Categories: NewsPublished On: 23rd May 2016

Brandsiek jakkalse wydverspreid

By 1 min read
248 words

Brandsiekjakkals agterlyf – Foto Dawie Fourie (1)

Sedert die eerste berig oor die moontlikheid van brandsiekte onder jakkalse deur die Roofdierbestuursforum (PMF) uitgestuur is, het daar uit verskeie oorde berigte vanaf boere en jagters die storie aangevul. Verslae, soms met foto’s as illustrasie, is onder andere uit die Karoo (Sutherland, Fraserburg, Brandvlei, Beaufort-Wes, Barkly-Wes), Limpopo (Vaalwater, Alldays), die suide van KZN, Oos-Kaap (Addo, Cradock) en suide van die Vrystaat ontvang. By Alldays is feitlik al die jakkalse wat daar waargeneem en geskiet is, se agterlywe en sterte haarloos en pikswart. By Barkly-Wes is 8 uit 10 van die jakkalse wat daar geskiet is, in ‘n erge staat van brandsiekte, terwyl in ander streke baie jakkalse met brandsiekte waargeneem word.

Tot op datum is daar geen berigte oor brandsiekte onder wildsbokke, mak vee of selfs ander roofdiere soos bakoorvosse en aardwolwe nie. Dit kom dus voor asof die jakkalse hierdie keer die teiken van die brandsiekmyte is. Of die brandsiekte die jakkalse se bevolking ‘n knou gaan gee of nie, sal ons nog moet sien, maar baie boere sal dit natuurlik verwelkom.

Die ander vraag wat aan boere gerig word is rondom hulle waarneming of jakkalse moontlik met gewone honde verbaster is. Daar is wel mense wat so beweer en daar is selfs foto’s wat dit suggereer, maar is dit moontlik? Indien u so iets waarneem, laat weet gerus die PMF-sekretariaat by 041-365-5030 of nwga@nwga.co.za of vir dr Gerhard Verdoorn by nesher@tiscali.co.za of 082-446-8946.

Bron: PMF

Foto: Dawie Fourie

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0