Categories: Artikels, PluimveePublished On: 20th December 2022

Die volstruisbedryf in die Klein-Karoo deel 4: Die rol van toerisme in die volstruisbedryf

By 8 min read
1469 words

volstruisnes

՚n Volstruis op 'n nes vol eiers op Highgate volstruisplaas.

deur Tisha Steyn

Groot rykdom het aan die begin van die vorige eeu in die Klein-Karoo geheers te danke aan volstruise. Maar toe die veremark in duie stort, moes die volstruisboere ander planne maak om te oorleef en hulle planne het vandag nog nie opgeraak nie.

In die vorige hoofstuk het ons gesien waar die volstruisbedryf begin het, hoe die pragtige pluime Oudtshoorn onder die wêreld se aandag gebring het, en hoe ander bedrywe daaruit gegroei het.

Vandag het Oudtshoorn ՚n bevolking van bykans 100 000 wat in ՚n groot mate van die volstruisbedryf afhanklik is, nie net vir die verwante landboubedrywighede en diensverskaffers nie, maar ook vir toerisme. Baie sake op die dorp het ontstaan en bly aan die lewe as gevolg van die volstruisbedryf en die duisende werksgeleenthede wat dit skep. Ten spyte van terugslae, soos uitmergelende droogtes, voortslepende voëlgriep en Covid-19-inperkings wat die markte gesluit het en toerisme aan bande gelê het, leef die volstruisbedryf voort.

Besoekers is gaande daaroor om die volstruise te voer wat op Highgate
Volstruisskouplaas se werf aangehou word.

Uitdagings omskep in geleenthede

In 2011 het die uitbreking van die H5N2-voëlgriepvirus daartoe gelei dat sowat 50 000 volstruise vankant gemaak moes word om te probeer voorkom dat die virus versprei. Boonop is die uitvoer van volstruisvleis na lidlande van die Europese Unie is verbied. On die kroon te span moes hulle aan biosekerheidsvereistes voldoen voor hulle hulle plase kon registreer ten einde as volstruisboere voort te gaan. Dit het die uiters winsgewende bedryf op sy knieë gedwing. Boere het aansienlik minder per volstruis verdien en daar moes dringend ՚n alternatiewe bron van inkomste gevind word.

“Al ons volstruise – elke broei-volstruis, slagvoël en klein kuikentjie- is met die uitbreek van die voëlgriep doodgemaak,” vertel Johan Keller van Volmoed, voormalige volstruisboer wat nou die toerismeafdeling van die saak hanteer. Sy broer Viljee hanteer die volstruisboerdery.

“Ons was verslae oor wat gebeur het aangesien 60% van ons boerdery uit die volstruisbedryf bestaan het, terwyl die res lusern en agritoerisme ingesluit het. Daardie jaar was daar ook ernstige droogte met geen lusernhooi op die landerye nie.”

Uiteindelik het die staat het darem 50% van die waarde van die volstruise wat vankant gemaak moes word, aan die boere uitbetaal, maar dit het die broers laat besef hulle kan nie net op ՚n inkomste uit volstruisprodukte, naamlik vleis, vere en velle, staatmaak nie. Die wêreldbekende Highgate-volstruisskouplaas binne 10 km vanaf buurplase waar H5N2 voorgekom het, moes ook al sy volstruise uitslag. Die plaas is vir twee jaar vir toeriste gesluit. Dit het die Hooperfamilie baie sleg getref, want dit het hulle twee jaar lank van ՚n inkomste ontneem. Hulle kon dit nie oorleef nie en in 2013 het die Kellerbroers Highgate uitgekoop.

Die Peperboom-restaurant by Highgate berei geregte van volstruisvleis
en -eiers om verder waarde toe te voeg en die produkte bekend te stel.

Toerisme blom

Toerisme is nie regtig geraak met die uitbreek van voëlgriep nie, want alhoewel daar ՚n verbod op die verskuiwing van volstruise was, kon mense nog kom en gaan mits aan biosekerheidsmaatreëls voldoen is.

“Toerisme het geblom en talle nuwe gastehuise het in die Oudtshoornomgewing tot stand gekom. Groot getalle besoekers uit Duitsland, Nederland, Engeland en Amerika het ingestroom.”

Volgens Corleen Barnard van Oudtshoorn en De Rust Toerismeburo is die meeste besoekers tans uit die res van Suid-Afrika, gevolg deur Duitsland, Nederland, Brittanje en Indië.

՚n Besoeker hou ՚n volstruiskuiken vas.

Agritoerisme

“Ek en Viljee het besef ons sal moet diversifiseer, veral buite die landbou, om die droogtes waarvoor Oudtshoorn oor baie jare bekend staan, te kan absorbeer vir ons kontantvloei.

“Agri-toerisme was die aangewese ding om te doen, want ons het reeds uitgebreide infrastruktuur, soos woonhuise, buitegeboue en skure gehad wat ons kon omskakel vir die gasvryheidsbedryf. Dit was ՚n goeie besluit wat ՚n suksesvolle inspuiting in ons ondernemings was, want agritoerisme het ons deurgehelp.” Hulle het die woonhuise op Mooiplaas, De Denne en Bakenskraal ontwikkel en dit kry groot aftrek by plaaslike, maar veral internasionale gaste.

“Ons geniet die sinergie tussen agritoerisme en die boerdery wat mekaar wedersyds ondersteun,” sê Johan. Die besoekers stroom na Oudtshoorn om die Kangogrotte te besoek, maar ՚n besoek aan ՚n volstruisplaas waar hulle die groot voëls van naderby kan leer ken, is ook hoog op die lys van besienswaardighede.

“Omtrent elkeen wat Oudtshoorn deur die jare besoek het, wou graag ՚n volstruis sien en dalk ook op een ry. Die misnoeë en teleurstelling op elke besoeker se gesig is duidelik sigbaar as hy of sy hoor die ryery van volstruise sedert 2019 verbode is weens druk wat deur sekere groenes toegepas is. Die groenes voer aan dat die ryery die volstruis kan beseer!”

Vars volstruisvleis kon voor die uitbreking van H5N2 in 2011 uitgevoer word, maar die verbod bestaan steeds.

Covid-19

Die uitbreking van Covid-19 in Maart 2020 was ՚n nuwe uitdaging. “Dit het ons platgeslaan. Ons het baie goeie besprekings vir die laaste kwartaal van 2020 en die eerste kwartaal van 2021 gehad, maar alle besprekings is gekanselleer. Ons was opnuut verslae. “Dit was die begin van dertig maande se ernstige kontantvloeiknellings vir almal in die gasvryheidsbedryf. Baie sake het gesluit aangesien die banke nie meer bereid was om verdere kre-diet te verleen nie. Die risiko’s was net te hoog – en is nog steeds. Alle toerisme-ondernemings is steeds onder geweldige geldelike druk.” Volgens Johan het die staat darem die werknemers tot Julie 2021 met die Ters-fondse ondersteun wat vir hulle kos op die tafel gesit het.

“Baie werknemers is sedertdien steeds by hulle huise en sukkel om hulle gesinne te onderhou omdat hulle werkloos is. Ons is in ՚n stryd met die Departement van Arbeid gewikkel om ons mense uit die werkloosheidsfonds te help.”

Eierdoppe word graveer of
beskilder en verkoop om die volstruisbedryf verder te diversifiseer.

Les geleer

Maar hulle het geleer om dinge anders toe doen. “Ons het geleer om slimmer te raak, om geld te bespaar en met die absolute minimum te oorleef … en om die banke tevrede te hou. “Ons werkers het geleer om meer as een taak te bemeester, want daar is nie meer die luuksheid vir ՚n persoon vir elke funksie by die werk en vir mense om rond te staan nie. Die kelners of gidse bedien kos, help in die kombuis en met die opwas en afdroog van skottelgoed. Dieselfde mense werk ook by van die ander afdelings van die onderneming as die nood druk.

“Brandstofpryse en vervoerkoste is vir almal ՚n groot uitdaging. Onnodige besittings soos tweede voertuie en landboutoerusting wat rondstaan en nie meer gebruik word nie, is verkoop. Ons doen groothandel-aankope om die geweldige styging in kospryse teen te werk.” Johan sê winsgewendheid in die bedryf is nou die grootste uitdaging aangesien Europeërs nie inflasie ken nie en nie meer wil betaal as wat die tariewe voor Covid-19 was nie.

“Baie ondernemings moes noodgedwonge hulle tariewe die afgelope drie jaar dieselfde hou, wat ՚n geweldige druk op ons winsgewendheid plaas. Vliegtuigkaartjies se prys het die afgelope jaar bykans verdubbel, terwyl brandstofpryse vir binnelandse reise ook die hoogte in geskiet het. Boonop het voedselinflasie ook gestyg, wat nog ՚n geweldige uitdaging vir die toerismebedryf inhou. “Die gevaar is dat die wêreld SuidAfrika as ՚n onbekostigebare bestemming kan klassifiseer en lande nader aan Europa soos die Ooste bo ons kan verkies en dit sal ՚n tragedie wees.”

Nietemin lyk besprekings vir die laaste kwartaal van 2022 baie belowend, maar dit sal seker ՚n verdere twaalf maande neem om tot die vlakke voor Covid-19 te herstel.

Die winkel op Highgate verkoop
volstruisware wat elke sak pas.

Toekoms

“Ek glo dat Oudtshoorn baie van sy aansien as toerismedorp sal verloor as die boere gedwing word om die bedryf te verlaat omdat dit nie winsgewend is nie,” meen Johan.

“Prysverhogings vir die boere hou glad nie tred met die verhogings in die kostestruktuur soos arbeid, elektrisiteit, brandstof, voeding, kunsmis, saad, koste van kapitaal, en dies meer nie.”

Die volstruisbedryf, wat die produksie en vervaardiging van produkte insluit, dra by tot die ekonomiese vooruitgang van Oudtshoorn en dit is sekerlik een van die grootste werksverskaffingsbedrywe in die streek. En dit is noodsaaklik vir toerisme. Op hulle beurt ondersteun die toerismebedryf die volstruisbedryf deur volstruisvleis in hulle gastehuise en restaurante te gebruik. Vertoonlokale en uitstallings by die vertoonplase en gastehuise gee internasionale blootstelling aan al die vleis-, leer-, vere en byprodukte, soos beskilderde of gegraveerde volstruiseiers. Toere op volstruisvertoonplase en gastehuise help ook om die bedryf bekend te stel.

Items van volstruisleer is gesog by besoekers, wat ՚n waardevolle inkomste vir die onderneming inbring.

Vir meer inligting, kontak Johan Keller by (+27)83-236-3456 of stuur ՚n e-pos na johan@dedenne.com. Besoek die webtuiste by http://www.highgate.co.za/  of op Facebook by Highgate Ostrich Show Farm by https://www.facebook.com/pages/Highgate-Ostrich-Show-Farm/132423466795542  of https://www.facebook.com/Oudtshoorn.Tourism.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0