Die bewese troefkaart teen hardnekkige onkruide in mielies

Yamato foto
Onkruidvrye lande is een van die komponente van ‘n suksesvolle boerdery.
deur Bennie Buys, produkbestuurder: Onkruiddoders, Philagro SA
Yamato® 480 SC van Philagro het die afgelope vyf jaar herhaaldelik sy doeltreffendheid in Suid-Afrika getoon met uitsonderlike onkruidbeheer in mielieproduserende gebiede. Dié produk bly steeds ‘n bewese troefkaart in die stryd teen hardnekkige onkruidsoorte in mielielande.
Taai en weerstandbiedende gras- en breëblaaronkruide kan mielieplantontwikkeling ernstig belemmer, en dit is juis hier waar Yamato® sy staal wys. Met sy unieke chemie bied dié produk doeltreffende beheer van ‘n wye verskeidenheid onkruidsoorte in talle grondtipes; met aanpasbare voor- en na-opkoms toedieningsopsies.
Weerstandbiedende gras- en breëblaar-onkruidsoorte, tesame met hardnekkige uintjies, bly ‘n uitdaging vir mielieboere in hulle soeke na doeltreffende beheer van onkruidmededinging in mielielande.
Philagro se plaaslike navorsingsproewe het gewys dat Yamato® veilige gewasbeskerming bied en hoogs aanpasbaar aangewend kan word na gelang van elke boer se spesifieke behoeftes.
Unieke chemie
Yamato® is deur Kumiai Chemical Industry in Japan ontdek en is reeds wêreldwyd in ‘n wye verskeidenheid toestande en gewasse met groot sukses gekommersialiseer. Die aktiewe bestandeel, piroksasulfoon, spog reeds in verskeie lande met ‘n benydenswaardige reputasie vir doeltreffende beheer van moeilik-beheerbare onkruide.
Vanuit ‘n tegniese perspektief inhibeer piroksasulfoon onkruide vroeg in die ontkiemingsproses. Dit word hoofsaaklik deur die koleoptiel van grasse opgeneem en ook deur die hipokotiel en wortels van breëblaar-onkruidsaailinge.
Verskeie plaaslik-beproefde kombinasies met ander geregistreerde middels bied Suid-Afrikaanse mielieboere nou bewese opsies vir veilige, langwerkende onkruidbeheer.
Boonop spog Yamato®, aangedryf deur “AXEEV Technology”, met talle uitnemende voordele, onder meer dat die produk geskik is vir bykans alle grondtipes, ongeag die klei-inhoud, en dit is veilig om voor- en selfs na-opkoms in mielies toe te dien.
Voorts gebruik Yamato® 10 tot 20 keer minder aktiewe bestanddeel as ander soortgelyke, vergelykbare produkte (byvoorbeeld: een liter geformuleerde produk kan bykans 10 hektaar behandel). Boonop is piroksasulfoon se oplosbaarheid in water relatief laag en loog Yamato® dus minder en die produk bly langer in die boonste laag van die grond waar gras en kleinsadige breëblaaronkruide gewoonlik ontkiem.
‘n Studie wat gedurende 2009/2010 in Noord-Colorado gedoen is, dui aan dat die half-leeftyd van piroksasulfoon ongeveer 20% langer as dié van S-metolachlor (47 teenoor 39 dae) is[1]. Dit dui op ‘n stadiger afbraaktempo wat ‘n langer residuele effek tot gevolg kan hê. Dit alles lei natuurlik tot bykomende voordele en besparings in bergplek, vervoer en ander kostes.
Uintjiebeheer bly steeds ‘n uitdaging vir mielieboere. Yamato®, in kombinasie met glifosaat 540, kan met groot sukses op klein, aktief-groeiende uintjies toegedien word, met baie aanvaarbare beheerresultate.
Betroubare gewasveiligheid
Uitgebreide proewe in Suid-Afrika en verskeie ander lande wys dat Yamato®-tenkmengsels en spruitprogramme met Yamato® wat volgens etiket-aanbevelings gekombineer word, uiters betroubaar is wat gewasveiligheid aanbetref.
Weens die verskeidenheid groeitoestande in die verskillende streke van ons land, en die voorkoms van diverse gras- en breëblaaronkruidsoorte en kombinasies daarvan, beveel Philagro se navorsers tans altesaam 14 moontlike produkkonsepte aan met Yamato® as die ankerproduk. Hierdie kombinasies (wat mesotrioon, atrasien/terbutielasien en glifosaat insluit) is spesifiek ontwikkel vir streke met verskillende klimaattoestande en sones met spesifieke weerstandbiedende en moeilik beheerbare onkruidsoorte in gedagte.
Afhangende van die tipe onkruide en onkruiddruk, kan dit een of selfs twee keer toegedien word.
Yamato® is in die noordelike mielieproduserende streek beskikbaar en kan by AECI Plant Health, Farmers Agricare, Inteligro, AgroCentre en Agronamic aangekoop word.
Vir meer inligting hieroor besoek www.philagro.co.za of skakel Bennie Buys by 082-809-5447.
[1] Eric P. Westra, Dale L. Shaner, Philip H. Westra, and Phillip L. Chapman* “Dissipation and Leaching of Pyroxasulfone and S-Metolachlor,” Weed Technology 28(1), 72-81, (1 January 2014).
