Braaisous vir wors en pap

4 BRAAISOUS VIR WORS EN PAP
Lewer ± 1,5 liter
- 30 ml olie
- 2 groot uie, gekap
- 2 knoffelhuisies, gekneus
- 30 ml droë gemengde kruie
- 410 g (1 blik) tamatiepuree
- 60 g (1 pakkie) beesstert- of bruinuiesoppoeier
- 500 ml kookwater
- 470 g (1 bottel) vrugteblatjang
- 30 ml suiker
- ’n paar druppels Tabascosous
- varsgemaalde swartpeper na smaak
- Verhit die olie en soteer die uie, knoffel en kruie tot die uie sag is.
- Meng die puree en soppoeier en roer dit by die uiemengsel sodat daar geen klonte is nie. Roer die kookwater by en verhit dit tot kookpunt.
- Voeg die blatjang, suiker en Tabascosous by en geur met peper. Laat prut die sous ’n paar minute en voeg nog water by indien die sous te dik is na jou smaak.
VARIASIES
Soteer sampioene of ’n soetrissie saam met die uie.
Vervang die water met suikervrye kola (Tab) vir ’n interessante alternatief.
Voeg 5-10 ml kerriepoeier of 15 ml aangemaakte korrelmosterd by die sous.
Laat die sous nog langer prut tot dit verder ingedamp het en sit dit op hamburgers voor.
WENK!
Enige orige sous kan gevries word.
Uit: Lekker & Vinnig 6: Souse – LAPA samestelling ( bl. 12-13)
