Die geskatte mielie-oes is 14,12% meer as die 2024-oes

plants-768687_1920 (2)
Foto:Pixabay
Somergewasse – 2025
Kommersiële mielies: Die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes is op 14,664 milj. ton gestel, wat 0,72% of 105 200 ton meer is as die vorige skatting van 14,559 milj. ton. Die verwagte opbrengs van mielies is 5,65 t/ha.
Die geskatte mielie-oes is 14,12% of 1,814 milj. ton meer as die 2024-oes. Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede, nl. die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes provinsies, gaan na verwagting 81% van die 2025-oes produseer.
Die produksieskatting van witmielies is 7,757 milj. ton, wat 0,80% of 61 500 ton meer is as die 7,695 milj. ton van die vorige skatting. Die oppervlakteskatting vir witmielies is 1,600 milj. ha en die verwagte opbrengs is 4,85 t/ha.
In die geval van geelmielies is die produksieskatting 6,907 milj. ton, wat 0,64% of 43 700 ton meer is as die 6,863 milj. ton van die vorige skatting. Die oppervlakteskatting vir geelmielies is 997 000 ha en die opbrengs is 6,93 t/ha.
Die opbrengs-bepaling per ha vir die Mpumalanga provinsie is gebaseer op wetenskaplike en objektiewe resultate verstrek deur die LNR.
Ander somergewasse:
Sonneblomsaad: Die produksieskatting vir sonneblomsaad is 742 800 ton, wat 3,60% of 27 700 ton minder is as die vorige skatting van 770 500 ton. Die oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 555 700 ha, terwyl die verwagte opbrengs 1,34 t/ha is.
Ander gewasse: Die produksieskatting van sojabone is verlaag met 2,47% of 58 950 ton, van 2,390 milj. ton na 2,331 milj. ton. Die geskatte oppervlakte beplant van sojabone is 1,151 milj. ha, met ‘n verwagte opbrengs van 2,03 t/ha.
Die verwagte grondbone-oes is op 64 595 ton gestel, wat 3,49% of 2 334 ton minder is as die vorige skatting van 66 929 ton. Vir grondbone is die oppervlakteskatting 48 125 ha, terwyl die verwagte opbrengs 1,34 t/ha is.
Die produksieskatting van sorghum is 137 970 ton, wat 0,39% of 535 ton meer is as die 137 435 ton van die vorige skatting. Die oppervlakteskatting vir sorghum is 41 150 ha, en die verwagte opbrengs is 3,35 t/ha.
In die geval van droëbone is die produksieskatting verlaag met 10,72% of 8 467 ton, vanaf 79 007 ton na 70 540 ton. Die oppervlakte beplant met droëbone is 45 620 ha, en die verwagte opbrengs is 1,55 t/ha.
NIE-KOMMERSIëLE MIELIES – VOORLOPIGE OPPERVLAKTE- EN PRODUKSIESKATTING: 2025
Die voorlopige oppervlakte beplant met mielies in die nie-kommersiële landbou-sektor word geskat op 358 000 ha, wat ’n toename van 3,17% verteenwoordig in vergelyking met die 347 000 ha van die vorige seisoen. Die verwagte mielie-oes van dié sektor is 621 500 ton, wat 8,09% meer is as die 575 000 ton van die vorige seisoen. Dit is belangrik om daarop te let dat ongeveer 46,75% van die mielies wat geproduseer word in die nie-kommersiële sektor, in die Oos-Kaap geplant word, gevolg deur KwaZulu-Natal met 20,88% en dan Limpopo met 20,65%.
Wintergewasse – 2025
Produsente se voorneme om wintergewasse te plant is hoofsaaklik gebaseer op die resultate van ’n nie-ewekansige opname onderneem deur die Direktoraat: Statistiek en Ekonomiese Analise van die Departement van Landbou en weerspieël die situasie teen die middel van April 2025. Insette is ook ontvang vanaf die verteenwoordigers van die onderskeie Provinsiale Departemente van Landbou.
Die syfers vir koring verteenwoordig die totale aantal hektare wat werklik beplant gaan word vir graan, uitgesluit alle hektare wat beplant gaan word vir groenvoer en weiding. Vroeë aanduidings is dat produsente van voorneme is om 513 200 ha koring te plant vir die 2025-produksie-seisoen.
Dit is 1,56% of 7 900 ha meer koring aangeplant as die 505 300 ha in 2024. Die grootste produserende gebiede is in die Wes-Kaap, met 371 000 ha (72%), gevolg deur die Vrystaat met 55 000 ha (11%) en die Noord-Kaap met 38 000 ha (7%).
Die verwagte aanplantings van moutgars is 93 050 ha – 7,60% of 7 650 ha minder as die 100 700 ha van die vorige jaar. Die verwagte aanplantings van kanola is ook 166 500 ha, wat 0,45% of 750 ha meer is as die 165 750 ha wat aangeplant was in 2024. Produsente is van voorneme om 34 520 ha hawermout te plant, wat 11,35% of 3 520 ha meer is as die 31 000 ha van die vorige seisoen. Die verwagte aanplantings van soetlupine is 20 700 ha, wat 29,38% of 4 700 ha meer is as die vorige seisoen.
Bron: Oesskattingskomitee