Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 5th October 2022

Die volstruisbedryf in die Klein-Karoo deel 1: Oorsig oor aspekte van volstruisboerdery

By 6 min read

volstruis inleiding1

Die volstruis (Struthio camelus) is nou verbind met die geskiedenis van Oudtshoorn en die bedryf is een van die grootste werkverskaffers in die Klein-Karoo. (Foto: Pixabay)

deur Tisha Steyn

Die wel en wee van die Klein-Karoo is sedert die middel 1800’s nou verweef met dié van die volstruis.

Die bedryf het in die 1800’s rykdom na die gebied gebring. Talle ondernemings op Oudtshoorn het hulle oorsprong en voortbestaan aan die bedryf te danke. Ondanks groot uitdagings soos droogtes en voëlgriep, is die bedryf steeds een van die grootste werkverskaffers in die Klein-Karoo.

Volstruisvleis is landwyd in supermarkte beskikbaar (Foto: Tisha Steyn)

Struthio camelus, ՚n lid van die familie van vluglose voëls, is inheems aan Sirië, Arabië en Afrika, waar die enigste wilde volstruise steeds voorkom.
Die eerste pluime van wilde volstruise is in 1821 van die destydse Kaapkolonie af uitgevoer. Tot in daardie stadium is volstruise gejag en
doodgemaak om hulle pluime te oes.

Teen 1858 is nog vere van wilde volstruise uitgevoer. Teen daardie tyd het die volstruisveer-mode posgevat en die aanvraag was oorweldigend. In 1922 is die volstruise in die Kaapkolonie as beskermde voëls verklaar om hulle van uitwissing te red.

՚n Trop volstruise wat slaggereed gemaak word. (Foto: Pixabay)

Die eerste wilde volstruis is in 1863 ‘makgemaak’, en sodoende het ՚n
nuwe vertakking van boerdery in die Karoo en Oos-Kaap ontstaan, naamlik droogte van 1865 het baie boere na die volstruis begin kyk as ՚n alternatiewe boerdery en in daardie jaar is reeds 80 ‘mak’ volstruise in die Kaapkolonie se sensus aangeteken.

Vandag fokus die bedryf nie meer eksklusief op vere nie, maar ook op volstruisleer wat uitgevoer word en plaaslik in modebykomstighede omskep word, asook gesonde rooivleis wat landwyd in supermarkte beskikbaar is. Die volstruis is ook naas die Kangogrotte die grootste toerisme-aantreklikheid in die Klein-Karoo.

Mode-toebehore soos gordels word van volstruisleer gemaak. (Foto: Pixabay

Dit is nie ՚n maklike bedryf nie en voortgesette navorsing by die
Oudtshoorn Navorsingsplaas en op volstruisplase ondersoek deurlopend oplossings vir die uitdagings in die bedryf.

In hierdie inleidende artikel word die basiese beginsels van volstruis-boerdery kortliks uiteengesit.

Broeipare

Besoekers aan Oudtshoorn in die Klein- Karoo en ander dele van die land waar met volstruise geboer word, sien dikwels twee of drie volstruise in ՚n kamp loop. Hierdie volstruise is ՚n broeitoom wat gewoonlik bestaan uit ՚n mannetjie met sy kenmerkende swart vere en een tot drie wyfies met hulle vaal veredos. Die mannetjie het pragtige wit pluime wat hy tydens ՚n paringsdans vertoon om die wyfie te beïndruk.

Die volstruismannetjie en -wyfie maak in ‘n ekstensiewe stelsel self hulle kuikens groot. (Foto: Pixabay

In ՚n intensiewe produksiestelsel word die eiers daagliks versamel en in ՚n broeikas uitgebroei. Sodoende hou die volstruise aan met lê, waar hulle andersins sou ophou produseer wanneer hulle op ՚n nes vol eiers begin broei.

Soms word tussen vyftig tot honderd volstruise in ՚n kamp van tot 100 ha gehou, met vyf tot sewe mannetjies vir elke tien wyfies. Die eiers in hierdie tropkampe word ook gereeld versamel en kunsmatig uitgebroei.

Verskillende variante

Naas die inheemse SA Black, is volstruise soos die Zimbabwean Blue en die Kenyan Red uit Afrikalande ingevoer ter wille van die groter karkas vir slagdoeleindes.

Die volstruisbedryf het sy ontstaan te danke aan sierlike volstruisvere. (Foto: Pixabay)

Die paarseisoen in die Klein-Karoo duur van Mei of Junie tot Desember of Januarie, want produksie word geprikkel deur die omswaai na langer dagure.

Geselekteerde teeldiere produseer al van tweejarige ouderdom af en bereik optimale produksie van driejarige ouderdom af.

Eiers

՚n Nes het gewoonlik minder as twintig eiers en deur die broeiseisoen word tot vyftig eiers gelê.

Elke eier weeg tussen 1 200 en 1 800 g en die inkubasietydperk is 42 dae. Eiers word vir ՚n week lank versamel en geberg voor dit een keer per week in die broeikas gepak word, so die bergtydperk is tipies een tot ses dae.

՚n Volstruiseier weeg tussen 1 200 en 1 800 g. (Foto: Tisha Steyn)

Die eiers moet teen 15 tot 20 °C geberg word teen ՚n relatiewe humiditeit van 75%. Eiers broei binne 42 dae uit teen 36 °C en ՚n relatiewe humiditeit van nie meer as 28% nie.

Die uitbroeipersentasie wissel gewoonlik van 40% tot 80%. Die gemiddelde vrugbaarheid is 75% tot 80% en in sommige gevalle selfs so hoog as 98%. Dopverliese is tussen 10% en 20% (kuikens wat in die eiers vrek voor uitbroei).

In houtbroeikaste word die eiers met die hand gedraai en die hittebron met die hand geaktiveer. Elektroniese broeikaste verrig die take outomaties.
Die eiers word kort voor uitbroei na ՚n uitkomkas oorgeplaas word sodat die kuikens daarin kan uitbroei en droog word. Die proses kan tot 48 uur duur.

Eiers vir uitbroei word op die plaas versamel of ingekoop.

Grootmaak van kuikens

Eerstegraad kuikens weeg meer as 750 g. In ՚n ekstensiewe stelsel word die broeipare in klein kampies of op landerye groot totdat hulle sowat drie maande oud is.

In ՚n intensiewe stelsel word die kuikens in kuikenhuise grootgemaak vandat hulle ՚n dag oud is totdat hulle drie maande oud is. Kontrak-kuikengrootmakers maak dikwels kuikens groot names slagprodusente. Dis ՚n voltydse taak want die volstruisies het intensiewe sorg nodig om hulle te
help oorleef.

՚n Volstruismannetjie met sy swart veredos en ‘n jong kuiken. (Foto: Pixabay)

Wanneer die kuikens drie maande oud is en tot hulle op tien tot veertien maande slaggereed is, word hulle in troppe van tot 200 in klein kampies grootgemaak. Dit wissel egter baie in die bedryf. Kampe in die Suid-Kaap is gewoonlik baie groter, want hulle word op landerye grootgemaak, terwyl die kampies of voerkrale in die Klein-Karoo kleiner is.

Die kuikens word gewoonlik uitgesoek volgens gewig om mededinging by die voerbak te vermy.

՚n Trop jong volstruise waarvan die pluimvere geoes is. (Foto: Pixabay)

Jong slagvoëls presteer klaarblyklik beter in groepe van sowat 75 voëls per hektaar en hulle groei vinniger in vergelyking met groter groepe per hektaar. Wanneer daar te veel volstruise in ՚n voerkamp is, kan dit tot abnormale gedra lei.

Dit sluit in dat hulle kan begin vere pik, wat ՚n invloed op die gehalte van die vel het as gevolg van sonbrand.

Voeding

Die veld in die Klein-Karoo word eintlik net gebruik om volstruise op aan te hou, maar nie as voeding nie. Die natuurlike veld het nie genoeg voeding swaarde vir die volstruise nie en hulle word deurgaans met ՚n spesiaal geformuleerde voermengs gevoer. Wanneer die boer weens omstandighede soos die droogte nie lusern kan aanplant nie, is dit baie duur om al die voer aan te koop.

Die volstruiswyfie se vaal veredos smelt goed saam met die veld. (Foto: Pixabay)

Ten einde die veld te spaar, moet die volstruise tussen minstens drie kampe roteer word sodat die veld in elke kamp minstens twee jaar kan rus.

Elke kamp moet minstens een voer en waterpunt per 50 ha hê om te voorkom dat die volstruise by een punt saamdrom en die veld vertrap.

Gedurende die rusperiode van Februarie tot einde Mei voordat die produksieseisoen weer begin, behoort die broeivoëls in voerkampe of in kampe met soutbos aangehou te word.

Kontak dr Anel Engelbrecht van Oudtshoorn Navorsingsplaas by 081-038-4647 of Anel.Engelbrecht@westerncape.gov.za vir meer inligting.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0