By Drotsky gaan dit oor die mense
Terwyl Drotsky hulle 2024-seisoen afsluit kyk hulle terug na ‘n jaar vol hoogtepunte. Hoewel die suksesvolle NAMPO 2024- en NAMPO Kaap 2024-skou deel hiervan uitgemaak het, was dit beslis hulle verhoudings met hulle klante en die boere wat vir die maatskappy die grootste hoogtepunte was.
Die 2024-seisoen was ‘n goeie een en die Drotsky-span kon drie groot projekte in Port Elizabeth en Swaziland afhandel. Hoewel die jaar maar stadig begin het en Drotsky stadig uit die blokke weggespring het, besef hulle dat die landboubedryf nie ‘n 100 m -naelloop is nie maar meer ‘n lewenspad wat mens saam met jou klante stap.
Dit is ‘n maraton en net soos ‘n maraton het ‘n mens baie water en hulp van ander nodig om die pad te voltooi. Daarom sê Drotsky dankie vir elke klant, elke verskaffer, elke persoon en maatskappy wat hulle ondersteun het deur die jaar; die wat vir hulle water aangebied het as dit swaar gegaan het en ook die vir wie hulle water kon uitdeel.
Hulle is dankbaar vir nuwe bande wat gesmee is en ou bande wat hervestig is. Hoewel hulle groot projekte aangepak het, was dit steeds die kleiner projekte, die instapklante en die stories van boere en klante wat vir hulle die jaar lekker gemaak het.
Drotsky se deure is altyd oop vir ‘n vriendelike gesig, ‘n lekker koppie koffie of net inloer. Vir Drotsky is die verhoudings met hulle klante ‘n baie belangrike steunblok vir die waardes waarop hulle hulle maatskappy bou.
Terwyl tegnologie die lewe vergemaklik, steel dit ook soms die persoonlike interaksie tussen ‘n maatskappy en hulle klante. Drotsky glo daaraan om altyd die nuutste tegnologie na die tafel te bring, maar steeds persoonlik by hulle klante betrokke te wees. Hulle hoop daardie deel val nooit weg nie en dat hulle saam met die tegnologie sal groei, maar dat daar altyd ‘n persoonlike ervaring daarmee sal saamloop.
Drotsky sien uit na 2025. Hoewel dit ‘n nuwe jaar gaan wees met nuwe uitdagings, is Drotsky gereed om enigiets aan te pak. Hulle wens vir boere is dat die weer sal saamspeel, dat dit nie ‘n droë feestyd is nie maar dat dit sal reën waar dit nodig is en dat hulle in 2025 weer diens aan al hulle klante kan lewer.
Die masjiene se gehalte sal altyd op die hoë Drotsky-standaard bly en klante kan maar hulle oor op die grond hou vir nuwe masjiene wat by die Drotsky-reeks kan aansluit in 2025.
Die Drotsky span sê dankie aan almal. Dit was ‘n wonderlike 2024. Hulle wens almal ‘n goeie feestyd saam met familie en vriende en ‘n geseënde Kerstyd toe.