Chamomile Boerdery bewys: Waar ʼn wil is, is ʼn weg

farm-concept-with-eggs_23-2147828927
Die toekoms lê oop vir mense wat bereid is om te werk. Achmad en Wadea (Jappie) Brinkhuis het twee dekades gelede ՚n boerderytjie by Phillippi op die Kaapse Vlakte begin. Destyds het hulle net 100 lêhenne gehad.
“Ek en Wadea het ՚n landbouskou by Bienne Donne in Franschhoek bygewoon waar ek gesien het hoe hoenders eiers lê en ek het by myself gedink: hoe oulik is dit – kinders vrek oor eiers!”
Daar en dan het hy vyf henne gekoop. Kort daarna het hy nog 15 gekoop. “Elke hen het minstens een eier per dag gelê en sommer gou het ons meer eiers gehad as wat ons kon opeet – en ons het ses kinders!” Hulle het die ekstra eiers aan die bure en familielede verkwansel – en vandag het hulle 35 000 henne wat daagliks meer as 30 000 eiers produseer.
Hoenders praat nie terug nie
Achmad en Wadea het die grond van 1,6 ha tussen die Atlantiese Oseaan en Mitchellsplein-woonbuurt in 2002 gekoop. Hulle was albei voorheen in die konstruksiebedryf. Achmad was ՚n ruk lank ook betrokke by die plaaslike politiek. “Ek het ietsie geweet van die boubedryf, maar niks van politiek nie. Kursusse by Unisa het gehelp om die leemte te vul.” Maar op ՚n dag was hy ook óp vir politiek en boerdery het gewink: “Koolkoppe en hoenders praat nie terug nie!”
Hulle het saam ses kinders: Nabeel en Tauriq, uit Achmad se vorige huwelik, en Tawfeeq, Bilal, Moegamat Elias en Miriam, uit die egpaar se huwelik. Nabeel en Tawfeeq boer saam met hulle.
“Voor ons die grond gekoop het, het ons te midde van die bendegeweld in Ottery gewoon,” vertel Achmad.
“Op ՚n dag het ek besef my kinders ken die knal van die verskillende kalibers vuurwapens wat gereeld om ons afgevuur word – en ek het besluit dit is tyd dat ons trek.” Hulle het die huis in Ottery verkoop, die grond gekoop en die rommel wat oor jare op die grond gestort is, begin opruim.
“Ons het die kinders, wat toe nog tussen 14 en 25 jaar oud was, gemotiveer om die rommel op te ruim deur hulle vir elke skoon vierkante meter te betaal!”
Achmad en Wadea Brinkhuis links, saam met dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van Landbou, en Tawfeeq Brinkhuis, hulle seun wat saam met hulle boer. (Bron: Verskaf)
Eierbedryf
Die fenomenale groei van Chamomile Boerdery sou nie moontlik gewees het sonder die hulp van die Wes-Kaapse Departement van Landbou wat die afgelope vyf jaar 170 kleinboere en opkomende kommersiële boere ondersteun het nie. In 2005 het hulle eierbedryf behoorlik posgevat. Wadea het Mugg & Bean genader en aangebied om 30 dosyn eiers per week te lewer – die eerste 30 dosyn was gratis. ՚n Paar weke later het die restaurant haar gebel en gevra om dringend te kom eiers aflewer toe hulle gewone verskaffer in die middel van die Kaapstad Fietsrytoer nie kon lewer nie …”
Aanvanklik het hulle gereken hoenders is hoenders, solank hulle eiers lê. Maar sedertdien het hulle kursusse bygewoon en mettertyd van beter geweet. Dit het nie tragedie weggehou nie, want een oggend het hulle afgekom op 1 000 dooie hoenders as gevolg van ammoniak wat weens die opeenhoping van mis in die henhuis, die hoenders vergiftig het. Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het die hoenders vervang en gehelp om nog ՚n henhuis op te rig. Die Departement het ook gehelp met die omgewingsimpakstudie wat nodig is voordat ՚n henhuis opgerig mag word.
Volgens Achmad het hy destyds nie “groot genoeg” gedink nie, want kort voor lank het hulle weens die sukses van die boerdery nog ՚n henhuis nodig gehad – en nog ՚n impakstudie. En weer het die Wes-Kaapse Landboudepartement uitgehelp. Vandag koop Nulaid al die eiers, was, sorteer en gradeer dit en hanteer die verspreiding. Deel van die ooreenkoms met hulle is ՚n ooreenkoms met Quantum Foods om voer van hoë gehalte op die plaas af te lewer.

Nabeel Brinkhuis en dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van Landbou, tydens ՚n onlangse besoek aan die plaas. (Bron: Verskaf)
Groente
In 2004/5 het hulle besluit om koljander, ook bekend as dhania en cilantro, ՚n baie gewilde bestanddeel van die Moslem-kookkuns, aan te plant. Die produk is aan plaaslike halaal-slaghuise verkoop en het ՚n lekker inkomste verdien.
Toe plant hulle rissies. Te laat kom hulle toe agter die koper soek rooirissies, nie soetrissies, want toe sit hulle met ՚n klomp daarvan. Wadea, wat self op haar dag vereer is met die Wes-Kaapse Departement van Landbou se Vroueboer van die Jaar in 2006, is nie iemand wat moed opgee nie. ՚n Paar oproepe later laat weet Freshmark, wat vars produkte aan Checkers en Shoprite lewer, hulle moet kom vir ՚n vergadering. Daar aangekom, word die twee glansryk verwelkom as Freshmark se “eerste swart verskaffers”. Nogal.
In 2010, toe hulle nie kon voorbly om vars groente te lewer nie, het hulle die Wes-Kaapse Departement van Landbou om hulp genader. Uiteindelik het die destydse nasionale minister van Landbou, Tina Joeman-Petterson, vir hulle trekkers en ander landboutoerusting geskenk. In 2009 het Chamomile Farming nog grond nodig gehad vir ՚n kontrak vir wortels te kon lewer. Die duur wortelsaad waarop Freshmark aangedring het, was skaars in die grond, toe breek die waterpomp. Gelukkig het Kosie van Zyl, ՚n boer in die Napieromgewing wat die Agri Dwala Trust begin het, vir hulle ՚n waterpomp present gegee. Johan Terblanche, sy buurman op Philippi, het ook uitgehelp met ekstra wortels om die kontrak vol te maak – en hy maak vandag nog so.
Hulle verskaf steeds vars groente aan Freshmark, asook aan Philippi Vegetable Packers, wat onder meer vars spinasie van die plaas af verpak en ook aan ander supermarkte, soos Spar, lewer. Deur die jare was die Wes-Kaapse Departement van Landbou altyd daar om te help, soos om ՚n kragopwekker te verskaf toe beurtkrag eier- en groenteproduksie aan bande gelê het. Die Departement verskaf deur middel van die Produsent- en Ontwikkelingsprogram ook opleiding aan die hoeveel werkers.
- Van ՚n klein begin met ՚n paar hoenders het Achmad en Wadea Brinkhuis se eierboerdery gegroei tot 35 000 hoenders wat 30 000 eiers per dag lê. (Bron: Verskaf)
- Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het gehelp dat Achmad en Wadea Brinkhuis die hoenderboerdery kon uitbrei deur nog henhuise (eierfabrieke/lêbatterye) te bou. (Bron: Verskaf)
- Nabeel Brinkhuis in ՚n radysland by Philippi op die Kaapse Vlakte waar Chamomile Boerdery goed vooruitboer met vernuf en ՚n helpende hand van die Wes-Kaapse Departement van Landbou. (Bron: Verskaf)
Transformasie
“Ons program fokus daarop om die landbousektor te transformeer en te ondersteun met die oog op verhoogde produktiwiteit, wat aktief bydra tot ekonomiese groei, inklusiwiteit en die skep van werk waarop hulle kan trots wees,” het dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van Landbou, onlangs tydens ՚n besoek aan die boerdery gesê. “Ons wil ՚n bemagtigende omgewing skep wat die privaatsektor en ondernemings sal nooi om mense en kapitaal te belê, al drie vlakke van regering sal betrek en strategiese vennootskappe sal skep wat ՚n groter impak het.”
Achmad en Wadea is eindeloos dankbaar vir die ondersteuning wat gehelp het om hulle landbousaak te ontwikkel. “Die Departement het ons gehelp om die bedryf beter te verstaan en om aan te hou produseer ten spyte van uitdagings. Ons is dankbaar dat ons kon voortgaan om werk te verskaf en so ons gemeenskap te help.” Hulle is ook dankbaar vir die ondersteuning van bedryfsorganisasies soos die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging, waarvan Achmad ՚n ruk lank voorsitter was, en al die private instansies wat uitgereik het en hand bygesit het toe die uitdagings oorweldigend was.
“Dankie aan almal wat uitgereik het en hulle ondersteuning gebied het. Deur hierdie tipe vennootskappe kan ons baie meer bereik,” sê Achmad.
Kontakbesonderhede
Kontak Achmad en Wadea by 083-943-1959.
Bronverwysing Van Zyl, P. (2018) New Generation Master Farmers: Vision and Victory. ISBN 978-0-620-78896-0



