Categories: NuusPublished On: 13th March 2025

Die voor-opkomsstrategie waarvoor jou oes gewag het

488 words

Andries-Duvenhage-Syngenta South Africa

Andries Duvenhage, Syngenta

Die nuwe kleingraanseisoen is voor die deur en daarmee saam al die werk wat gedoen moet word om die beste moontlike oes oor ‘n paar maande te verseker. Een van die hooftake is natuurlik onkruidbeheer. 

Die beste onkruidbeheerstrategie is een wat die probleem uit verskillende hoeke benader deur die integrasie van bewerkingspraktyke, chemiese oplossings en optimale toediening. Raaigras (Lolium rigidum), ‘n hoogs problematiese onkruid wat ook weerstand teen onkruiddoders opgebou het, is ‘n goeie voorbeeld van hoe die teorie van geïntegreerde onkruidbeheer in die praktyk neerslag vind.

Dit is wel bekend dat strategies beplande diepbewerking een van die hoekstene van effektiewe raaigrasbeheer is. Dit is egter nie ‘n opsie as jy ‘n minimumbewerking koringprodusent is nie. In jou geval, is voor-opkomsonkruiddoders onontbeerlik om raaigras onder beheer te hou en, siende dat jy nie spesifieke saadbedvoorbereiding doen nie, het jy ook gespesialiseerde toedieningsoplossings nodig om seker te maak dat die produkte hul teiken tref.

Syngenta het ‘n onkruiddoder-en-spuitstukkombinasie wat al jou uitdagings aanspreek.

In terme van produkte, word raaigras besonder doeltreffend beheer wanneer BOXER® en LOGRAN® saam gebruik word. As voor-opkomsonkruiddoders, hou dié produkte belangrike voordele in. Eerstens help hulle om onkruidpopulasies laag te hou en beperk sodoende die skade wat onkruide aanrig wanneer hulle vroeg in die seisoen aggressief met die gewas kompeteer. Tweedens is hul metode van werking anders as dié van na-opkomsprodukte en dit help om die ontwikkeling van weerstand te voorkom en te bestuur. Saam is BOXER® en LOGRAN® staatmakers vir die beheer van gras- en breëblaaronkruide in kleingraan.

Selfs die beste produkte is magteloos as hulle nie behoorlik toegedien word nie. ‘n Fyn saadbed wat goed voorberei is, is ‘n voorvereiste vir effektiewe beheer, siende dat kluite en hopies organiese materiaal bresse slaan in die verdedigingslinie wat onkruiddoders oprig. Produsente wat bewaringsbewerking toepas, staar dus ‘n toedieningsprobleem in die gesig – wat gelukkig deur die regte spuitstuk opgelos kan word. Daar is reeds bewys dat gekantelde spuitstukke beter daarin slaag om die grond agter kluite en in ander moeilik bereikbare plekke te bedek, en dat dit onkruidbeheer met tot 10% verbeter.

Nog ‘n toedieningkopseer is druppels wat wegdryf voor hulle hul teiken kan bereik. Afgesien daarvan om windspoed in gedagte te hou, kan spuitstukkeuse ook hier die oplossing wees. ‘n Spuitstuk met ‘n 90% minder wegdrywing gradering, produseer groter druppels en beperk die hoeveelheid druppels kleiner as 150 mikron tot 10% per volume. Groter druppels behou hul momentum en is minder geneig as kleiner druppels om te verdamp.

Syngenta se 3D Ninety spuitstuk kombineer verlaagde wegdrywing en ‘n 55-grade hoek om hoogs effektiewe bedekking te behaal onder omstandighede wat normaalweg teenstrydig met toedieningsukses is. Met hierdie resultaat van 15 jaar se spuitstuknavorsing, kan jy spuit wanneer dit te winderig vir tradisionele spuitstukke is én met die gemoedsrus dat die aggressiewe hoek bykans oral bykom.

Met die spierkrag wat die BOXER®, LOGRAN® en 3D Ninety spuitstuk beloof, hoort hierdie driemanskap bo-aan jou koringstrategie vir die komende plantseisoen.

 Bron: Syngenta

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0