Categories: NewsPublished On: 18th July 2016

Die Vrystaat verloor miljarde weens veediefstal

By 3 min read
592 words

PolisieFoto12Julie20161

’n Ernstige toename  in veediefstalword sedert die begin van die jaar in die Vrystaat waargeneem. Die aantal voorvalle wat by die VKB/VL Veiligheidslessenaar aangemeld word, dui ’n beduidende styging aan, asook die aantal diere wat per voorval gesteel word. Die Steynsrus-distrik is veral geteiken na veediewe tydens drie voorvalle tussen April en Junie tussen 20 en 31 stuk skaap per voorval in die veld geslag het. In die Oos-Vrystaat is ’n voorval aangemeld waar teelbulle ter waarde van R450 000 gesteel is en later geslag in die veld gevind is.

Veediefstal was dus een van die belangrike punte wat die Veiligheidslessenaar en Vrystaat Landbou (VL) se Wet en Orde Komitee met nege lede van die provinsiale Polisie se hoëvlakbestuur tydens ’n vergadering op 12 Julie 2016 bespreek het. Navorsing wat deur WA Lombard, ’n M-graad-student aan die Universiteit van die Vrystaat se Departemente van Landbou Ekonomie, oor skaapdiefstal gedoen is, is ook aan die Polisie voorgehou. Lombard het die navorsing in samewerking met die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) onderneem.

Volgens WA se navorsing wat oor ’n aantal jare gedoen is, kom die provinsie se jaarlikse verlies as gevolg van skaapdiefstal op R1,5-miljard te staan. Dít sluit wel net direkte verliese in, nie verliese weens stoetdiere of gene wat verlore gaan nie. Die lessenaar skat dat die verlies net aan skaap weens veediefstal dus tot R2-miljard per jaar kan beloop. Die totale verlies weens veediefstal in die provinsie is dus astronomies, veral as in ag geneem word dat onderrapportering van veediefstal volgens navorsing tussen 60% en 70% kan wees.

Die VKB/VL Veiligheidslessenaar se oudit van die Landelike Beveiligingsplan (LBP), grondbesettings en die kwessies rondom Zama-Zamas in dele van die provinsie is ook bespreek. Tommie Esterhuyse, voorsitter van die komitee, sê in terme van die oudit is punte bespreek waar georganiseerde landbou se strukture ondersteuning kan bied aan die Polisie om veiligheid te verbeter. Tien distrikte is volgens statistiek as brandpunte geïdentifiseer, en die organisasie en die Polisie gaan saamwerk om die kwessies in die distrikte aan te spreek. Dié brandpunt areas is: Bethlehem, Ficksburg, Bloemspruit, Harrismith, Phuthaditjaba, Selosesha, Zastron, Heilbron, Vrede en Bothaville.

Die komitee se strategiese beplanning is ook in samewerking met die hoëvlakbestuur bespreek, terwyl die Polisie se verantwoordelikhede in terme van grondbesettings weer beklemtoon is. “Nog iets wat uitgewys is, is die oprigting van grafstene oornag op plase in terme van restitusie-eise sonder die medewete van grondeienaars,” sê Tommie. Hy sê hulle wil graag boere se aandag vestig op dié neiging en dat hulle enige verdagte optrede of voorvalle in die verband by VL se kantoor en die Polisie moet aanmeld.

Volgens Tommie het die vergadering in ’n goeie gees plaasgevind en die sukses wat die afgelope paar maande met blou-/witlig operasies in die provinsie aangeteken is, is ook bespreek. “Ons is dankbaar dat ons kan bly voortbou op die goeie verhoudinge wat bestaan en ons is dankbaar dat ons pogings vir beter samewerking vrugte afwerp.” VL en die Polisie se topstrukture vergader elke tweede maand.

Hier is WA Lombard se volledige studie: WA-Lombard-M-Sc

 

Foto:

Voor: Tommie Esterhuyse (voorsitter, VL Wet en Orde Komitee), Genl PE Gela

Tweede ry van voor: Brig MJ Lekoeneya; Brig J Bonthuys, Meiring Maree (VL veiligheidstreekverteenwoordiger), Brig KI Khuto, Brig TV Rantsoareng, Brig ME Ralejalla, Brig JB Moloi

Derde ry van voor: Henk Vermeulen (VL HUB) , Genl MD Sempe, dr. Jane Buys (VKB/VL Veiligheidslessenaar), Brig Ramorene-Tsoai, Gernie Botha (VKB/VL Veiligheidslessenaar)

Agter: Johan Stadler (VL Wet en Orde Komitee), Dirk Viljoen (VL veiligheidstreekverteenwoordiger) en Jakkals le Roux (VL veiligheidstreekverteenwoordiger)

Bron: VKB/VL Veiligheidslessenaar

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0