Die HONDA HR-V is die moderne stoftrapper vir die stadsjapie

Honda CRV
Deur Dirk Gallowitz
Honda het so pas die nuwe HR-V tot sy modelreeks in Suid Afrika gevoeg en ons was by die bekendstelling.
Honda het die eerste HR-V in 2002 in SA bekendgestel, so ‘n effe-hoër-op-die-wiel-stasiewa onthou ek. Destyds het hulle maar in beperkte getalle verkoop totdat die model in 2004 stilweg van die motortoneel verdwyn het. HR-V is die akroniem vir “Hybrid Recreational Vehicle” maar het hoegenaamd niks met hedendaagse hibriede tegnologie te make nie. Dit daar gelaat.
Die 2015 Honda HR-V is egter volgens Honda ‘n “Urban Cross Over”, waar “Cross Over” weer dui op die produk as jy ‘n gewone sedanmotor en ‘n SUV (Sports Utility Vehicle) sou kruis. Die gevolg is ‘n middelgrootte voertuig, groter en hoër op die wiele as ‘n sedan, maar kleiner en laer gehurk as ‘n SUV. Amper soos om ‘n worshond en ‘n rifrug te kruis … okay jy het die prentjie!
Die idee is dat die voertuig moet lyk soos ‘n kleiner fôr-baai-fôr, maar sonder dit wat ‘n fôr-baai-fôr ‘n fôr-baai-fôr maak. Waar die “urban” vandaan kom het ek liefs maar nie gevra nie.
Honda mik vir jong families wat darem so af en toe op ‘n grondpad wil gaan blomme kyk, of wildtuin toe, of langs die rivier/dam wil gaan kamp en hengel.
Die nuwe HR-V is egter visueel treffend met voor ‘n sterk V-ontwerp van die sierrooster en groot geïntegreerde hoofligte. Die uitgeboude wielboë oor lekker groot wiele en die sterk sylyne laat die HR-V heel aggressief vertoon met die dun dakrelings wat so ‘n effe verwagting na avontuur laat deurskemer.
Agter tref die groot ligte wat om die hoeke vou terwyl die agterklap laag oopmaak om inlaai te vergemaklik. Verder skep die daklyn wat na agter rond die illusie van ‘n koepee wat ook bydra tot die HR-V se moderne sportiewe voorkoms.
Binne voel die nuweling se kajuit verbasend ruim met die bestuurder wat lekker hoog sit vir goeie sigbaarheid. Honda is meesters van verpakking en die HR-V spreek daarvan. Die veelgeroemde “Magic seat system” wat sy buiging in die gewilde Jazz gemaak het is ook nou in die HR-V om praktiese veeldoeligheid aan die binneruim te verleen. Met die sitplekke regop is 393 liter se laairuimte agterin beskikbaar, maar slaan jy die agterste ry sitplekke plat, kan jy 1002 liters se baggasie in die HR-V pak.
Die afwerking is puik en Honda se verbintenis tot gehalte materiale en vakmanskap is ook hier te sien. Die sitplekke sit en voel gemaklik. Uitleg is modern maar tog ergonomies en gemaklik, terwyl die kajuit ‘n luukse ambiaans uitstraal. Daar is net daardie “iets” in die kajuit van ‘n Honda wat my gemaklik laat voel.
Die nuwe HR-V is beskikbaar in twee petrolmodelle. Die 1,5 L Comfort en die 1,8 L Elegance. Beide modelle is beskikbaar slegs met Honda se CVT palwisselratkas met aandrywing deur die voorwiele..
Die 1,5L i-Vtec is dieselfde enjin wat in die Honda Jazz, Ballade en Mobilio gebruik word maar bied nou 88kW en 145Nm.
Die 1,8L i-Vtec enjin lewer 105kW en 172Nm se piekverrigting. Volgens Honda is brandstofverbruik 6,8l/100km danksy die Stop/Gaan-stelsel.
Ek sou ‘n handratkas verkies maar volgens Honda SA verkies sy kopers die CVT.
Tydens die bekendstelling het ons die Kaap se tipiese winterstormweer getrotseer met nat paaie en baie sterk winde. Ons roete het ons deur die Boland en Swartland-omgewing geneem en die HR-V was verbasend padvas selfs op modderige grondpaaie en met wilde dwarswinde.
Hantering is uitstekend met goeie paddinamika en ‘n gerieflike rit. Die onderstel en veerstelsel het ‘n slegte stuk sinkplaatpad uitstekend geabsorbeer.
Soos met alle Honda-modelle kom die HR-V ook goed toegerus met verskeie veiligheidstelsels waaronder Honda se ACE (Advanced Compatibily Engineering) vir die bakstruktuur. Daar is ook ses lugsakke. Bestuurderhulp sluit in onder meer ABS remme met elektroniese remkragverspreiding, noodrembystand en voertuigstabiliteitbystand. ‘n LED-remlig hoog bo die venster gemonteer op die agterklap sorg vir beter sigbaarheid tydens remming.
Pryse
HR-V Comfort 1,5 – R299 900
HR-V Elegance 1,8 – R354 900
Die HR-V is standaard beskikbaar met ‘n 3jaar/ 100 000km waarborg, ‘n 4jaar/ 60 000km diensplan en ‘n 1jaar AA padbystanddiens. Die HR-V kom met ‘n volle grootte noodwiel en diens intervalle is elke 15000km.
Bron: HondaSA
Images: Quickpic

