Categories: Dieregesondheid, Vee en WildPublished On: 29th November 2024

Bosluise: Beskerm jou diere teen die bose inval

By 3 min read

mite-2151688_1280

Klein botteltjies (of in hierdie geval lyfies), groot gif. Dít is die definisie van ’n bosluis. Hierdie klein, dors bloedsuiers hou daarvan om op beeste te kuier, en al is hulle klein, kan hulle groot skade aanrig. Nie net veroorsaak hulle pyn en ongemak nie, maar hulle dra siektes oor wat die gesondheid en produksie van beeste drasties kan benadeel. So, kom ons kyk na wat bosluise eintlik doen, en hoe boere hulle bose planne kan fnuik!

Bosluise begin as klein eiers, verander in larwes, nimfe en dan volwassenes.

Watter tipe bosluise kom in Suid-Afrika voor?

In Suid-Afrika vind ons ’n paar groot booswigte in die bosluiswêreld:

Afrika bloubosluis (Rhipicephalus decoloratus): Dié karnallie dra rooiwater oor, ’n siekte wat veroorsaak dat beeste bloedarm, slap en sleg voel.

Pantropiese bloubosluis (Rhipicephalus microplus): Hierdie skelm bosluis dra ook rooiwater, maar hy bring ook galsiekte saam. Dié siekte veroorsaak koors by beeste, laat hulle flou voel en verminder melkproduksie.

Hartwaterbosluis (Amblyomma hebraeum): Sy “hart” is dalk in die regte plek, maar die siekte wat hy dra, laat beeste met neurologiese simptome soos verlamming. Moenie met hierdie een sukkel nie!

Bruinoorbosluis (Rhipicephalus appendiculatus): Hierdie tipe bosluis is bekend vir die berugte ooskuskoors, wat vinnig kan versprei en uiters gevaarlik vir beeste is.

Elke volwasse wyfie kan tot 3 500 eiers lê.

Waarom bosluise die boer se bankrekening laat bloei

Bosluise het nie net die boer se beeste op hulle spyskaart nie, hulle suig ook finansies uit die boer se sak. Beeste verloor bloed en gewig, melk-produksie neem af en vrektes kan voorkom. Daarby moet boere betaal vir behandelings, wat beteken bosluise kos baie geld. Volgens studies het die koste van bosluisbeheer in die 1990’s al miljarde rande beloop, en dit het intussen net erger geword.

Die lewensiklus van bosluise

Bosluise gaan deur ’n siklus voordat hulle volwasse is: hulle begin as klein eiers, verander in larwes, nimfe en dan volwassenes. Elke volwasse wyfie kan tot 3 500 eiers lê! Binne ’n maand kan die bosluisgetalle toenemend groei. As jy nie die bosluissiklus breek nie, kan dit vinnig jou hele plaas oorval!

Sê ‘baai’ vir die bosluis

Nou dat ons weet hoe ’n pyn hierdie bloedsuiers is, hoe kan boere hulle uitknikker?

Bosluise kan slim word en bestand raak teen sekere chemikalieë, so boere moet die behandelings afwissel.

Hier is ’n paar wenke:

Kampbestuur: Deur beeste se beweging tussen kampe te beperk en hulle mooi skoon te maak voor hulle skuif, kan boere die verspreiding van bosluise beheer. Rekordhouding is ook slim, aangesien dit help om te onthou waar en wanneer die bosluispartytjies die meeste gehou word.

  • Seisoenale beheer: Bosluise hou van warmte, so hulle hou hulle somerliggame gereed vir aksie. In warmer maande moet boere dus meer gereeld behandelings toepas om hierdie outjies in toom te hou.
  • Insekgroeireguleerders: Hierdie chemikalieë, soos fluazuron, maak seker dat die bosluise se eksoskelet nie verder ontwikkel nie. Dit keer die larwes en nimfe in hulle spore en hulle kan nie volwasse word nie.
  • Endemiese stabiliteit: Dit klink dalk ingewikkeld, maar dit is eenvoudig ’n manier om kalwers op ’n jong ouderdom aan klein getalle bosluise bloot te stel. So ontwikkel hulle ’n natuurlike weerstand.
  • Chemiese beheer en wisseling: Dipstowwe en ander bosluismiddels is nodig, maar wees versigtig om dit nie te veel te gebruik nie. Bosluise kan slim word en bestand raak teen sekere chemikalieë, so boere moet die behandelings afwissel om die bosluise te “flous”.

n Finale woord aan die slim boere

Bosluisbeheer het nie ’n kitsoplossing nie; dit verg beplanning en geduld. Die goeie nuus? Met die regte program, ’n bietjie skeppende denke en ’n slim benadering, kan boere hierdie klein bloedjies onder beheer hou. Minder bosluise beteken gesonder vee en ’n gelukkiger, welvarender plaas.

  • ProAgri sê dankie aan dr Johann Stadler vir die inligting wat hy verskaf het.

 

 

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0