Categories: NuusPublished On: 19th September 2018

Dagga binnekort wettig in SA

By 1 min read
268 words

dagga

Foto: iafrica.com

Binnekort plant boere dalk nie net meer mielies of koring nie, maar ook dagga. Die Grondwethof het Dinsdag 18 September 2018 sy uitspraak oor die gebruik van dagga gelewer.

Die hof het die vroeёre uitspraak van die Hooggeregshof in Kaapstad gehandhaaf wat bevind dat die kriminalisering van daggagebruik, die besit en kweking in die privaatheid van die huis ongrondwetlik is.

Die staat het opdrag gekry om gedeeltes van die Wet op Dwelms en Dwelmhandel en die Wet op die Beheer van Medisyne en Verwante Stowwe te wysig.

Die uitspraak beteken ‘n persoon mag binnekort in die privaatheid van sy of haar huis dagga kweek, besit en gebruik. Maar dit is slegs vir private gebruik.

Die saak spruit uit ‘n aansoek wat deur Gareth Prince, ‘n prokureur, vir die dekriminalisering van dagga, en Jeremy Acton, voorsitter van die Daggaparty, ingedien is. Gareth het aangevoer die kriminalisering van daggagebruik en die besit daarvan is ‘n skending van die reg op gelykheid, waardigheid en vryheid van geloof. Die Nasionale Vervolgingsgesag  en ander regeringsdepartemente het die wettiging van dagga teengestaan en gewaarsku oor die skadelike newe-effekte daarvan.

Die departement het erken dat ander lande die gebruik van dagga wettig maak vir medisinale gebruik. Kanada was die jongste land om vroeër vanjaar ‘n “Cannabis Act” te aanvaar.  Lande soos Uruguay, Nederland, Panama en ‘n paar ander het lankal die gebruik van die plant gewettig. Onder ons buurlande het Lesotho en Zimbabwe dit ook gewettig.

Van die state wat die plant wettig gemaak het wys daarop dat dit groot potensiaal bied vir werkskepping wanneer dagga aangeplant word vir medisinale gebruik.

Bron: Departement van Landbou

0
Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0