Die kommunikasierewolusie: Suig boere steeds aan die agterspeen?
Die son stoot lui-lui sy oggendstrale oor Spitskop om die reeds bedrywige plaaswerf op Biesiesvlei te belig. Die strale word dadelik deur die plaas se outomatiese energiebestuurstelsel gegryp om hulle werk te doen om die sonpanele op die pakhuis se dak te aktiveer. In die pakhuis word daar oorgeskakel van Eskomkrag na sonkrag om die verkoelingstelsel aan die gang te hou en ’n kort teksboodskap na Kallie Nel se slimfoon stel hom in kennis dat die oorskakeling foutloos verloop het.
Kallie is op daardie oomblik besig om die inligting wat die melkstal deurgestuur het, te bestudeer. Dit lyk vir hom of Koei X075 ’n kandidaat vir mastitis kan wees, want haar melklewering het aansienlik gedaal van gister af. Hy kliek op die skerm om die rekords van haar bewegingsensors na te gaan en stuur dan dadelik die inligting na die plaasveearts om die koei te laat toets en ’n boodskap na die uitkeerhek om haar uit die melkstelsel te haal.
Langs Kallie teen die muur flikker ’n liggie op ’n groot skerm waarop die bewegings van die plaas se sewe afleweringstrokke gevolg word. Trok 5 het van sy roete afgewyk. Kallie wou net die bestuurder bel toe die WhatsApp-boodskap deurkom dat Piet gou ’n draailoopplek moes soek. Kallie skakel die skerm oor na die plaas se interne sekuriteitskamerastelsel om weer na die video te kyk van die knape wat sy plaaswag gisteraand vasgetrek het toe hulle probeer het om die spilpunt se kabels te steel.
“Vat so!” sê hy hardop vir homself. Tevrede dat alles op die plaas aan die gang is, stap hy kombuis toe vir sy tweede beker koffie. By die kombuistafel sit Charles van die koöperasie se werkswinkel vir hom en wag.
“More Oom,” groet hy vriendelik. “Ek wou net eers dagsê voor ek uitgaan trekker toe. Die 9RX het my op FarmTrack geroep. Lyk my daar is probleme met die Green-Star-satellietkontak. Ek wil net gou kyk of die probleem aan julle kant is of van buite af.”
Kallie kyk gou op sy tabletrekenaar na gister se data om seker te maak dat die presisieplantwerk wel plaasgevind het soos dit moes. Alles lyk reg. “Nee wat, jong. Ek dink jy wou net weer ’n slag die wiel kom vat, of jou masjien is heeltemal te sensitief. Ons satellietkommunikasie is mos baie betroubaar die laaste tyd… of wil jy dalk vir Sannie sien?”
Nog voor Charles kan antwoord, roep hy kantoor se kant toe: “Sannie, klim van Facebook af, hier is iemand wat jou wil sien.”
“Pa weet goed ek is nie op Facebook nie. Ek hou die markpryse dop, Pieter wil graag hê ons moet Silo 2 leegmaak. O, hallo Charles…”
Terwyl die liefde in die kombuis blom, gaan al die bedrywighede op die plaas onverstoord voort. Van die bestellings wat per e-pos geplaas word, tot die beeldmateriaal wat van die hommel af teruggestuur word, van die bestuur van die pakhuistemperatuur tot die betaling van lone in die werkers se bankrekenings… daar is omtrent nie meer ’n faset van die boerdery wat nie met kuberkommunikasie te doen het nie, maar die Internet-diens is nie altyd na wense nie.
Wat gebeur met Internet op die platteland?
In 2013 het die regering ’n beleid, bekend as South Africa Connect, aanvaar. Dit stel ten doel om teen 2020 die hele land in ’n breëbandkombers te hul. Dit sal volgens berigte tot soveel as R98-miljard kos. Vir die eerste drie jaar is daar egter ’n skamele R1,1-miljard begroot. Die minister van Telekommunikasie en Posdiens, Siyabonga Cwele, het met die bekendstelling van die projek aangekondig dat 580 klinieke, 4 444 skole, 182 polisiestasies en 572 ander regeringskantore binne drie maande op die lug sou wees. Dit is nie bekend hoeveel van die instansies toe wel in die kubereeu beland het nie.
Volgens Marian Shinn van die Demokratiese Alliansie het hulle nog op bitter min van die sogenaamd Thusong-sentrums afgekom wat werk. Die idee was dat munisipaliteite sentrums sou skep waarin mense toegang tot Internet kon kry. Sy reken die regering is nie in staat om breëbandkommunikasie in die platteland te vestig nie: “Die regering het nie die kapasiteit, die vernuf, die besef van dringendheid of die ratsheid om toepaslike volhoubare kommunikasie-oplossings te verskaf nie. Die staat moenie self ’n rolspeler wees nie, maar net ’n fasiliteerder.”
Groot kritiek het ook gevolg op die aankondiging dat Telkom aangestel is om South Africa Connect in werking te stel, sonder om enige tenderprosedures te volg. Volgens die regering is Telkom die logiese keuse vanweë sy gevestigde infrastruktuur deur die hele land. Telkom het reeds ’n veseloptikanetwerk van 147 000 km.
Volgens minister Cwele is die private sektor se dienste gefragmenteer en bereik dit nie die arm gemeenskappe op die platteland nie. Hy sê nét die regering kan daarin slaag “to bring services to the poor and to close the digital divide”.
Dit is ook die regering se plan om vir die hele projek te betaal totdat almal in die land, hopelik teen 2030, toegang het tot ’n 1 GB per sekonde-verbinding. Tans het slegs ongeveer 17% van die land toegang tot hoëspoed breëbandkommunikasie.
Waar laat dit kommersiële boere?
Boere kan nie hulle plase uit dorpsentrums met munipale WiFi bestuur nie. Hulle kan hoop om eendag voordeel te trek uit die breëband-diensverskaffing aan arm plattelandse gemeenskappe, of hulle kan kyk na die bestaande opsies op die tafel, wat gelukkig, danksy die private sektor, al hoe meer en beter word.
Hier is ’n paar van die keuses:
Landlyn
In die stad gebruik baie mense en maatskappye ADSL-lyne, maar vir plase is dit nie altyd die antwoord nie, want die spoed van ADSL neem af hoe verder die punt van die naaste sentrale is. As jy 10 km van die sentrale af is, is die kanse goed dat jy minder as 1% van die beloofde Internetspoed sal geniet. Dis nou as die kabels nie permanent gesteel word nie.
ADSL-gegronde WiFi
Heelwat ondernemers in die platteland het die geleentheid gesien om die sein vanaf ’n goeie ADSL-punt deur WiFi-torings te versprei. Dit kan goed werk, maar hang van baie faktore af, waarvan die betroubaarheid en kundigheid van die ondernemer bo aan die lysie staan.
Te veel gebruikers kan so ’n stelsel ook gou oorlaai en doodtrek totdat almal wens hulle was terug op die mikstokstelsel – en natuurlik is elke toring, wat dikwels op sonkrag en batterye moet steun, ook ’n gewilde teiken vir diewe.
Mikrogolf
Daar is sekere selfoon- of Internet-diensverskaffers wat van mikrogolfseine gebruik maak, wat duurder is, maar ook ’n baie beter betroubare gehalte sein lewer. Dit het ’n groter reikafstand as WiFi, maar dit is ook afhanklik van to-rings op die grond en of die plaas so geleë is dat daar ’n regstreekse siglyn is.
Selfoonverbinding
’n Ander opsie, en waarskynlik die gewildste in hierdie stadium, is om data deur middel van ’n selfoon te gebruik. Dit kan goed werk indien daar goeie selfoonontvangs van minstens 3G-gehalte op die plaas is, maar ongelukkig is selfoondekking op die platteland nie altyd so wonderlik nie, want ’n selfoonmaatskappy gaan verseker eerder ’n toring opsit in ’n gebied met 10 000 potensiële gebruikers as een met 100 inwoners.
Hoewel daar al hoe meer gunstige datapakkette aangebied word, bly dit maar duur – sowat R160 vir 1 GB. Boere, wat baie data nodig het, oorskry ook dikwels hulle maandelikse pakkette en dit is dan wanneer dit veral duur begin raak. Die dataverbindings is ook maar wisselvallig en waar baie mense in stede en naby hoofpaaie nou al blitsig met ’n 4G-verbinding kan werk, sukkel boere nog met EDGE of selfs GPRS as die verbinding sleg is.
Satellietkommunikasie
Dié opsie is besig om al hoe goedkoper en meer haalbaar te raak en bied deesdae ook die gerief van stemoproepe deur ’n datalyn. Die grootste voordeel is dat die satelliet se sein jou plaas op die verste punt van die Karoo kan bereik, want die satelliet sit 36 000 km hoog bokant die ewenaar vanwaar hy jou skottel op die dak kan raaksien, selfs onder in die vallei. Die nadeel is natuurlik juis omdat die satelliet 36 000 km ver is, neem dit ’n tydjie vir seine om heen en weer te beweeg. Vir ’n stemoproep kan daar ongeveer 0,6 sekonde vertraging wees.
Veseloptiese kabel
Die beste kommunikasie-opsie wat tans in die wêreld beskikbaar is, is ’n veseloptiese kabel, maar dit is nog lank nie vir boere bestem nie, want dit gaan nog baie jare en miljoene rand neem om die kabels na dorpe te lê, voor dit eers by plase kan uitkom.
Enige van die kabellose kommunikasie-opsies word geraak deur die weer. As dit hard reën of die wind waai, is dit beter om maar van die skuur af huis toe te loop en vir vroulief ’n dankiesêsoen op die wang te gaan gee vir die lekker middagetekosblik in plaas daarvan om ’n WhatsApp-soentjie te stuur!