Categories: NuusPublished On: 25th March 2026

Croplan-witmielie na uitgebreide plaaslike proewe in SA bekendgestel

By 4 min read
835 words

3 InteliGro Croplan

Meerkoppigheid en goeie pitvulling by ’n Croplan-witmieliekultivar. Die koppe toon 16 rye vol pitte – ’n eienskap wat in plaaslike proewe aandag getrek het.

’n Internasionaal gevestigde saadhandelsmerk betree nou die Suid-Afrikaanse mark nadat kultivars oor verskeie seisoene onder plaaslike toestande getoets is.

InteliGro het aangekondig dat die saadhandelsmerk Croplan® – wat wêreldwyd met hoëprestasie-genetika en uitgebreide proefdata geassosieer word – nou ook plaaslik bekendgestel word. Die eerste kultivar in die reeks is ’n witmielie wat oor die afgelope paar jaar op proefpersele én op produsente se plase geëvalueer is, en binnekort by die 2026 NAMPO-oesdag vertoon sal word.

Die saad sal eksklusief deur InteliGro versprei word en vorm deel van die maatskappy se breër strategie om internasionale genetika met plaaslike agronomiese kennis en betroubare data te kombineer.

INTERNASIONALE HANDELSMERK, PLAASLIK GETOETS

Croplan is ’n gevestigde handelsmerk van die Amerikaanse landboumaatskappy WinField United. Internasionaal word die handelsmerk verbind met streng veldproewe en uitgebreide data-analise wat kultivarprestasie oor verskillende omgewings evalueer.

“Die Croplan-handelsmerk dra wêreldwyd geloofwaardigheid,” sê Janet Lawless, Bemarkingsbestuurder by InteliGro. “Vir ons was dit egter belangrik dat enige kultivar wat ons plaaslik bekendstel, eers deeglik onder Suid-Afrikaanse toestande getoets word.”

Verder was die doel nie bloot om nóg ’n saadproduk na die mark te bring nie, maar om produsente met beter data en agronomiese ondersteuning te help om meer ingeligte produksiebesluite te neem.

ONTWIKKELING OOR BYNA ’N DEKADE

Die projek het bykans agt jaar gelede begin nadat die maatskappy WinField United in die VSA besoek het om moontlike samewerking te ondersoek.

Barry Erasmus, Kommersiële Bestuurder by InteliGro, sê die fokus was van die begin af om die regte genetika en vennootskappe te identifiseer voordat die handelsmerk plaaslik bekendgestel word.

“Vir ’n produsent is vertroue in saad van kardinale belang. Daarom was naspeurbaarheid en konsekwente gehalte vir ons ’n sleutelvereiste.”

Die keuse van kultivars word egter nie net deur genetika bepaal nie, maar ook deur gehalte proefdata en plaaslike ervaring. Nadat potensiële kultivars geïdentifiseer is, het plaaslike proewe begin om hul prestasie onder Suid-Afrikaanse omstandighede te toets.

PROEWE OP PROEFPERSELE ÉN PLASE

Christo Jacobs, Saadspesialis by InteliGro wat by die proefwerk betrokke is, verduidelik dat kultivars onder uiteenlopende produksieomstandighede geëvalueer is.

“Ons het proewe in verskillende gebiede gedoen om seker te maak ons verstaan waar ’n kultivar die beste presteer. Konsekwentheid oor verskillende seisoene en omstandighede bly vir ons ’n belangrike vereiste.”

Die proefdata word aangevul deur InteliGro se Intelekt Solutions- en InField Solutions-programme. Intelekt Solutions fokus op statistiese proefdata uit klein proefpersele, terwyl InField Solutions data direk op produsente se plase versamel om tendense onder praktiese boerderytoestande te identifiseer.

Hierdie benadering help om ’n vollediger prentjie van gewasproduksie te skep, sê Lawless. “Ons kyk nie net na ’n produk nie, maar na die hele produksieomgewing – van gronddata en plantstand tot voeding en klimaat. Hierdie inligting help produsente om meer ingeligte besluite te neem.”

MEER AS NET SAAD

Lawless beklemtoon dat die bekendstelling van Croplan deel is van ’n holistiese benadering tot gewasproduksie.

“Enige maatskappy kan produkte verkoop,” sê sy. “Wat die verskil maak, is die kennis en ondersteuning agter daardie produkte. Dit help nie jy het uitstekende saad as die res van die produksiepraktyke nie reg bestuur word nie.”

InteliGro se netwerk van Gewas Adviseurs werk daarom nou saam met produsente om oplossings vir hul spesifieke omstandighede te ontwikkel.

“Ons sien dit as ’n vennootskap. Produsente se kennis van hul plase en kultivars is net so belangrik soos ons s’n. Daarom sien ons dit as ’n reis saam met die produsent – waar genetika, voeding, bestuur en kennis saamwerk.”

GENETIKA IS NET DIE BEGIN

Gerrie Ludick, Tegniese Bemarking Spesialis en ’n kenner in rygewasse by InteliGro, sê genetika bepaal die potensiaal van ’n gewas – maar nie noodwendig die finale opbrengs nie.

“Die genetiese potensiaal van ’n kultivar is vas. Wat ’n produsent kan beïnvloed, is hoe naby hy aan daardie potensiaal kan boer. Dit is waar agronomiese kennis, voeding en bestuur ’n groot rol speel.”

Hy wys daarop dat moderne gewasproduksie toenemend betroubare data en tegnologiese kennis vereis.

“Produsente weet hoe om hul plase te bestuur, maar daar is baie faktore in gewasproduksie wat nie altyd sigbaar is nie. Ons rol is om saam met hulle te werk sodat hulle met beter inligting beter besluite kan neem.”

Die uiteindelike doel bly eenvoudig, sê Ludick: om produsente te help om volhoubaar te bly boer. “Ons werk uiteindelik daaraan dat produsente oor tien of twintig jaar steeds op hul plase kan wees.”

BY NAMPO TE SIEN

Die Croplan-handelsmerk word tans by InteliGro se “Op Pad na Opbrengs”-inligtingsdae in verskeie produksiegebiede bekendgestel.

Produsente sal die nuwe witmieliekultivar ook van nader kan besigtig by NAMPO Oesdag, wat van 12 tot 15 Mei 2026 by Bothaville plaasvind.

Die eerste kommersiële vrystelling is nog relatief klein, maar saadproduksie word reeds uitgebrei vir toekomstige seisoene.

“Hierdie is net die begin,” sê Lawless. “Ons bou aan ’n saadportefeulje wat oor tyd verder gaan uitbrei – maar altyd met dieselfde uitgangspunt: genetika, data en plaaslike kennis wat saamwerk. Dít is hoe ons produsente bystaan om beter opbrengste én ’n sterker opbrengs op hul belegging te lewer.”

Uitgereik deur: InteliGro

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0