Die jagsektor dra by tot die ekonomie

jag
Die verantwoordelike manier van jag is ‘n wettige aktiwiteit wat ‘n inherente deel van die kulturele erfenis van baie Suid-Afrikaners is. Sommiges kan nie wag vir die jagseisoen om aan te breek nie.
Die Konfederasie van Jagtersverenigings van Suid-Afrika (CHASA), die Professionele Jagtersvereniging van SA (PHASA) en die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) sê die openbare persepsie is dat jag in konflik is met die beginsels van bewaring.
Hierdie drie groot jagorganisasies het saamgewerk om op die 17 de konferensie van die CITES COP17 (Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Wilde Fauna en Flora) die positiewe rol wat verantwoordelike jag in voedselsekuriteit, bewaring en sosio-ekonomiese ontwikkeling speel, oor te dra.
Die CITES COP17 het op 24 September in Johannesburg begin en word afgesluit op 5 Oktober.
Jag se jaarlikse bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie oorskry R10-miljard (2015) en genereer ongeveer 70% van die wildbedryf se jaarlikse inkomste.
Tydens die jaarlikse jagseisoen, lewer wildsvleis tussen 15 en 25% van die totale rooivleisverbruik in Suid-Afrika, volgens inligting wat deur die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfmaatskappy (SAMIC) bekendgestel is.
Vleis van jagbedrywighede is ook ‘n relatief goedkoop bron van proteïen vir baie landelike gemeenskappe. Die gelyktydige groei van die wildbedryf en die aantal wild op gemeenskaplike grond, wat tans in die wildsektor opgeneem is, bring verligting aan arm landelike gemeenskappe deur die verskaffing van veilige en voedsame voedsel.
Volgens Lizanne Nel, bewaringsbestuurder van SA Jagters, is uitgebreide wildlewegebiede onder private bestuur ongeveer drie keer groter as die natuurbewaringsgebiede onder formele beskerming deur die regering. “Die privaatsektor moet aansporings hê om die wildlewe te beskerm aangesien jag die grootste persentasie (70%) van die inkomste vir hierdie sektor genereer. Sonder ‘n betroubare bron van inkomste uit wild, insluitend jag, kan wildboere geneig wees om oor te skakel na ander grondgebruiksaktiwiteite wat in stryd met bewaringsbeginsels en praktyke kan wees.”
Navorsingsbevindings van die Noordwes-Universiteit (Potchefstroom) bewys dat jag merkwaardig baie bydra tot die ekonomie:
- Verbruikbare jag deur plaaslike jagters het R8,6-miljard in 2015 bygedra, met ‘n groei van 35% in die tydperk 2013-2015
- Trofeejag het R1,6-miljard in 2014 bygedra
- Wildbewaringsgebiede in Suid-Afrika strek oor 17 miljoen hektaar, wat 16% van die nasionale eiendom verteenwoordig en het ‘n oppervlakte wat drie keer meer is as die gebied wat deur die amptelike nasionale parke en reservate bedek word.
- Verwerkte wildsprodukte genereer R4,5-miljard (2014)
- Veilings dra R1,1-miljard (2014) by
- Wildslewe-toerisme dra R104-miljard (2014) by
Stan Burger, president van PHASA, sê jag speel ‘n betekenisvolle rol in baie plattelandse ekonomieë waar ander opsies vir ekonomiese groei beperk is. “Nie alle gebiede is geskik vir eko-toerisme nie. Jagters is afhanklik van produkte soos ammunisie, kos, klere en dienste soos taksidermie, afslag en verblyf. Hierdie behoeftes bied sakegeleenthede wat die ekonomie ‘n hupstoot kan gee,”sê Stan.
CHASA se besturende direkteur, Stephen Palos, sê jagters het ‘n noue verwantskap met die natuur en dat jagorganisasies in Suid-Afrika omvattende en goed gestruktureerde opleidingsprogramme het wat gedragskodes insluit.
CITES COP17 het ‘n unieke geleentheid vir die jagsektor geskep om die positiewe bydrae wat jagters speel, uit te beeld.
Bron: CHASA, PHASA and SAJWV