Buckridge Bonsmaras se produksieveiling skuif aanlyn – topgehalte genetika op aanbod

Lot 8 SFM 23-15
Die Suid-Afrikaanse beesbedryf bevind hom tans in uitdagende tye, met bek-en-klouseer (BKS) wat onsekerheid en druk op boere plaas. Tog is daar verskeie redes vir optimisme. Slag- en speenkalfpryse is tans baie gunstig, wat ’n sterk fondament vir die bedryf skep. Dit bevestig dat goeie genetika, doelgerigte seleksie en volhoubare boerderypraktyke steeds beloon word, selfs in ’n onsekere klimaat.
Veiling pas aan by uitdagende omstandighede
Weens die huidige BKS-situasie sal Buckridge Bonsmaras se veiling nie meer fisiek met diere op die perseel plaasvind soos oorspronklik beplan is nie. Die veiling sal egter voortgaan in ’n aangepaste formaat, naamlik aanlyn en by ’n aangewese lokaal waar die veilingsprosedures normaal sal verloop, maar sonder enige diere op die perseel. Op 24 Februarie 2026 om 11:00, in samewerking met André Kock en Seun, sal die veilingsfunksie by die Klondike Lodge naby Vryburg, Noordwes, aangebied word. Theuns Visser, die afslaer, sal die verrigtinge op die dag hanteer. Streng biosekuriteitsmaatreëls sal toegepas word om gemoedsrus vir alle betrokkenes te verseker.
Die veiling sal ook aanlyn op SwiftVee se platform aangebied word, wat kopers die opsie bied om van enige plek af aan die verrigtinge deel te neem.
Kopers kan steeds uitsien na ’n topgehalte aanbieding, ondersteun deur deeglike foto- en videomateriaal om vertroue en deursigtigheid te verseker. Frans Seevinck, eienaar van Buckridge Bonsmaras, sowel as Nico Pieterse van Syferfontein Bonsmaras is beskikbaar om kopers kundig te adviseer oor aankope en seleksie. Vooraf gereelde plaasbesoeke kan onder streng biosekuriteitsprotokolle gereël word.
Die Buckridge-span bly positief en maak staat op hul ervaring om suksesvol by uitdagende omstandighede aan te pas, iets wat reeds bewys is gedurende die Covid-19-tydperk.
Uitsonderlike gehalte en veilingaanbod
Frans sê: “Die veiling beloof ’n uitsonderlike aanbod, met genetika wat oor die jare noukeurig opgebou en bewys is.” Ná die kansellasie van die jaarlikse Nasionale Bonsmara-veiling, ook weens BKS, sal vroulike diere wat vir die nasionale veiling voorberei is, nou op hierdie veiling beskikbaar wees, wat die aanbod verder versterk.
Buckridge bied kopers ’n praktiese oplossing: diere wat aangekoop word kan vir ’n billike tydperk op die plaas geakkommodeer word totdat dit veilig na kopers geskuif kan word. Dit bied gemoedsrus en buigsaamheid in ’n moeilike tyd. Die fokus is nie net op uitsonderlike bulle nie; vroulike diere van hoë gehalte bly ook ’n kernaspek van die veiling; diere wat vandag waarde toevoeg en die toekoms van kuddes help bou.
Dit is sommige van die uitsonderlike bul-aanbiedinge op die veiling:
Lot 4: SFM 23-13

SFM 23-13 kom uit die SYF Molopo- embrio-program. ’n Vroegryp bul met uitstekende balans, breedte, diepte en kapasiteit met ’n baie goeie middelstuk, veral goeie sprong van rib. Hy het goed gebalanseerde seleksiewaardes – sowat 100 met ’n uitstekende groeiwaarde van 120. Sy ma was ’n uitstekende “golden oldie”-koei uit die Syferfontein-kudde. Sy vaar is die bekende SYF 17-256 wat reeds diep spore in verskeie kuddes getrap het, onder meer Buckridge.
Lot 9: SFM 23-12

SFM 23-12 is die volbroer van SFM 23-13 uit ons embrio-program. Hy is ’n bul met besonderse kapasiteit, diepte en balans – asook goed gebalanseerde seleksiewaardes.
Lot 1: BF 23-201

BF 23-201 is ’n donkerrooi bul met goeie balans, mooi toplyn en ook stertwortel-aanhegting. Hy is ’n funksioneel korrekte bul met goeie skede en testes. Hierdie myostatin- normale bul het ’n kalwingsgemak van 121, wat hom uiters geskik maak om verse mee te dek. Sy pa is die staatmaker SYF 17-256 en sy ma BF 14-416, ’n besonderse vrugbare koei met ’n tussenkalfperiode (TKP) van 370 oor agt kalwers.
BF 23-17

BF 23-17 is een van die heel mooiste SYF 17-256-seuns wat ons nog geteel het uit die Buckridge-kudde. Hy is ’n vroegryp-bul met uitstekende balans, diepte en kapasiteit. Sy ma, BF 20-196, is ’n dogter van V 15-338 geteel deur Hannes van den Berg – V 15-338 het ook ’n groot impak op die Buckridge-kudde gemaak.
**Hierdie vier bogenoemde bulle is almal seuns van SYF 17-256. SFM 23-13 en SFM 23-12 is volbroers uit die SYF Molopo- embrio-program.
