Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 3rd September 2024

Die toekoms wink blink vir Advanta en kanolaboere

By 6 min read
1126 words

DSC_0920

Die kanolabedryf in die Wes-Kaap beleef ‘n dinamiese oplewing, aangedryf deur tegnologiese vooruitgang en volhoubare praktyke. Hierdie groei versterk nie net plaaslike ekonomieë nie, maar vestig ook die Kaap as ‘n beduidende bydraer tot wêreldwye kanolaverskaffing. Daar is ‘n stygende aanvraag vir gesonde olies en biobrandstof. Deur samewerking, vernuwing en ’n verbintenis tot verantwoordelike landbou, is die Kaapse kanolabedryf gereed om sy volle potensiaal te ontsluit.

Advanta Seeds, ‘n wereldbekende saadmaatskappy, het op 27 Augustus ‘n eerste-in-sy-soort boeredag gehou vir kanolaboere in die Wes-Kaap.

Kanola is ‘n belangrike gewas in Suid-Afrika, wat veral in die Wes-Kaap verbou word, waar dit floreer in die streek se unieke klimaat- en grondtoestande. Die Wes-Kaap is die primêre gebied vir kanola-produksie in die land en dra meer as 90% van die nasionale produksie by. Dit is grootliks te danke aan die streek se klimaat, wat die koel, nat winters en warm, droë somers bied wat baie geskik is vir kanolaverbouing.

Boere in die Wes-Kaap het toenemend kanola as ‘n wisselbougewas saam met koring aangeneem, wat help om plaag- en siektesiklusse te verbreek, grondvrugbaarheid te verbeter en algehele plaaswinsgewendheid te verhoog. Die Swartland en Suid-Kaap, insluitend gebiede rondom Swellendam, Riversdal, en Caledon, is veral bekend vir hulle uitgebreide kanolaproduksie.

Die voetspoor van kanolaboere in die Wes-Kaap het geweldig uitgebrei, aangedryf deur die toenemende vraag na kanola-olie en -meel, wat gebruik word in voedselprodukte en dierevoer.

Geleenthede soos die boeredag, ‘n eerste in sy soort, wat deur Advanta Seeds in die Swellendam-omgewing aangebied is, speel ‘n belangrike rol in die verskaffing van die jongste kennis, tegnologieë en beste praktyke in kanolaboerdery en die bedryf wat boere help om opbrengste te vergroot, ingeligte besluite te neem en volhoubaarheid te verbeter.

Ingeligte besluite vir winsgewende kanolaboerdery

Abrie Carstens van Apeiro Ag verduidelik aan boere die verskillende proewe wat op die perseel geplant is.

Abrie Carstens van Apeiro Ag verduidelik dat die doel van die dag was om na verskillende kanolaproewe te kyk, en om verskillende tipes kanolavariëteite met mekaar te vergelyk en aan ons boere inligting te voorsien om ingeligte besluite te neem rakende watter variëteit die beste gaan presteer in elkeen se omgewing.

Hy sê: “Ons doen verskeie kanolaproewe regoor die land, sestien altesaam. Ons kyk na die aanpasbaarheid in elke streek en omgewing. Ons plant en toets hierdie kultivars in verskillende klimaatsones, en ons stel ondersoek in: hoe presteer elke tipe kanola en variëteit.”

Kanola is ‘n baie belangrike wisselbougewas, veral in die Wes-Kaap met koring en gars. Abrie sê: “Kanola is baie voordelig in ‘n wisselboustelsel, aangesien dit help met onkruidbestuur asook die beheer van swamsiektes en om daardie siklusse te onderdruk.

“Die globale aanvraag na oliesade raak ook al hoe groter, so dit is van uiterste belang, veral met kanola wat ‘n gesonder tipe olie is. In Suid-Afrika word daar tans ongeveer 150 000 ha kanola verbou. Die behoefte om kanolaverbouing uit te brei in die Noord-Kaap het ook geweldig toegeneem.

“Dit is ongelooflik om te weet dat daar maatskappy soos Advanta is wat geld in die bedryf belê, wat bereid is om nuwe konsepte te toets en wat die standaarde jaar-na-jaar hoog in die bedryf stel, nuwe variëteite aan boere bekendstel en om boerdery oor die algemeen meer volhoubaar en meer winsgewend te maak,” sluit Abrie af.

Die belangrikheid van boeredae soos dié

Lourens van Eeden wat op die plaas, Vleitjie, in Swellendam boer, vertel dat hy al vanaf 1992 af met kanola boer en dat die dag en die aanbiedings deur die verskeie sprekers baie waardevol was.

Lourens van Eeden wat op die plaas, Vleitjie, in Swellendam onder die naam, LJ van Eeden Boerdery boer, vertel dat hy al vanaf 1992 af met kanola boer en dat die dag en die aanbiedings deur die verskeie sprekers baie waardevol was. “Dit is wonderlik om te weet dat Advanta so baie navorsing in die kanolabedryf doen. Hoewel ons kan getuig dat die klimaatstoestande geweldig verander, is daar steeds genetiese vordering. Dit is ‘n bedryf waarna ons kan uitsien. Dae soos hierdie bied vir ons die geleentheid om oor hierdie onderwerpe te kan praat en ook om gedagtes te kan deel. Ek is opgewonde oor die nuwe seisoen en ook opgewonde oor die nuwe kultivars,” sê hy.

Duan Viljoen, Besigheidsbestuurder van Advanta Seeds, verwelkom almal by die kanolaboeredag net buite Swellendam.

Die belangrikheid van vennootskappe

Piet Lombaard van die Departement van Landbou Wes-Kaap meen dat dae soos hierdie eerstehands aan die boer die geleentheid bied om te kan sien hoe lyk die onderskeie kultivars en dat hulle baie bevoorreg is om met ‘n baie goeie pakket van kultivars in die Wes-Kaap te sit. Hy sê: “Dit is een ding om te sien hoe die data op papier lyk, maar anders om te sien hoe dit aangepas is en in jou omgewing lyk.

“Vir ons in die landboubedryf is vennote van uiterste belang. Advanta is beslis een van die kernrolspelers en vennote vir ons in die kanolabedryf. Die afgelope twintig jaar het ons kanola-opbrengs per hektaar in die Wes-Kaap verdubbel.

“Die genetika wat Advanta aan die mark bekendstel, help geweldig met die groei en toename in kanolaverbouing,” voeg Piet by.

“Vrae wat gereeld gevra word, is wat is die pad vorentoe? Is daar genoeg genetiese materiaal, gaan hierdie tendens van groei en styging kan volhou? Maar met die gemoedsrus van leiers soos Advanta in die bedryf, hoef ons nie te skroom nie. Ek is baie positief en opgewonde oor die kanolabedryf in die land en die pad vorentoe,” sluit hy af.

Die toekoms wink blink vir Advanta

Gert Els van Advanta Seeds vertel: “Ons het vandag ‘n hele paar van die groot rolsplers in die bedryf hier gehad, en almal het werklik waardevolle insette tafel toe gebring. Ons is baie bevoorreg dat ons al drie van die groot kanolaklasse – die clearfield, triazine, en dan die dubbelgeen clearfield triazine wat gekombineer is, asook die konvensionele variëteite kon wys vandag, wat aan die boer die keuse bied om te kan sien watter tipe en gepaste onkruidmiddels gebruik kan word. Ons is veral ook trots op ons swartstam-weerstand* in ons variëteite.”

*Swartstam word veroorsaak deur die swam Leptosphaeria maculans, ‘n moeilike kalant wat al groot skade onder kanola in lande soos Australië (en feitlik oral waar kanola verbou word) veroorsaak het.

Voorsienning van saad

Hoewel daar altyd ‘n groot vraag in nadie voorsiening van saad en die bekombaarheid daarvan is, is daar goeie nuus op die horison: Advanta het nou begin met plaaslike produksie van saad om te kyk hoe dit vorder om die saad vinniger by die boere uit te kry. Die span is baie opgewonde oor die positiewe uitkoms tot dusver.

Vir meer inligting oor Advanta en hulle kanolavariëteite, besoek gerus die skakel hieronder: https://linktr.ee/advanta_seeds

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0