Die herkonsolidasieroller word bykomend tot die ploeg aangeskaf. Dit word met ‘n hidrouliese pen aan die omslagploeg gekoppel. Wanneer die ploeg op die wenakker omgedraai word, los die pen die roller, die trekker en die ploeg draai om, en haak weer die roller om die volgende ry te bewerk,” ver­duidelik Marco.

Vincent voeg by: “Ons gebruik ՚n 130 kW trekker om die ploeg te sleep. Die Juwel het in ՚n jaar alreeds 400 ha bewerk, en ons moes nou eers vir die eerste keer van die skare vervang.”

Marco, Vincent en Christo meet die werking van die Juwel 8 en vind dit perfek.

Marco sê: “Baie boere keer terug na ploeë omdat dit ՚n bewerking is wat die meeste bied vir die boer. Jy het ՚n beter grondstruktuur, beter onkruid- en plaagbeheer op jou lande, wat uiteindelik ՚n beter gewas en oes tot gevolg het.”

“LEMKEN se werktuie is betroubaar en gebou om te hou. Met LEMKEN kry jy 100% waarde vir jou geld, en jy is verseker om te kry wat jy nodig het en meer,” sluit Vincent af.

Jy kan ook wen met LEMKEN. Vir meer inligting, kontak vir Karel Munnik by 082-412-2577 of k.munnik@lemken.com, Blackie Swart by 082-404-9651 of b.swart@lemken.com. Die kantoornommer is 086-267-5720.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0