Dag Zero mag afgeweer word in Kaapstad
DA leier, Mmusi Maimane, het vroeër vandag tydens ‘n personderhoud aangekondig dat die verwagte Dag Zero-scenario vir Kaapstad moontlik heeltemal vanjaar vermy mag word. Hierdie scenario is gebruik vir beplanningsdoeleindes as ‘n aanduiding van wanneer die Stad se watertoevoer sou opdroog vanweë die heersende droogtetoestande waaronder die Stad gebuk gaan.
Daar is aanvanklik verwag dat hierdie datum 22 April sou wees, maar dit is kort daarna verander na 12 April. Dit is later geskuif na 16 April, en daarna weer verander na onderskeidelik 11 Mei, 4 Junie en 9 Julie. Dag Zero is nou onbepaald uitgestel. Die Stad het omvattende gebeurlikheidsplanne rondom die mobilisering van hulpbronne voorberei om 25-liter drinkbare water per persoon per dag te voorsien. Reëlings is getref vir die water om by sekere aangewese punte oral in die Stad afgehaal te word.
Die Stad se gebruik van hierdie scenario is voorheen bevraagteken deur verskeie watersektor-rolspelers, insluitend die landbousektor. Boere moes sedert 12 Januarie 2018 in baie gevalle sonder hulle regmatige watertoedeling klaarkom as gevolg van nasionaal-ingestelde en streng toegepaste waterbeperkings. Dit het aanleiding gegee tot geweldige verliese en ontbering vir die landbougemeenskap, insluitend werksverliese vir seisoenale plaaswerkers.
Hoewel dit klaarblyklik gewone Kapenaars se aandag op die erns van die huidige droogte gevestig het, is dit moontlik dat hierdie scenario toevallig ook sy eie onvoorsiene waterbestuurskrisis geskep het. Paniekbevange inwoners (wat dit kon bekostig) het begin om rou- sowel as behandelde water op te berg in afwagting van Dag Zero. Hierdie ontwrigting van normale verbruikspatrone het geweldige probleme vir die Stad se waterbeplanners asook die Departement van Water en Sanitasie geskep.
Hoewel die Stad erken dat sy beraming van watervoorsiening hersien is as gevolg van ‘n vermindering in die landbou se waterverbruik, het dit versuim om erkenning te gee aan die landbousektor se volgehoue pogings in dié verband of die rampspoedige effek van die droogte op die landbousektor. Volgens Agri SA se hoof van Natuurlike Hulpbronne, Janse Rabie, skep die aankondiging (en herroeping) van Dag Zero die indruk dat dit ‘n vals alarm was waarvoor die landbousektor nou moet betaal.
“Terwyl ons dankbaar is dat Dag Zero nou blykbaar afgeweer is, moet mense besef dat die huidige droogte geensins verby is nie. Dit bly steeds ‘n nasionale ramp wat veral in die landbousektor van die Wes-Kaap by die dag erger word. Ons versoek alle regeringsvlakke om deurgaans te fokus op die erns van die droogte en om die kritieke droogtehulpmaatreëls vir die landbousektor te verbeter,” se Rabie.
Terwyl Dag Zero blykbaar afgeweer is, sleep die droogte in die provinsie en die Stad voort. Die Nasionale Waterbeperkings van 12 Januarie 2018, sowel as die Stad se Vlak 6b Waterbeperkings, is steeds in plek en mense is gevra om te voldoen aan die voorskrifte, onder andere ‘n beperking op hulle persoonlike waterverbruik, d.w.s. hoogstens 50 liters per persoon per dag.
Bron: Agri SA